Van veldplante tot kunsskat
’n Talentvolle Namibiër het met ’n eiesoortige fotokunsprojek die oerkennis oor plantgebruike verewig.
Ronelle Rademeyer - Met haar projek “The Elders Called It Medicine” het die fotograaf en kunstenaar Marita van Rooyen die oeroue veldkennis van die Ju/’Hoansi San- en die Aonin Topnaar-gemeenskap in ’n kunsskat omskep.
Dié jong Namibiër, met ’n meestersgraad in dokumentêre fotografie, het tussen die San-mense by Epukiro en die Topnaars van die Kuiseb gaan woon om hul oerkennis oor plantgebruike en hul medisinale waarde te dokumenteer.
Die projek is deur die Nasionale Raad van Kunste in Namibië geborg.
Deur middel van die bloudruktegniek het sy die foto’s wat sy van die plante geneem het in kunswerke met beskrywings omskep.
Dit is in Februarie by die Omba-galery in Windhoek ten toon gestel.
“Namibië is met ’n groot verskeidenheid van plante met medisinale gebruike geseën. Dit is van die vroegste tye af deur die eerste inwoners van ons land, soos die San en die Topnaars, vir oorlewing gebruik.”
Marita sê kennis hiervan is deur die ouer geslagte na die jonger geslagte oorgedra. Dit is nou verweef met hul tradisies en gebruike en het neerslag gevind in liedere en danse wat aan die plante en diere van die omgewing opgedra is.
“Vandag speel hierdie plante en kruie ondanks modernisering steeds ’n belangrike rol in primêre gesondheidsorg in hierdie gemeenskappe, en ek wou dit met my projek dokumenteer,” vertel sy.
Die gemeenskapslede met wie sy saamgewerk het, kon ook hul eie kunswerke skep. Sy het dít, asook foto’s en selfportrette van hulle, saam met haar kunswerke ten toon gestel.
“Die geld is terug na die gemeenskappe toe en van die kunswerke is selfs deur buitelanders gekoop,” vertel sy.
Marita het in ’n e-posonderhoud meer daarvan vertel.
Jy is eintlik ’n fotograaf. Vertel ons bietjie meer van jouself.
Ek het nooit regtig uitgeblink as kunstenaar nie; my eerste eksperimente met ’n kamera was meestal van my katte. Ek was wel altyd lief vir lees en skryf, en het op skool gereeld aan digkuns- en skryfkompetisies deelgeneem.
Ek wou altyd ’n joernalis wees en ná skool het ek eers internasionale studies aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer, en toe my honneursgraad in joernalistiek aan Rhodes-universiteit voltooi. Hier het ek te doen gekry met fotojoernalistiek, ’n vak wat my toegelaat het om ’n ander kant van storievertelling te verken.
Ná my studies het ek so vyf jaar as reisjoernalis vir die tydskrifte Travel News Namibia en Flamingo gewerk – ’n heerlike ervaring van reis, skryf en fotografie; beslis ’n droompakket!
Maar toe ek eendag ’n advertensie raaklees vir aansoeke vir beurse om in die Verenigde Koninkryk te gaan studeer, het ek die geleentheid aangegryp. Ek is gekies as een van net twee Namibiërs wat daardie jaar die Chevening-beurs gekry het. Dit het my in staat gestel om ’n paar maande later my meestersgraad in dokumentêre fotografie aan die Universiteit van Suid-Wallis te gaan doen. Deur fotografie in al sy vorme het ek ’n liefde ontdek vir ouer tipe eksperimente, toe dié medium nog as stokperdjie deur wetenskaplikes beoefen is.
Die cyanotype of bloudruktegniek – een van die oudste vorme van fotografie – is een van my gunstelinge.
Oor die laaste paar jaar het ek myself geleer om dié tegniek te bemeester en selfs al is dit eintlik ’n eenvoudige proses, leer ek steeds met elke eksperiment.
Hoe het dit gebeur dat jy met hierdie projek begin het?
In 2015 was ek deel van die Tulipamwe-kunstenaarswerkwinkel by Gobabeb en het daar ’n goeie aantal fassinerende ure in die biblioteek deurgebring. Dit is gevul met ’n magdom bronne oor woestynfauna en -flora.
Een van die plaaslike Topnaar-inwoners, Sebedeus Swartbooi, het ons groep kunstenaars op ’n begeleide toer geneem en die medisinale woestynplante vir ons gewys. Ek het toe reeds begin dink aan ’n groter projek om hierdie kennis op ’n kreatiewe manier vas te vang. My grootwordjare op ’n plaas het ook ’n rol gespeel deur die grondslag te lê vir ’n diepgewortelde liefde vir die natuur.
Hoe het jy met die betrokke gemeenskappe in kontak gekom?
Omdat Namibië so divers is in terme van kultuur en etniese groepe, het ek besluit om die projek te begin met van die eerste inwoners van ons land en van die mees gemarginaliseerde groepe - nasate van die Khoe en die San. Om ’n skakel met hulle te vind, was maklik. As lid van die Topnaar-gemeenskap, en met die nodige kennis, was Sebedeus net die regte mens. Die San was bietjie meer van ’n uitdaging en ek het deur heelwat kontakte gegaan voor ek die regte kontakpersoon gevind het.
Hoeveel tyd het jy saam met hulle in die veld bestee?
Ek het ongeveer ’n week by elke groep deurgebring, waarvan twee dae saam met gemeenskapslede in die veld bestee is en nog ’n dag of twee aan die gemeenskapsleiers gewy is. Die res van die tyd het ek navorsing gedoen, of op my eie in die veld rondgestap en plante leer ken.
Jou tyd saam met die San het tot ‘n herontmoeting met ’n ou familiekennis gelei. Vertel vir my van die Chapman-skakel.
In die 1990’s, net nadat ons gesin uit Suid-Afrika na Namibië getrek het, het my pa (die bekroonde skrywer Piet van Rooyen) vir ’n tyd by die San-stigting naby Tsumkwe gewerk. Daar het hy vir Paul Chapman ontmoet, die plaaslike filosoof en jagter, wat ook die hoofkarakter in sy boek Die Spoorsnyer geword het. Toe ek verlede jaar uiteindelik ’n kontakpersoon by die San vind, was dit Frans Chapman, seun van James en Evangelis Chapman van Epukiro, wat familie van Paul is. Dit was ’n goeie begin!
Wat het jy by die San-mense en die Topnaars geleer?
Afgesien van die kennis oor plaaslike medisinale plante en hoe dit is om op die natuur staat te maak vir oorlewing, het ek ook ervaar hoe die moderne samelewing hierdie gemeenskappe ten nouste raak. Ek het vasgestel dat ons eintlik geen benul het van wat buite ons persoonlike grense aangaan nie en dat ons as nasie nog baie het om by mekaar te leer.
Jy het belangrike inligting deur middel van die projek gedokumenteer. Sou jy dit dalk in boekvorm kon vervat?
Ek wil graag die inligting wat ek deur die projek versamel het, wyer beskikbaar maak en iets in boekvorm is deel van die plan. Ek werk egter nog aan die finale vorm.
Wat beplan jy volgende?
Ek hoop om die projek verder te voer en meer gemeenskappe in te sluit. Tans is daar eers ander prioriteite wat aandag moet kry, soos die samevatting van al die inligting wat ek oor die laaste ses maande versamel het.
Kan die publiek nog van die werke by jou koop?
Daar is nog van my werke oor medisinale plante te koop, en ek maak ook enige tyd werke op aanvraag. (Marita se e-posadres is [email protected] en haar selfoonnommer is 081 576 6721.)
KASSIE
!NARA
Die !nara-plant, of botterpit, kom wydverspreid voor en is inheems aan Namibië. Dit is reeds vir duisende jare ’n lewensmiddel van die Khoe en die San.
Dit groei veral in dié gebied van die Namib waar misvlae van die kus af soggens vog oor die droë landskap stoot.
Dit is ’n groot en doringagtige plant wat ’n spanspekagtige vrug voortbring. Die vrug en sy sade is ’n belangrike voedselbron vir die Topnaar-mense. Die naam “!nara” is dan ook verwant aan die woord “!na”, wat genoeg beteken.
Dit dui aan hoe belangrik hierdie plant vir die Topnaars is.
Die botteragtige pitte kan soos amandels in gebak gebruik word, olie word daarvan gemaak, kosmetiese produkte soos lyfroom spuit daaruit voort en die vlesige “vleis” van die vrug word gekook om “hoagaribeb” te maak.
Die !nara is nie ’n vetplant nie, maar is blaarloos met ’n groen stam wat fotosintese moontlik maak.
A. horridus is die enigste lid van die Cucurbitaceae wat by die woestynklimaat van die Namib aangepas is en die gebrek aan blare is een van sy aanpassings.
Die stamme kan meters lank word en is dikwels met sand bedek. Hulle het ’n deursnee met 15 groewe wat langs die stam afloop. Die plant versamel sand daarrondom en vorm só ’n heuweltjie. Net die stingels wat bo die sand uitsteek het dorings. Die wortels kan tot 100 m diep groei en versamel grondwater van ondergrondse riviere soos die Kuisebrivier.
DUIWELSKLOU
Duiwelsklou is ’n genus van plante in die sesamfamilie. Dit is inheems aan Suider-Afrika en het sy naam aan die haakvormige voorkoms van sy vrugte te danke.
Ander name vir die plant sluit in: bobbejaandoring, bobbejaanklou, duiwelsdoring, duiwelshaak, duiwelshaakdoring, duiwelskloubossie, duiwelsklourank, duiwelsnaels, kloudoring, duiwelsduwweltjie, krappe, leeudoring, sanddoring, skerpioendubbeltjie en skerpioenduwweltjie.
Daar is twee spesies en Harpagophytum procumbens word hoofsaaklik in die oostelike en suidoostelike dele van Namibië, Suid-Botswana en die Kalaharistreek van die Noord-Kaap in Suid-Afrika aangetref.
Harpagophytum zeyheri word in die noordelike dele van Namibië en die suide van Angola aangetref.
Die plant het groot, knolagtige penwortels waaruit sekondêre of bergknolle groei. Hierdie knolle bevat harpagosied, wat verskeie medisinale gebruike het. Dit word onder meer gebruik om pyn en koors te verlig en om spysvertering te stimuleer. Dit help ook vir hoë bloeddruk en artritis, dien as aptytwekker, salf vir sere en pitswere, en help met die verligting van pyn tydens swangerskap.
Die houtagtige vrug het kenmerkende opwaartsgekrulde stekels. Die saad lyk soos ’n klou vol dorings.
Duiwelsklou is saam met aalwyne en boegoe die enigste drie inheemse Suider-Afrikaanse plante wat op die amptelike wêreldlys van medisinale plante voorkom.
Bron: Wikipedia

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie