VBS-plundering: 'Cyril het geweet'
VBS-plundering: 'Cyril het geweet'

VBS-plundering: 'Cyril het geweet'

Sipho Masondo, Ngwako Modjadji en Abram Mashego – Pres. Cyril Ramaphosa het sedert vroeg verlede jaar geweet van die wydverspreide plundering by VBS Mutual Bank, maar het glo niks daaraan gedoen nie.

City Press, susterskoerant van Rapport, verneem by bronne na aan 'n aandeelhouer in VBS dat dié aandeelhouer op 'n vergadering met Ramaphosa by hom gepleit het om in te gryp.

'n Bron sê: “In die vergadering het Cyril glo ernstige kommer oor VBS uitgespreek. Hy het belowe om iets daaraan te doen, maar het nie.”

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het gister gesê hulle weet nie van so 'n vergadering nie.

Die aandeelhouer het al in 2016 die fluitjie begin blaas – dieselfde jaar wat oudpres. Jacob Zuma onder omstrede omstandighede 'n lening van R7,8 miljoen by dié bank gekry het om sy Nkandla-skuld te betaal.



OM HULP AANGEKLOP

City Press verneem verder dat die fluitjieblaser al in Junie 2016, maande voor Zuma se lening en die vergadering met Ramaphosa, by die Reserwebank en die Raad op Finansiële Dienste (nou bekend as die FSCA) aangeklop het.

Die fluitjieblaser het ook later die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), 'n groot aandeelhouer in VBS, gewaarsku.

Dit blyk nou dat die OBK se twee benoemde direkteure van VBS glo elk miljoene rande gekry het om stil te bly oor die chaos by die bank. So ook KPMG se senior amptenare, wat as eksterne ouditeure opgetree het.

“As hulle vroeër gereageer het, sou hierdie ouens nie soveel geld kon steel nie,” sê die bron.

Adv. Terry Motau SC en Werksmans het verlede week 'n politieke bom laat bars oor die sowat R2 miljard van hoofsaaklik belastinggeld wat by die bank gestroop is.

Die belastinggeld is van 15 munisipaliteite, wat in sommige gevalle meer as hul hele bedryfsbegroting vir 'n jaar by VBS belê het in ruil vir gunste en kontant.

Toe die munisipaliteite hul geld wou onttrek in opdrag van die tesourie, het die bank in duie gestort.

Die ANC en EFF word sover sterk by die skandaal betrek.



DRINGEND VERGADER

Die regerende party se topses het 'n dringende vergadering met die leierskap in Limpopo belê. Danny Msiza, ANC-tesourier in Limpopo, en Florence Radzilani, adjunkvoorsitter in die provinsie, word in Motau se verslag uitgewys as die “agente” wat geld gekry het om deposito's van staatsinstellings te reël.

Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal, het gesê hulle het die Motau-verslag aan die party se integriteitskommissie oorhandig vir ondersoek.

Luidens die verslag was Msiza die “ringkop” van die agente en Radzilani het glo gehuil omdat sy te min omkoopgeld gekry het in ruil vir deposito's van die Vhembe-distriksmunisipaliteit, waar sy burgemeester is.

Die EFF, een van VBS se grootste kampvegters wat by herhaling gesê het daar is 'n “komplot” teen die bank omdat hulle swart is, het gister skuiling gesoek van die skrapnel.

Floyd Shivambu, EFF-adjunkleier, het in 'n verklaring ontken dat hy R10 miljoen uit VBS se bankrekening gekry het.

Floyd se broer Brian, wat ook in EFF-strukture gedien het, is in Motau se verslag genoem weens R16 miljoen wat hy van VBS gekry het.

Sy verduideliking is dat hy net sy broer Floyd “gehelp het waar (hy) kon”.

Intussen het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) planne om die verdagtes se bates te bevries.

City Press verneem dat die batebeslagleggingseenheid ure ná Motau se verslag ses senior amptenare van die eenheid toegewys het aan die saak. Die handelsmisdaadeenheid het ook reeds vyf aanklaers hieraan toegewys.



 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-01-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 29° Rundu: 20° | 27° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 20° | 25° Otjiwarongo: 21° | 29° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 22° | 31° Gobabis: 22° | 29° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 16° | 31° Ariamsvlei: 22° | 39° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 16° | 27° Mbabane: 20° | 29° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 19° | 23° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 22° | 31° Cape Town: 19° | 23° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 25° Harare: 16° | 24° #REF! #REF!