Van waar kom die donker fassinering?
Van waar kom die donker fassinering?

Van waar kom die donker fassinering?

[email protected]
Tanja Bause
Ek kan nie die mensdom se morbiede fassinering met ongelukke, rampe, dooies en beseerdes verstaan nie.

Vat nou weer die petrolwaens wat by Dinsdag se treinongeluk noord van die hoofstad aan die brand geslaan het. Die dik pikswart wolk kon jy van kilometers ver af sien, wat vir enige helderdenkende mens ’n aanduiding behoort te wees om weg te bly. Waarskuwings is uitgestuur dat mense moet wegbly, vanweë die moontlikheid dat die ander drie petrolwaens ook kan ontplof.

Maar nie ons mense nie. Hulle stroom soontoe om te gaan kyk. Talle voertuie het op die Westelike Verbypad gaan stilhou om na die brandende treinwaens in die bosse te gaan kyk. Nie dat jy hulle van die pad af kon sien nie, maar dit het min gepla.

Uit nuuskierigheid is daar gestop en selfs oor die dubbelsnelweg gehardloop. Die verkeersbeamptes het hul hande vol gehad om op en af te ry en mense weg te jaag. Die noodpersoneel was immers besig met die brand en het nie nog tyd om mense wat omgery is te help nie.

Ook ons is gewaarsku, maar het die besluit geneem om ’n paar foto’s te gaan neem; dit is immers ons werk. Toe ons by die ongelukstoneel aankom, het my bek oopgehang met die getalle toeskouers wat enkele meters vanaf die brandende waens gestaan en kyk het; besig om foto’s met hul fone te neem.

Mense het met hul voertuie vol kinders parkeerplek gesoek om vir hul kinders die toneel te wys. Ek was verstom hulle het nie van vooraf geweet hoe die toneel lyk nie. Al wat jy geweet het, is dat daar treinwaens brand of dalk het jy net die swart wolk gesien.

Jy kon daar opgedaag het met jou kinders in tou en op jou heup en daar kon ’n klomp verkoolde lyke rondgelê het. Jy het nie geweet hoe dit daar lyk nie, maar jy besluit om te gaan kyk en sommer ook om jou kinders saam te vat? Wat is fout met jou?

Daar is herhaaldelik gesê as die oorblywende tenkwaens sou ontplof, sal daar nie veel van die skare oorbly nie, maar steeds het mense kom aanry. Dit was nie op ’n hoofpad nie, jy moes fisies van die snelweg afdraai en met ’n smal grondpad tot daar ry, maar dit het niemand gestop nie, want ons is mos nuuskierig en onaantasbaar.

Ek het al baie mense beleef wat by ongelukstonele stop, uitklim en kom kyk wat aangaan. Was jy nie op pad êrens heen nie? Jy kan niks bydra nie en mense wat kan help, is gewoonlik reeds op die toneel. Jy kom kyk en neem foto’s; dit is die samevatting van jou bydrae.

Ek het al beleef hoe mense die kombers wat die noodpersoneel oor ’n lyk gegooi het, optel om te kyk wie daar lê. As hulle hieroor aangevat word, sê hulle hulle wil sien of hulle dalk die persoon ken. Vir wat? Sodat jy eerste die persoon se afsterwe aan die wêreld kan verkondig?

Ook Dinsdag het mense met hul kinders gaan kyk. Besef jy wat jy aan jou kind doen? Jou bloeddors is dalk gestil, maar jou kind sit met die nagmerries.

As dit nie vir my werk was nie, sou ek nooit daaraan dink om by ’n ongelukstoneel te stop nie. Ek weet niks van eerstehulp af nie, so ek het niks daar verloor nie. Ek kan geen positiewe bydrae lewer nie. Ek verstaan ook nie hoekom iemand sou wil stop om na iemand anders se pyn en lyding te gaan kyk nie; om na iemand wat beseer of dood is, te wil staar nie.

Ek het geen idee wat in sulke mense se koppe aangaan nie en ek wil ook nie weet nie. Al wat ek vra, is los tog die kinders by die huis. Dit is regtig nie goed wat hulle behoort te sien nie en jy weet nie noodwendig wanneer jy stop en uitspring presies wat op jou wag nie. So, dink twee keer waaraan jou kind blootstel as jy bloot ’n nuuskierige agie is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!