Vasvatplan plaas Meatco op herstelpad
Vasvatplan plaas Meatco op herstelpad

Vasvatplan plaas Meatco op herstelpad

Indien die vleisverwerker produsente se vertroue só kan herstel dat hy genoegsame deurset van vee het, kan hy tot drie keer méér buitelandse valuta vir Namibië verdien.
Elvira Hattingh
Verdana" >

Elvira Hattingh - Deur middel van kostebesnoeiing, asook die herstrukturering van personeel, kon Meatco die afgelope maande reeds sowat N$70 miljoen spaar.

Daarbenewens het die vleisverwerker ook op beter deurset deur hul abattoir gefokus en die verbetering van hul kontantvloeiprobleem.

Mnr. Jannie Breytenbach het tydens die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) se kongres Dinsdag gesê sonder die omkeerstrategie wat in Februarie vanjaar goedgekeur is, sou Meatco voorts moontlik ‘n verlies van N$180 miljoen gely het.

Breytenbach is in Februarie as die waarnemende uitvoerende hoof aangestel ná Meatco en adv. Vekuii Rukoro, sy voorganger, se paaie ná 'n skikkingsooreenkoms geskei het.

Tydens die kongres het hy terugvoering oor Meatco se omkeerstrategie aan vleisprodusente gegee.

“Die afgelope maande was Meatco se fokus om onder baie moeilike omstandighede ‘n deurset deur die abattoir te verseker. ‘n Groot aantal diere is na Suid-Afrika uitgevoer en die plaaslike mark was uiters mededingend,” het Breytenbach gesê.

Om meer diere te bekom, het Meatco daarop gefokus om onder meer mededingender pryse aan boere te betaal en hul slagos-speenkalf-verhouding te verbeter.

Sedert Maart is die produsenteprys gelig sodat dit met Suid-Afrikaanse pryse kan meeding.

“Vir elke N$1 wat ingekom het, betaal ons 53,2% aan produsente uit. Altesaam N$749 miljoen is sedertdien aan produsente uitbetaal.

“Aanvanklik was ons gelukkig as ons 50 000 beeste per jaar vir verslagting gekry het, maar nou blyk dit ons gaan die jaar moontlik op 70 000 afsluit,” het Breytenbach gesê.

Breytenbach het die boekjare 2016-’17 en 2017-’18 met mekaar vergelyk, waarvolgens Meatco se totale omset van N$1,6 miljard na N$1,4 miljard gedaal het, terwyl die jongste boekjaar ‘n verlies van N$51,2 miljoen getoon het.

“Verlede jaar het ons egter N$1,1 miljard, of 84%, uit buitelandse verkope gemaak en die land ingebring. Dit wys weer eens Meatco is ‘n instrument om buitelandse valuta vir die land te verdien, en met die regte deurset kan ons dit verdubbel of verdriedubbel,” het Breytenbach gesê.

ANDER STAPPE

Hy het gewys hoe Meatco se doeltreffendheid verbeter is deur bemarking te optimaliseer, terwyl ernstige kontantvloeiprobleme die hoof gebied moes word. Hy het gesê hulle het tans net sowat 704 personeellede, vergeleke met 989 in die 2016-’17 boekjaar.

“Aan die begin van die jaar was die banke baie bekommerd oor Meatco en moes ons ‘n sinvolle besigheidsplan voorlê,” het Breytenbach gesê.

Hy het ook gewys hoe Meatco tans daaraan werk om weer verhoudings en vertroue onder belangegroepe te herstel.

Oor hul betrokkenheid in noordelike kommunale gebiede, het Breytenbach gesê hoewel hulle hul kundigheid vir onder meer die bou van ‘n voerkraal en die bestuur van abattoirs daar aanbied, sal niks hiervan vir Meatco se rekening wees nie.

Hy het ook verwys na die vleisverwerker se mobiele slageenhede in die kommunale gebiede wat oor die afgelope twee jaar altesaam 2 396 beeste van 150 boere geslag het, waarvoor sowat N$15,6 miljoen betaal is. Meatco het ook 296 lewende beeste by 16 boere gekoop, waarvoor nog sowat N$1,8 miljoen betaal is.

Breytenbach het gesê op 26 Oktober sal Meatco ‘n spesiale ledevergadering hou om eerstens terugvoering te gee oor resolusies wat tydens hul jaarvergadering geneem is, asook om iemand te nomineer wat kommersiële boere op die Meatco-raad sal verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!