VBS soos SME, of nie?
VBS soos SME, of nie?

VBS soos SME, of nie?

Catherine Sasman
Dit is verstommend om te dink die Armani-gesteweldes wat die Suid-Afrikaanse en Namibiese banke beroof het, kon dink hulle sou skotvry daarvan afkom.

Weet hulle nie hierdie obskure voorreg is net vir sekere mense bedoel nie?

In die geval van die VBS-skandaal word dit nou duidelik afbetalings is aan politieke figure gemaak. Dit is seker hoekom die bankrowers so ewe ongeërg en onbeskaamd hul gesteelde leefstyle ten toon gestel het.

Maar kyk bietjie na die verdoemende VBS-verslag wat nou uit is en waaroor almal praat. Dié manne – hoofsaaklik – het aangegaan asof daar geen môre is nie, want dit het tog té maklik en té lekker gegaan.

Dink bietjie aan 'n paar dinge wat agter die skerms aangegaan het.

Terwyl die bankrooftog hoogty vier, het die groot kokkedoor en sleutel-verleier, voorsitter Tshifhiwa Matodzi, in 2017 gevoel hy kan doen met 'n bonus nadat hy en sy makkers korrupte munisipale leiers geflous – en omgekoop – het om geld in VBS te stort.

In Mei 2017 gee Matodzi die bevel dat hy 'n N$500 000 “bonus” wil hê. Dié kry hy sommer sonder versuim, maar dit was skynbaar nie genoeg nie, want in Oktober dieselfde jaar soek die man wéér 'n “bonus”; dié keer 'n koel N$10 miljoen. Hy kry dit sonder enige verset, maar weer later, in Desember, wil hy nóg hê. Dié keer kry hy toe weer N$500 000.

Ander “bonusse” is toe ook in Oktober op Matodzi se aandrang in verskeie rekeninge aan ander medepligtiges inbetaal: N$18 miljoen hier, N$15 miljoen daar, en N$5 miljoen aan die ander kant.

Frontmaatskappye van direkteure bietjie laer op die voedselketting het so N$7,6 miljoen of wat op 'n slag ontvang, glo vir die stilswye van diegene wat met die waarheid kon uitkom.

Dan was daar glo “lenings” wat uitgegee is aan “kliënte” sonder die nodige omsigtigheidsondersoeke: 'n N$100 miljoen hier, 'n N$250 miljoen daar, en so gaan dit aan.

Een wat vir 'n kort rukkie as die hoofbedryfsbeampte by VBS gewerk het, het erken hy het aanvanklik 'n maandelikse salaris van N$300 000 gekry!

Dít was sommer vinnig “verbeter” na N$400 000 per maand ná belasting, en nog 'n rukkie later tot nog sowat N$500 000 per maand ná belasting.

Toe hy kort daarná die pos as uitvoerende hoof oorneem, het hy 'n koel N$5 miljoen ná belasting met die ondertekening van sy nuwe werkskontrak gekry.

En toe hy vir 'n huislening by 'n ánder bank aansoek doen, sê hy toe hy kry 'n maandelikse salaris van N$400 000 plus 'n reistoelaag van N$100 000.

Toe die menere uitgevang word nadat hulle bykans N$2 miljard so gesteel, onderverdeel en uitgegee het, raak hul verskonings heel komies.

Hulle verduidelik heel nonchalant dat die geldjies wat hulle geskep het, slegs 'n “meevaller” of 'n “geluk-bonanza'tjie” vir hul goeie dienste en harde werk was.

Van hulle het egter ewe ridderlik erken hulle het eintlik “niks gedoen” vir hierdie bonanza's nie, maar niemand voel eintlik persoonlik verantwoordelik nie.

Een van die nie-uitvoerende direkteure beskryf dit só: “Ek het aanhou vrae vra, soos 'wat is dié?'. Die versekering wat ek gekry het was: 'Moenie worrie nie, dit is niks nie. Waarmee ons hier besig is, is legit!”

Terwyl die legkaart van die N$200 miljoen bankrooftog op die SME Bank hier nog stuk-stuk aanmekaar gesit word, moet ek saamstem met 'n baie insiggewende SMS-boodskap wat min of meer só lui: “Hoekom is ons reaksie hier so flou in vergelyking met die VBS-rooftog? As jy die hoeveelheid geld per BBP vergelyk, is dit eintlik twee keer soveel as wat hier gesteel is.”

Namibiërs, ons moet seker begin wakker slaap, of hoe?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!