Varsity-reeks: Enkele Namibiërs stap die pad

Die gesogte en gewilde studentereeks is 'n bewese leerskool.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die afskop van die 2020-weergawe van die FNB Varsity­beker-rugbyreeks in Suid-Afrika sal hopelik ook vir 'n volgende golf van ontwikkelende talent vir die buurland Namibië sorg.

Die Varsitybeker, tussen die top agt universiteitspanne in Suid-Afrika, het die afgelope jare verskeie belowende spelers gehelp brei tot staatmakers wat Namibië op toetsvlak verteenwoordig het.

In laasjaar se Wêreldbeker-groep was daar verskeie spelers wat in studenterugby in die buurland hul vaardighede en gehardheid tot die volgende vlak laat groei het.

Die Pukke van die Noordwes-Universiteit was die gewildste teelaarde vir Namibiërs, met die toerkaptein Johan Deysel (senter), die haker Louis van der Westhuizen, slot Johan Retief, stut Nelius Theron en senter/vleuel Justin Newman wat almal hul skoolgeld daar betaal het.

Die lys sluit ook manne soos Damian Stevens (skrumskakel, Universiteit van die Wes-Kaap), Janco Venter (losvoorspeler vir Maties), AJ de Klerk (stut vir Maties), asook die Universiteit van Johannesburg se Wian Conradie (flank) en PJ Walters (senter) in.

Die Universiteit van Pretoria (Tuks) se eertydse heelagter en vleuel Divan Rossouw het hom uiteindelik nie vir Namibië se 2019 Wêreldbeker-aanslag beskikbaar gestel nie, maar het by die Blou Bulle op Curriebeker- en Superrugby-vlak gewys waartoe hy in staat is.

In ewe groot mate wemel Suid-Afrika se huidige Superrugby-groepe ook van tientalle spelers wat tevore vir universiteitspanne uitgeblink het.



NUWE JAAR

Verlede jaar se Pukke, Nelius Theron en Johan Retief, speel na verneem word nie vanjaar Varsitybeker nie vanweë die studies wat hulle laasjaar opgeskort het as 'n opoffering om vir Namibië in die Wêreldbekertoernooi in Japan te speel.

Theron en Retief is nietemin steeds in die Luiperds se provinsiale oefengroep wat op die SuperSport-reeks voorberei en is dus beide opgewonde oor wat die seisoen vir hulle inhou.

Die jong stut André Rademeyer het hom vanjaar ook aanvanklik in die Maties se oefengroep bevind, maar het hom onttrek om 'n aanbod by die Engelse klub Yorkshire Carnegie te aanvaar. Rademeyer en sy landgenote Darryl de la Harpe en Prince !Gaoseb sou gister uit Windhoek vertrek het om hulle by die gewese nasionale afrigter Phil Davies se klub te gaan aansluit.

Die drietal sal dus in die komende maande in dieselfde liga (Engelse kampioenskap) as die afgestudeerde Janco Venter (Jersey Reds) en Wian Conradie (Doncaster Knights) meeding.

Met Louis van der Westhuizen wat as oudkaptein van die Pukke ook sy studies voltooi het en nou by die Blou Bulle gekontrakteer is, is die getal oorblywende Namibiërs bestem vir Varsity-rugby vir eers redelik uitgedun:

• Die Pukke se enigste huidige Namibiër is Wihan von Wielligh, wat in 2018 Cliven Loubser se skrumskakel vir die Namibiese o.20-span was. Von Wielligh is intussen na die 10-trui verskuif en het hom in sy nuwe posisie ingegrawe, hoewel hy na verneem word nie in die Pukke se openingswedstryd vandag teen Tuks betrokke is nie.

Von Wielligh (80 kg, 1.68 meter) se studierigting is sielkunde en arbeidsbetrekkinge. Hy het onder Phil Davies net 'n enkele toetsverskyning gemaak, toe hy vir die laaste drie minute van die November 2018-toets teen Spanje in Madrid opgestuur is.

• Pieter (PW) Steenkamp is vanaand die losskakel in die opdrafspan vir die Universiteit van Johannesburg se tuiswedstryd teen die Ikeys.

Steenkamp (22) was gewis een van die mees ongelukkige spelers om verlede jaar vir die Wêreldbeker-groep na Japan oor die hoof gesien te word. Hy het vroeg in 2019 ook sy kanse by UJ laat vaar om die Windhoek Draught Welwitschias met 'n paar stewige vertonings in die Super­Sport-reeks te verteenwoordig, maar is nou terug in die Goudstad.

Steenkamp (86 kg, 1.77 m) is 'n student in vervoer en verskaffingsbestuur. Hy het tot dusver reeds agt toetsverskynings vir Namibië gemaak.

• Robert Izaks is 'n agtsteman wat reeds in vorige seisoene Varsitybeker-rugby vir die Nelson Mandela Universiteit gespeel het. Hy is steeds in die Madibaz se oefengroep.

• By die Pukke was die heelagter André van der Berg tot in Desember nog in die oefengroep, voordat hy 'n besering opgedoen het wat hom glo vir 'n paar maande op die kantlyn kan hou. Van der Berg het tevore die truie van Windhoek Hoërskool, Namibië onder 20 en die Luiperds se junior spanne gedra.

• Vandag se bepalings:

Tuks-stadion: UP-Tuks tn NWU-Pukke (17:15, SuperSport 1)

UWK-sportstadion: UWK tn Wits (19:00)

UJ-stadion: UJ tn UCT Ikeys (19:00)

Danie Craven-stadion: Maties tn Shimlas (19:15, SuperSport 1)



OORSEE

Twee staatmakers van die FNB Universiteit van Namibië se kampioenspanne van die onlangse jare studeer tans in Amerika.

Die flank Freddy Puriza en senter Milaan van Wyk het glo die afgelope naweek beide uitgeblink toe die New Mexico Highlands University Vatos 'n oorwinning met 54-18 teen die Universiteit van Arizona behaal het. Volgens die span se Facebook-inskrywing is Puriza as die beste voorspeler van die wedstryd bekroon en Van Wyk was die algehele speler van die wedstryd.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!