Van Vaalgras na Duitsland
Jy hoor en sien van ander lande en hoe dinge daar is, maar dis niks in vergelyking met hoe dit werklik is wanneer jy daar is nie, sê Gerson Ruhumba.
Tanja Bause – “My ma het die eerste keer botweg nee gesê toe ek vir haar sê ek is op pad Duitsland toe om daar vir 'n jaar vrywillig maatskaplike werk te gaan doen. Ek moes mooi verduidelik en is toe weg.
“Nog 'n jaar later het ek weer vir haar gesê ek gaan terug, dié keer vir drie jaar om te gaan studeer en weer was my ma se woorde: 'Nee, o nee my kind, wanneer gaan ek jou weer sien en wat gaan jy daar doen?' Ek het gesê ek gaan leer hoe om dit wat ek nou doen beter te kan doen.”
So vertel Gerson Ruhumba (25), 'n boorling van Vaalgras naby Keetmanshoop. Hy is die oudste seun van sewe broers en susters van 'n enkelma. Hy was op Keetmanshoop in die skool, maar het in 2016 nie sy skooljaar deurgekom nie.
“Ek het teruggegaan plaas toe totdat een van my ma's in Windhoek my gekontak en gesê het ek moet Windhoek toe kom. Sy het gesê dit help nie ek sit op die plaas rond en doen niks met my lewe nie; ten minste is daar geleenthede vir my in Windhoek.”
GENADE
Dis hoe Gerson by die Genade Kinderbewaarhuis van Justina Stephanus beland het. Hy het onmiddellik begin help waar hy kan om die kinders te versorg.
Die Genade Kinderbewaarhuis word deur die Duitse Children's Home Namibia-stigting ondersteun. Hulle help minderbevoorregte kinders van Soweto in Katutura waar die kinderhuis geleë is. Hulle help met skoolklere, kos en opleiding. Die organisasie help ook dat die kinders verder opleiding of werk kan kry.
Volgens Barbara Winterfeldt van Children's Home Namibia het die Duitse Rooi Kruisvereniging 'n uitruilprogram waar Duitsers in Namibië en Namibiërs in Duitsland vir 'n jaar lank vrywillig maatskaplike werk doen. Hulle het Gerson vertel van die kans om Duitsland toe te gaan. Hy het vir drie maande by die Goethe Instituut Duitse klasse geneem.
“Ek het ook op YouTube begin leer Duits praat.”
“Ons maak die deur vir die kinders oop, maar hulle moet self die geleentheid aangryp. Ons het twee seuns van Genade gehad vir wie ons graag Duitsland toe wou stuur.
“Die een was Gerson wat 'n jaar lank in 'n dagsorgsentrum vir bejaardes gewerk het en Elvis wat in 'n hospitaal gaan werk het. Beide het die kans benut en beide gaan terug Duitsland toe om verder te gaan leer – Gerson in die gasvryheidsbedryf en Elvis in 'n hospitaal,” het Barbara gesê.
DUITSLAND
Altesame was hulle vier jong Namibiërs wat vir die eerste keer nie net gevlieg het nie, maar oorsee gereis het.
“Hoewel ons opgewonde was, was ons ook baie senuweeagtig. Ons het gedink die Frankfurt-lughawe is Frankfurt, totdat iemand vir ons gesê het nee, julle is nog steeds in die lughawe. Man, daai lughawe is so groot soos Windhoek!”
Volgens hom vorm almal 'n idee van hoe dit buite Namibië lyk vanaf die televisie, flieks, boeke en stories wat mense vertel, maar het hy nooit die hele omvang besef van wat hy gesien en gehoor het nie.
“Duitsland is kompleet die teenoorgestelde van my land. Ek was vir een jaar daar en het net twee maande die son gesien; die res van die tyd het dit gereën. Ek het ook sneeu gesien en op ys geskaats, wat baie cool was.”
Gerson vertel dat hy voordat hy Duitsland toe is slegs drie keer in sy lewe slaai geëet het en elke keer was daar hoender betrokke en 'n soet slaaisous.
“Daar het ek geen vleis geëet nie, net slaai met olie en asyn. Op Kersdag het my vriend se familie vir my 'n rollade gekoop en voorberei net sodat ek vleis kan eet.”
In 2020 het Gerson teruggekom Namibië toe.
“Ek het by 'n skool probeer om my vier vakke wat ek vir my matriek nodig gehad het, te voltooi toe ek die geleentheid kry om by Leo's Garden Restaurant te begin werk. Dit was vir my iets heel nuuts. Ek hou van eet, maar ek het niks van die bedryf geweet nie en hoe langer ek daar gewerk het en hoe meer ek van Leo Kurz geleer het, hoe meer het ek in die gasvryheidsbedryf begin belangstel.”
GASVRYHEID
Leo se broer, Francois Kurz, is die bestuurder van Hotel Hofgut Hohenkarpfen in Duitsland.
Die hotel het vir die afgelope tien jaar 'n program waar hulle Namibiërs in gasvryheid oplei.
Deur die kursus van drie jaar lank is tot dusver reeds 11 Namibiërs opgelei.
“Gerson is nou gekies as die eerste swart man wat aan die program deelneem. Hy is gekies op sy taalvermoë in Duits en sy bereidwilligheid om te leer. Hy sal alles van die bedryf af leer en wanneer hy terugkom, sal hy nie net in enige restaurant, hotel of lodge kan werk nie, maar dit ook bestuur. Hy sal wyne saam met 'n maaltyd kan voorstel, hy sal skemerkelkies kan meng en presies weet wat in die kombuis aangaan.”
Volgens Leo sal hierdie opleiding die wêreld vir Gerson oopmaak.
“Natuurlik sal ons verkies dat hy ná die voltooiing van sy studies terugkom en hier mense verder oplei en die standaard van die gasvryheidsbedryf verhoog, maar as hy byvoorbeeld Australië toe wil gaan om verder te leer, dan kan hy dit doen,” het Leo gesê.
Gerson sê dat hy die eerste keer nie gereed was nie, maar nou is hy reg, nie net vir Duitsland nie maar ook vir die studies en alles wat die wêreld hom kan bied.
SY RAAD
“Niks in die lewe kom maklik nie. Jy moet vir alles werk. Jy moet opstaan en self werk en nie wag dat iemand vir jou sê wanneer om wat te doen nie.
“Jy moet jou eie potensiaal vind en daaraan werk en dan wanneer 'n geleentheid oor jou pad kom, dit met beide hande gryp en gebruik. Jy moet vroeg uitvind wat jy wil doen en dit nastreef, anders mors jy jou tyd.”
As die oudste seun wil Gerson graag aan sy familie en ma teruggee.
“Die ander seuns kyk op na my as die oudste. Ek moet 'n goeie voorbeeld stel. Ek moet hard werk sodat ek eendag vir my ma 'n huis kan gee en vir haar kan sorg. Sy het as enkelma vir ons gesorg deur Nama-rokke te maak en nou is dit my beurt om terug te gee.”
FOTO’s Tanja Bause
Gerson Ruhumba is nou op pad Duitsland toe om gasvryheid te gaan studeer.
Barbara Winterfeldt van Children’s Home Namibia, Gerson Ruhumba en Leo Kurz van Leo’s Garden Restaurant.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie