VBS: Net 20c uit R1 straks gered
VBS: Net 20c uit R1 straks gered

VBS: Net 20c uit R1 straks gered

Motau se verslag beveel aan die bank moet ontbind word en die Omsigtigheidsowerheid het ’n aansoek om likwidasie gebring.
Francois Williams – Net 20c tot 30c uit elke rand wat verlore is, sal straks gered kan word uit VBS Mutual Bank.

Só het Kuben Naidoo, hoof van die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid, gesê in ’n oorsig van die verslag van adv. Terry Motau oor die bedrog by VBS.

Hy het gepraat voor die parlement se staande komitee oor finansies.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) sal as krediteur van VBS waarskynlik die meeste van sy geld in VBS verloor, volgens Naidoo.

’n Interne ondersoek of die Reserwebank die probleme by VBS reg behartig het en of daar foute is wat reggestel moet word, kan binnekort aangekondig word deur Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Naidoo Woensdag gesê.

Motau se verslag beveel aan VBS moet ontbind word en die Omsigtigheidsowerheid het ’n aansoek om VBS se likwidasie gebring. Die ANC en EFF wil hê die bank moet gered word.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag in die parlement die wens uitgespreek dat VBS, of ’n bank soos VBS, uit die as herrys. Dit moet ’n bank wees wat tot voordeel van armes optree.

Naidoo verduidelik VBS is bankrot en die wet oor onderlinge banke verplig die Omsigtigheidsowerheid om vir die likwidasie van die bank aansoek te doen as bevind word ’n bank is insolvent.

Die likwidasie-aansoek sal op 13 November aangehoor word en enigiemand kan daarteen beswaar maak.

Enigiemand wat die bank wil laat herleef, moet vir ’n nuwe banklisensie aansoek doen, en kan selfs dieselfde naam gebruik. Dit sal goedkoper wees as om VBS soos hy nou daar uitsien, te probeer red, het Naidoo gesê.

Hy het mediaberigte ontken dat die Reserwebank al in 2016 van VBS se bedrog geweet het, maar niks gedoen het nie.

Volgens Naidoo het die Reserwebank wel opgetree in reaksie op bewerings van 2016 teen Robert Madzonga, hoof van Vele Investments, hoofaandeelhouer van VBS, wat as bedryfshoof van VBS waargeneem het.

Mbuyiseni Ndlozi, hoofsweep van die EFF, het gevra waarom sekere name genoem word in Motau se verslag en ander nié, terwyl onderhoude met sekere mense gevoer is maar nie met ander nie.

Hy wou weet hoekom die Reserwebank so haastig is om VBS te likwideer, terwyl in vorige gevalle – soos met African Bank – eers probeer is om die bank te red.

Yunus Carrim, voorsitter van die komitee, het gesê die noodsaak om die bankbedryf te transformeer, verplig die Reserwebank om VBS eerder te probeer red.

Naidoo erken VBS se ineenstorting is ’n terugslag vir transformasie, maar die regsraamwerk van die Reserwebank is om deposante te beskerm. Dit laat banke toe om te misluk.

Hy het beklemtoon VBS is ’n onderlinge bank wat aan ligter regulering onderworpe is as handelsbanke.

Oor die rangorde by likwidasie sal die aandeelhouers die meeste verloor, daarna die krediteure en dan deposante. Die Reserwebank waarborg gewone deposante se geld tot R100 000, maar nie die geld van mense met meer geld in die bank of die munisipaliteite of maatskappye wat by die bank belê het nie.

Geen belangebotsing

Carrim, wat ook lid is van die Suid-Afrikaanse Kommmunisteparty (SAKP), het ontken die SAKP het R3 miljoen van VBS en Vele Investments ontvang, en hy ontken enige belangebotsings wanneer hy voorsitter is van die komitee waarop VBS-kwessies bespreek word.

Hy het Woensdag geantwoord op ’n brief van Floyd Shivambu, EFF-lid van die komitee, waarin hy hom uitvra oor die moontlike belangebotsing.

Shivambu word self betrek by VBS, want sy broer Brian het glo geld van VBS ontvang. Shivambu was nie Woensdag by die vergadering nie, maar die EFF is verteenwoordig deur Ndlozi. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!