Van waar, vlieënde Christine?!
Nuwe Afrika-rekord. Nuwe o.20-wêreldrekord. Sewende op die lys van vinnigste 400-vroue ooit. Is enigiets vir haar onmoontlik?
Tielman van Lill – Christine Mboma het opnuut ’n string hoogs indrukwekkende rekords in die 400 meter met ’n verstommende wentyd van 48.54 sekondes Woensdagaand by die 3de Irena Szewinska-gedenkbyeenkoms by die Zdzislaw Kryszkoviak-stadion in Bydgoszcz, Pole, vernietig.
• Die 18-jarige sensasie het met dié tyd die sewende vinnigste senior vrou in die geskiedenis oor die 400 geword en is die eerste o.20-atleet ooit wat die 49-sekondegrens oorsteek.
Sy is nou amptelik vinniger as wat legendes van die sport en Olimpiese kampioene soos die Australiër Cathy Freeman (48.63 in Atlanta, 1996), die Amerikaners Sanya Richards-Ross (48.70 in Athene, 2006) en Allyson Felix (49.26 in Beijing, 2015), of Botswana se wêreldkampioen Amantle Montsho (49.33 in Monaco, 2013) ooit in hul lewens gehardloop het.
• Die senior Afrika-rekord van die Nigeriër, Falilat Ogunkoya (49.10), wat sy 25 jaar gelede (29 Julie 1996) by die Olimpiese Spele in Atlanta opgestel het, staan nou langs die Namibiese vlaggie.
• Sy verbeter haar eie nasionale senior Namibiese en o.20-Afrika-rekords en oortref ook haar o.20-wêreldrekord (49.22) wat sy op 17 April vanjaar in Windhoek behaal het, toe sy nog ’n 17-jarige was.
• Amina Seyni van Niger se byeenkomsrekord (51.11, 12 Junie 2019) sal met Mboma se vertoning ook gou vergete raak.
Haar verstommende vertoning het sy oënskynlik sonder enige druk, senuagtigheid of ontsag vir die opposisie behaal toe sy die res van die veld met ongeveer 20 meter agter haar in die pylvak laat parkeerplek soek het.
• Soek maar die ganse wêreld deur vir ’n vinniger junior óf senior vrou in die 2021-seisoen – daar is niemand.
Sy lig die 2016 Olimpiese kampioen, Shaunae Miller-Uibo van die Bahamas, uit die kussings, wat sedert April met 49.08 die topposisie as die vinnigste vrou vir 2021 was. Derde op die wêreldlys vir die jaar is haar Namibiese oefenmaat Beatrice Masilingi (49.53).
Mboma het op 11 April 2021 in Lusaka die omstrede atleet van Oos-Duitsland, Grit Breuer, se o.20-wêreldrekord van 49.42 (1991 wêreldkampioenskap in Tokio) tot 49.24 verbeter. Ses dae later in Windhoek tydens die nasionale Namibiese senior kampioenskap met 49.22 opgevolg.
Mboma, wat in baan 4 gehardloop het, het nie ’n perfekte wegspring gehad nie, maar het tog vinniger as in haar vorige Europese wedlope versnel en die voorlopers binne die eerste 100 meter begin inhaal. By die 200-merk, met ongeveer 23.3 sekondes op die stophorlosie, het sy reeds onder hulle begin uitseil.
In die pylvak met ’n stewige wind van voor, het sy haar ritme met die naald op topspoed behou en die gaping na ’n geskatte 20 meter tussen haar en die tweede atleet vir ’n welverdiende sege vergroot.
Die vroulike TV-kommentator, wat Mboma as ’n verskynsel beskryf het, se verstomde opmerking terwyl Mboma haar mededingers om die laaste draai agter gelos het, sal nog lank onthou word: “Jy doen dit nie ...! Jy is nie veronderstel om dit aan wêreldklas atlete te doen nie ...! Ons het die Europese kampioen hier!”
Justyna Swiety-Ersetic (28), Europese kampioen van Pole, was tweede in 51.91 gevolg deur Portugal se nasionale kampioen, Catia Azevedo (27), in 52.03.
Mnr. Henk Botha, afrigter van Mboma, het gister aan Republikein gesê: “Ons is op die lughawe op pad terug Rome toe. Baie dankie aan almal vir die boodskappe en gelukwensing. Christine is baie gelukkig, gesond en uitgerus. Ons is nog steeds in die wolke, want ons het oproepe van gelukwensing van oor die wêreld ontvang.”
Mboma het in haar boodskap gesê: “Baie dankie Namibië vir jul liefde en ondersteuning. Ek is baie tevrede met my vertoning en dankbaar en gelukkig om opnuut die wêreldrekord weer te kon breek. Ek het nooit verwag om onder 49 sekondes te hardloop nie.”
Volgende vir Mboma is twee byeenkomste in Frankryk (onderskeidelik Maandag in Nancy en Sondag 11 Julie in Sottosville), voordat sy en haar oefenmaat Masilingi na Namibië terugkeer. Masilingi het die uitnodiging aanvaar om Sondagaand haar debuut in Wêreldatletiek se Diamantliga te maak, in Stockholm, Swede.
• In verwante nuus is die huidige 400-wêreldtitelhouer, Salwa Eid Naser, se skorsing vir die volgende twee jaar deur die wêreldhof vir arbitrasie in sport bekragtig.
Naser, ’n gebore Nigeriër wat nou Bahrein verteenwoordig, spog met 48.14 by die 2019 wêreldkampioenskap in Doha (die derde vinnigste tyd in die geskiedenis). Die 23-jarige naelloper sal egter die Olimpiese Spele in Tokio misloop op grond van die aantal kere wat sy nie vir toetse vir die gebruik van verbode middels opgespoor kon word nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie