Van Wyk verwerp uitslag van Basterverkiesing

Politiek
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die leisels van die Bastergemeenskap is in die hande van mnr. Jacky Britz, nadat hy Saterdag ’n wegholoorwinning teen die ander kandidaat, mnr. Rynault van Wyk, in die verkiesing vir die nuwe Basterkaptein behaal het.

Dit volg nadat Van Wyk se dringende aansoek Vrydag in die hoërhof om die verkiesing uit te stel, onsuksesvol was. Van Wyk het intussen ook in ’n verklaring gesê hy verwerp die uitslag omdat dit volgens hom nie “vry en regverdig” was nie.

Britz het 2 583 stemme op hom verenig, terwyl 523 mense se keuse op Van Wyk geval het. Die uitslag van die verkiesing is Sondagoggend deur me. Lornay Minnaar bekendgemaak, twee dae nadat Van Wyk se aansoek weens ’n gebrek aan dringendheid van die rol geskrap is.

Van Wyk het in sy eedsverklaring gevra die verkiesing moet met minstens drie maande uitgestel word, met ten minste ’n maand vir inspeksie van die kiesersrol. Van Wyk se aansoek was teen die waarnemende kaptein van die Rehoboth-Bastergemeente, mnr. Cyril Pienaar en die verkiesingskomitee.

Van Wyk het ook gevra ’n onafhanklike, geakkrediteerde instelling moet die verkiesings hanteer en dat voldoende tyd gelaat moet word vir ordentlike prosesse vir kiesersregistrasie, verifiëring en opstel van die kiesersrol.

Van Wyk beweer in sy verwerping van die uitslag dit is nie geverifieer, geëvalueer en deur verkiesingsbeamptes teenwoordig onderteken nie. Volgens hom is “talle berigte van ongerymdhede” met die aanlyn stemproses ook onder sy aandag gebring, met stembriefhouers met stembriewe wat ook glo verdwyn het.

Van Wyk beweer sommige van die houers is “oop en ongeseël” by stemlokale gelaat, nadat die verkiesing Saterdag 21:00 gesluit het.

“Ek het geen toesighouers by die Kapteinskantoor gehad nie, wat in die eerste plek nooit versamelpunt D moes wees nie,” sê Van Wyk. Hy het as deel van sy verklaring ook skriftelike verklarings van ongerymdhede deur die verkiesingskomitee en waarnemers aangeheg.

“Ek verwerp dus die verkiesingsuitslag en die voorafgaande verkiesingsproses in sy totaliteit.”

[email protected]


FOTO’s
Trots om Basters te wees. Me. Janet Rhall het dié groepfoto ingestuur voor die verkiesing vir die nuwe Basterkaptein wat Saterdag plaasgevind het. Die verkiesing is deur mnr. Jacky Brits gewen.

Mnr. Jacky Britz het Saterdag 'n wegholoorwinning in die verkiesing vir 'n nuwe Basterkaptein behaal. FOTO BOET MATTHEWS

Mnr. Rynault van Wyk by die stembus. FOTO BOET MATTHEWS

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!