Veebemarking bereik laagtepunt

Die bemarking van vee het soos verwag skerp afgeneem terwyl kuddes herbou word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Terwyl veeprodusente tans daarop fokus om hul kuddegetalle ná ‘n rampspoedige droogte op te bou, toon die Vleisraad van Namibië se syfers ‘n sterk afname in die bemarking van beide beeste en skape.

Beesbemarking het tussen 1 Januarie en einde Augustus vanjaar met 31% afgeneem tenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar terwyl produsentepryse onderskeidelik met 2% vir slagbeeste en 39% vir speenkalwers gestyg het.

Terselfdertyd het skaapbemarking oor dié tydperk met 56% gedaal, terwyl die produsentepryse ook met 20% verbeter het.

Die Vleisraad van Namibië het in sy nuusbrief van 9 Oktober gesê terwyl skaapbemarking ‘n historiese laagtepunt bereik het, wat aan onder meer die droogte, beleidsonsekerhede asook roofdiere toegeskryf word, het die bemarking van beeste ook in die hek geduik.

Die uitvoere van speenkalwers, wat sowat 63% van die totale markaandeel van die beesbedryf uitmaak, het in die agt maande met 49% gedaal.

Die Vleisraad meen dit is as gevolg van ‘n kleiner beskikbaarheid van speenkalwers tesame met ‘n groter vraag vanaf kommersiële produsente in die slagbedryf.

Terselfdertyd, sê die Vleisraad, kan speenkalfuitvoere eerder vir die toekoms aangemoedig word as die huidige goeie veilingpryse vir speenkalwers in die 200 tot 250 kg-gewigsklas met die B2-slagprys vergelyk word.

Wat skaapbemarking betref, het uitvoere met 52% gedaal. Uitvoere se markaandeel in die totale skaapbedryf beloop sowat 65%.

“In totaal is net 270 000 skape in die tydperk bemark,” het die Vleisraad gesê. “Dit is interessant dat die prysverskil in abattoirs in Namibië en die Noord-Kaap steeds méér as N$5 is, ten spyte daarvan dat ‘n vrye bemarkingsomgewing bestaan."

Die totale bemarking van alle kleinvee, wat bokke insluit, het in dié tydperk met 50% gedaal ondanks ‘n gemiddelde prys van N$34 per kg.

HEROPBOU

“Produsente verkeer tans in ‘n kudde-heropbouingsfase ná die droogtes, wat beteken daar is min vee vir bemarking in 2020 beskikbaar,” het me. Bertha Ijambo, landbouekonoom by die Namibië Landbou-unie (NLU), gesê.

Sy het op 21 Oktober tydens die Ekonomiese Vereniging van Namibië se landboukonferensie gepraat oor hoe produktiwiteit asook winsgewendheid in die beesvleissektor verbeter kan word.

Die tema van die konferensie was die maksimalisering van landboupotensiaal vir Namibië se ontwikkeling.

Ijambo sê die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) het in Februarie ‘n opname gedoen om vas te stel hoe groot die nasionale kudde ná die afgelope rampdroogtejare nog is.

Volgens die respondente het hul kuddes sedert Desember 2012 halveer. “Hulle kuddes het met 49,41% gekrimp; met ‘n groter inkrimping in die tradisionele osproduksiegebiede,” het sy gesê.

“Ons verwag dat die speenkalfmark vinniger as die slagbeesbedryf sal herstel, vanweë die feit dat ‘n mens speenkalwers in ‘n kwessie van sewe tot agt maande kan produseer.

Ijambo sê ongeag daarvan dat die speenkalfbedryf beter pryse bied en produsente tans geldelike druk beleef, kan die waardeketting vir die uitvoer van beesvleis speenkalfprodusente oortuig om hulle jong diere tot osse uit te groei. “Dit is mits produsente sien dat die prys vir slagbeeste oor twee jaar van nou af die moeite werd gaan wees om voor te wag.”

“Wat sê ons dus? Namibië het die vermoë om sy veeproduksie te verdubbel, maar ons moet onthou dat groei op plaasvlak plaasvind en dat dit net sal gebeur as beesboerderye winsgewend is.

“Ook moet die doeltreffendheid van die uitvoerwaardeketting verbeter word deur koste te besnoei. Mededinging en balans tussen die onderskeie beeswaardekettings moet toegelaat word en daar moet in die herstel van weiding belê word, wat die bestokkingsyfer asook produktiwiteit sal verbeter.

“Verder is langtermyn beleidsekerheid nodig vir die herstel en herbelegging in primêre produksie en die dieregesondheidstatus moet onderhou word aangesien die land nie winsgewende internasionale markte daarsonder kan betree nie,” het Ijambo gesê.

SPEENKALWERS

“Oor die afgelope agt jaar het die NLU die winsgewendheid van beide die speenkalf- en die osproduksiestelsel uitgewerk en bygehou.

“Oor die jare het ons gesien dat die winsgewindheid of opbrengs op belegging in die sektor 1% tot 2% is. Ook het data gewys dat die speenkalfproduksiestelsel meer winsgewend is,” het sy gesê.

Ijambo sê die winsgewendheid van ‘n osproduksiestelsel is afhanklik van die verhouding tussen die prys vir speenkalwers en slagpryse, omdat osprodusente speenkalwers koop en laat uitgroei tot op slagouderdom.

Speenkalfpryse is oor die langtermyn gemiddeld méér as 63% van die slagprys. Sy sê van die faktore wat speenkalfproduksie meer winsgewend maak, is omdat ‘n speenkalf vir ‘n korter tydperk op die plaas gehou hoef te word voor dit verkoop word, terwyl osse veel langer aangehou moet word, wat koste verhoog.

Sy sê die NLU se model neem egter nie verliese as gevolg van die droogte in ag nie.

Sy het beklemtoon dat die land se onderskeie waardekettings – uitvoerabbatoirs, plaaslike abbatoirs asook die speenkalfmark – almal nodig is omdat dit goed is vir kompetisie en help dat produsente die beste pryse kan verdien.

AGTERGROND

Ijambo het verder daarop gewys dat die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se 2018-sensus toon die landbousektor is steeds die grootste verskaffer van werksgeleenthede in die land, met veral die beesbedryf wat die subsektor vir lewendhawe domineer.

Dit het in 2019 ‘n geraamde produksiewaarde van sowat N$3,3 miljard gehad, het Ijambo gesê.

Volgens haar dra beesprodusente veral by tot die ekonomieë van landelike gebiede en gemeenskappe, en boonop voldoen hulle aan die beste produksiestandaarde wat Namibië in staat stel om topnismarkte wêreldwyd te betree.

“Dit is noodsaaklik om ‘n gesonde, produktiewe beessektor te hê omdat dit roumateriaal skep waartoe waarde gevoeg kan word, die sektor se bydra tot die BBP verhoog en meer werksgeleenthede skep, terwyl dit ook met die herstel van die ekonomie help,” het sy verduidelik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!