Vandag . . . vandag is diu00e9 dag
Vandag . . . vandag is diu00e9 dag

Vandag . . . vandag is dié dag

Lloyd Zandberg
Voel-voel eers na die kraan. Koud. Steek. Hy vorm ‘n bakkie met sy hande, laat dit vol loop en vee die geel hartseerkristalle uit sy ooghoeke weg. Die yskoue water brand.

‘n Lang dun straal loop soos ‘n klein rivier verby sy neus, en bo-oor die koorsblaar. Dit brand weer, vuur. Dis al ‘n week wat die roos op sy bolip blom.

Hy besef hy het dit weer eens te ver gevat. Ver genoeg dat dit iets beteken. Gisteraand proe hy nog aan sy verhemelte. Die grys smaak van filtersigarette en Skotse vloeistof – ‘n goedkoop vakansie.

Die vars herfsbriesie, wat deur die badkamerventers waai, vang sy nat gesig terwyl hy opkyk in die spieël wat tandepastaspatsels in die regterhoek het. Vandag gaan moeilik wees, dink hy net soos die buurvrou haar motor aanskakel. 07:48. Elke dag.

Gisteraand was weer een van daai aande.

Die soort waartydens Wikus aan die moontlikheid van ‘n ander leefstyl dink – elders waar dit nie droog is nie en korrupsie net in fiksieboeke bestaan.

Dit kom al ‘n geruime tydjie. En hierdie aande bou soos Desesmber-wolke op, maak geraas en laat uiteindelik massas vrae op Wikus se kranium neerstort.

Hy vee die tandepasta aggressief af en spoeg dit uit. Sien ‘n ligpienk streep by die drein afloop. Die whiskey was te veel. Sy tandvleise rou, seer. Hy wonder wat vandag inhou.

Wikus loop verby die hangkas tot in sy kamer, waar Madiba, die gemmerkat lê en wag vir die son. Eenvoudig.

“Wat kyk jy?” vra hy vir Madiba, asof alles sy skuld is.

Madiba doen iets met sy lyf wat net kan beteken hy is nie betrokke nie.

Hy draai sy rug op Madiba, gisteraand en vandag se vrae, en maak sy klerekas oop. Die laaste skoon onderbroek. Swart met ‘n oranje rand. Bear. Gemaklik.

Hy besluit om ‘n liggroen gholfhemp, ‘n uitgewaste denim en ‘n hoed waarop Pepsi staan, aan te trek. Reg vir enige geleentheid – veral, verál vandag.

Terug voor die spieël. Oë wat lyk soos oorryp tamaties. Die oogruppels is soek. Skrik vir die gevoel sodra die druppels sy retina tref. Gooi ruim. Die druppels verander in twee mere en loop oor.

Dit voel weer soos gisteraand, dieselfde nat wat oor sy wange rol.

Wikus is angstig. Hy weet vandag is skynbaar die dag. D-dag. Hoewel hy reeds gisteraand voor Meke sy besluit geneem het.

“Jy kan dit doen, Wikus,” het Meke gesê toe die halfgebrande Pep-kers haar prominente Afrika-wangbene vang. Sy is mooi, dink hy. En slim.

Hy wou reageer, maar die Skotte het sy tong gebreek.

Meke is ‘n ou universiteitsvriendin. Bonkig, amper soos ‘n stoompot gebou. Effe langer. Sy was altyd daar vir Wikus, darem toe die storie met sy ma begin het. Eerste jaar. Lente op die Boland. Nooit enige romanse tussen die twee nie. Jy sal iemand spesiaal kry, Wikus, het Meke altyd gerusstellend aan Wikus verduidelik.

“Ek is anyway te messed up vir jou, Wiekie.”

Wikus loop by die trappe af en sien Madiba soek water. Of kos. Iets. Hy loop tot by Madiba. Diba swaai sy stert. Hy soek lief. Diere weet meer as ons, sê Wikus se ma in sy agterhoof.

Haal katkos uit, maak die waterbakkie vol en gryp een van drie groenappels in die yskas. Hy plaas dit in sy rugsak. Die sitkamer lyk soos ‘n moordtoneel. Leë bottels en antwoorde lê wyd oor die tweedehandse Persiese mat versprei. Halwe sigarette wat vir aandag wag. Dit ruik suur. Klam. Rou.

Madiba sal oukei wees. Hy het in elk geval sonder toestemming geloseer. Instinktief gaan hy oorleef.

Wikus vryf oor sy mond met die agterkant van sy regterhand. Die ring wat aan sy middelvinger sit, krap die koorsblaar oop. Dit seer loop tot op sy ken, bloed.

Hy vloek hard. En kners op sy tande. Dit klink soos ‘n knormoer wat vashaak.

Meke se woorde waai weer deur sy gedagtes. Hy groet vir Madiba en streel ‘n laaste keer oor sy rug. Hy wens hy kan kat praat. Jy kan dit doen, Wikus.

Hy vloek weer. Hierdie keer kras, onder die belt. Geslagsdele.

Wat het ek nodig, dink hy en gryp die belangrikste goed wat hy sien. Paspoort.

Uit by die voordeur, dink aan sy ma. Reg vir wat voorlê. Vandag. Vandag is dié dag.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!