Veediewe daag met lorrie op
Veediewe daag met lorrie op

Veediewe daag met lorrie op

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Veediewe het verlede week met twee lorries op ’n plaas in die Omahekestreek opgedaag en 23 speenkalwers gesteel, terwyl die plaaseienaar vir drie dae weg van sy plaas was.

Boonop het hulle die kameras wat op die plaas Mundtsfarm geïnstalleer is, sorgvuldig vermy, het die eienaar, mnr. Christie Grobbelaar gister aan Republikein vertel. Hy sê die waarde van die speenkalwers is sowat N$200 000.

Hy vermoed die veediewe het eerstehandse inligting van sy doen en late gehad. Sy plaas is boonop nie ver van dié van mnr. Ockert Steyn, waar onlangs ook helder oordag dragtige verse op ‘n lorrie gelaai en gesteel is nie.

Volgens ‘n polisieverslag moes die diewe tussen Dinsdag 29 Junie en Donderdag 1 Julie met twee viertonlorries by Mundtsfarm opgedaag het. Die gesteelde speenkalwers, wat gemiddeld sowat 250 kg weeg en beide verse en tollies insluit, bestaan uit opregte Santa-beeste, asook Brahmaan- en Simmentaler-kruisings.

Elke bees het brandmerke, is onthoring en op die NamLits-stelsel geregistreer. Party het die letter “C” op hul regterwang, terwyl ‘n vierkantige vorm uit sommige se oorpunt gesny is, lui die verslag.

Grobbelaar sê hy woon sowat 50 km van Witvlei af, waar veediefstal ‘n groot probleem is. Hy vermoed teenmisdaadgroepe maak dit te “warm” vir die boewe in dié gebied en dat hulle nou verder uitwyk.

Hy reken egter nie die diewe wat by Witvlei steel, is verantwoordelik vir die diefstal van sy speenkalwers nie. Hy meen die veediewe by Witvlei beskik heel waarskynlik nie oor vragmotors nie.

Grobbelaar is ’n lid van die Nossob Misdaadvoorkomingsforum (NCPF). Dié teenmisdaadforum se voorsitter, mnr. Jürgen Matthaei, sê dit is duidelik die veediefstal gaan nie meer om hongerte nie, maar dit is ‘n geldmaakstorie. Die vermoede is dat plaaslike “sakemanne” agter die stelery sit en gemeenskapslede vir die persoon werk.

Matthaei sê die diefstal in die NCPF se gebied het die afgelope week-en-‘n-half toegeneem. Hy stem saam met Grobbelaar die speenkalfdiewe moes eerstehandse inligting gehad het.

Matthaei het tevore aan Republikein gesê in 11 maande in 2020 alleen het die Omitara-, Witvlei- en Steinhausen-omgewing verliese van meer as N$1,65 miljoen weens diefstal by die NCPF aangemeld.

Grobbelaar verwag veediefstal sal algaande toeneem aangesien Covid-19-inperkings tot werksverliese gelei het.

VERLEDE

Republikein het in Mei berig drie mans was in aanhouding nadat beeste ter waarde van N$140 000 naby Summerdown met ‘n ligte vragmotor by Steyn gesteel is. Die diewe se plan is tóé gefnuik nadat hulle deur ‘n plaaswerker raakgesien is en Steyn hulle op pad na Otjinene voorgekeer het.

Steyn het toe gesê hy het inligting van ander boere in die omgewing ontvang wat daarop dui dié ligte vragmotor is na bewering ook tevore vir ander veediefstalvoorvalle gebruik.

Enige een wat meer inligting oor die voorval het, kan Grobbelaar by 081 163 8888 of die polisie by 081 234 2920 skakel.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!