Vanjaar reeds 29 renosters in Namibiu00eb gestroop
Vanjaar reeds 29 renosters in Namibiu00eb gestroop

Vanjaar reeds 29 renosters in Namibië gestroop

Die ministerie het 'n nasionale vergadering oor wit- en swartrenosters onder bewaring op private eiendom se veiligheid gehou.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Altesaam 21 swart- en agt witrenosters is al vanjaar in Namibië vir hul horings afgemaai.

Uit dié 21 swartrenosters is 13 in die Etosha Nasionale Park gestroop en agt onder bewaring op private eiendom.

Wat die agt witrenosters betref, is ses onder bewaring op private eiendom en twee in Etosha gestroop.

Dit is reeds twee meer as die 27 renosters wat in 2017 gestroop is.

Hierdie statistieke is gister knap voor Wêreldrenosterdag, wat jaarliks op 22 September herdenk word, deur die adjunkminister van die omgewing en toerisme, me. Bernadette Jagger, by 'n renostersekuriteitsvergadering in die hoofstad verskaf.

Dit is bygewoon deur eienaars van renosters wat onder bewaring (custodianship) op private eiendom is, asook deur verteenwoordigers van die ministerie, die Namibiese polisie, die Namibiese weermag en die Sentrale Intelligensiediens.

“In die afgelope vyf dae is drie verdagtes by Divundu in die Kavango-Oosstreek in verband met die onwettige besit van drie renosterhorings in hegtenis geneem, asook een verdagte met vyf pare olifanttande by Katima Mulilo,” was Jagger se goeie nuus.

Die renosterbewaringsprogram, wat met vergoeding gepaard gaan, is al in 1993 in Namibië gevestig om Namibië se renosterbevolking te herstel deur private grondeienaars bewaarders van renosters in staatsbesit te maak en voordeel uit ekotoerisme te trek.

“Meer as 500 swartrenosters is nou onder die bewaringsprogram, wat van die Oranje- tot by die Kunenerivier strek. Die aantal witrenosters in private besit was teen 2017 meer as 700 op 69 private eiendomme,” het Jagger gesê.

“Anders as swartrenosters wat in staatsbesit bly, kan witrenosters privaat in Namibië besit word. Die ministerie het egter streng beheer oor onder meer die invoere, uitvoere, bewegings en jag van witrenosters deur sy Konvensie op Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites)-kantoor.”

Jagger het gesê die openbare en private sektor moet saamwerk om die land se wildlewe te beskerm en kort- en langtermyn strategiese maatreëls moet help om wildmisdaad te beveg.



kommer oor risiko's

Dít sluit onder meer mens­like kapasiteit, bewaking, patrollies, opsporing, ondersoek- en intelligensiewerk, misdaadondersoeke, wetlike raamwerke en vervolging, betrokkenheid van die gemeenskap, monitering en databasissteun, asook proaktiewe beplanning en aanpassingsbestuur in.

“Ons is bewus daarvan dat ons renosterbewaarders bekommerd is oor die risiko's van stropery, insluitende hul eie veiligheid, hul werkers se veiligheid en die gebrek aan regeringsmeganismes om meer bystand te verleen en beter vergoeding te bied,” het Jagger gesê.

Sy het ook verwys na die ministerie se honde-eenheid wat verlede week by die Waterberg-teenstropery-opleidingsentrum in die Waterbergplato-park ingehuldig is.

Pas ná dié eenheid se opleiding afgeskop het, het een van die Duitse herdershonde al sy eerste vermeende stroper in Etosha vasgetrek – nog voor 'n renoster gestroop is.

Vyf handwapens, twee gewere en spiese is ook uitgesnuffel.

Jagger het die bewaarders bedank vir hul samewerking, toewyding en opofferings om die land se mees ikoniese spesie te help beskerm.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!