Varkvleisproduksie styg met 57%
Varkvleisproduksie styg met 57%

Varkvleisproduksie styg met 57%

China se sterk vraag na varkvleisinvoere het bestaande uitvoer-ekonomieë ondersteun, wat wêreldwye varkvleismarkte gedryf het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

‘n Styging van 57% in varkvleisproduksie is waargeneem sedert die varkmarkaandeel-bevorderingskema (PMSPS) in 2012 geïmplementeer is.

Die hoeveelheid varke wat in Namibië geslag word, het vanaf 35 910 in 2012 tot 44 885 in 2020 toegeneem. Vanjaar is 36 847 varke net tussen Januarie en Oktober geslag.

“Ten spyte van die wisselvalligheid in pryse en uitdagings met verhoogde voerkoste, het die varksektor stabiel gebly in terme van produksie. Dis duidelik dat die skema die varkbedryf gestabiliseer het,” het die Namibië Landbou-unie (NLU) gesê.

“Namibië moet dienooreenkomstig daarna kyk om meer in die bedryf te belê sodat die sektor sy volle potensiaal kan bereik,” het die NLU gesê en bygevoeg daar moet veral na uitvoere na China gekyk word, waar die vraag sterk is.

China se sterk vraag na varkvleisinvoere het bestaande uitvoer-ekonomieë ondersteun wat wêreldwye varkvleismarkte gedryf het en daartoe gelei het dat die prys vir varkvleis goeie groei tussen middel 2019 en die begin van 2020 getoon het.

Die Rooivleis Abattoirvereniging (RMAA) se pryse asook Namibiese varkvleis se maksimum prys het ‘n opwaartse neiging tussen 2016 en 2017 getoon, alhoewel wêreldwye uitdagings pryse drasties laat daal het.

Namibië se maksimum prys vir varkvleis was so hoog as N$42,42 per kg in Desember 2017, maar dit het in Mei 2018 tot so laag as N$29,38 per kg gedaal. Dit verteenwoordig ‘n verlaging van ongeveer 30,74% in vyf maande.

“Dié verlaging was egter van kort duur omdat die sterk vraag na varkvleis vanuit China pryse ‘n stewige hupstoot gegee het. Weer eens het verbeterde produksie in die Chinese mark asook verhoogde voerkoste daartoe gelei dat die RMAA en Namibiese varkvleis se maksimum prys val, soos gesien in die eerste nege maande van 2021,” het die NLU verduidelik.

Tog bly die gemiddelde maksimum prys vir Namibiese varkvleis in 2021 (Januarie tot Oktober) 12,5% hoër (teen N$37,90 per kg) as in 2020 (Januarie tot Oktober) se prys van N$33,60 per kg.

Die PMSPS se doel is om seker te maak goedkoper invoere beroof nie plaaslike produsente van hul markaandeel nie. Produksiekoste in Namibië is byvoorbeeld veel hoër as in Suid-Afrika, hoofsaaklik as gevolg van makliker toegang tot goedkoper voer in die buurland.

AGTERGROND

Die PMSPS, wat deur die Vleisraad van Namibië toegepas word, moet plaaslike produksie beskerm en keer dat goedkoop produkte nie ingevoer word nie, as deel van beskerming aan ‘n bedryf wat nog maar in sy kinderskoene staan.

Dit sodat die bedryf kan groei en die land kan help om selfvoorsienend in terme van varkprodukte te raak.

Dit behels onder meer dat ‘n beperking op die invoer van vars of gevriesde varkkarkasse bestaan, alle invoerders en produsente by die Vleisraad moes herregistreer en permitte is net aan hulle uitgereik en nie aan diegene wat nie geregistreer is nie.

Produsente, invoerders en verwerkers in die skema moet ‘n drie maande produksie- of invoervereisteskedule asook ‘n prestasieverslag aan die Vleisraad verskaf, terwyl ‘n maksimum prys vir varkvleis ingestel is.

NAVORSING

Die bevinding stem ooreen met ‘n studie wat verlede jaar aanlyn in die International Journal of Science and Research (IJSR) deur dr. Stewart Kaupa van die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) gepubliseer is.

Hiervolgens het varkboere en produsente die ekonomiese voordeel van die varkproduksieskema geniet, terwyl dit gehelp het dat hulle nie weer ‘n “lae seisoen” ervaar het nie en die skema gehelp het om die bedryf te stabiliseer.

Boonop help die maksimum prys dat regverdige pryse aan die produsent betaal word, terwyl hulle beskerming teen goedkoop invoere geniet en al hul produkte verkoop word.

Volgens die studie het produsente ook aangedui die instelling van die PMSPS het hul produksie-kapasiteit verhoog, terwyl dit hul marktoegang en winsgewendheid verbeter het. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!