Veertien sterf in ongelukke
Veertien sterf in ongelukke

Veertien sterf in ongelukke

Padongelukke oorheers die po­li­sie se jongste misdaadverslag.
Tanja Bause
Tanja Bause



Veertien mense het oor die naweek in verskillende motor­ongelukke gesterf.

Sewe van hulle het in een ongeluk by Gobabis omgekom.

Dié voorval het Saterdag om 19:00 op die Trans-Kalahari-hoofweg buite Gobabis plaasgevind. Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag was die bestuurder van 'n bakkie van Gobabis na Windhoek onderweg. Hy het teen 'n brandstoftenkwa op pad na Gobabis gebots. Na bewering het die bestuurder van die bakkie in die baan van die tenkwa beland en die ongeluk veroorsaak. Ses passasiers in die bakkie is op die toneel dood en nog een is later in die hospitaal dood. Die bestuurder van die tenkwa was alleen in die vragmotor en is nie beseer nie. Beide bestuurders is vir alkohol getoets. Die bestuurder van die bakkie was glo onder die invloed van alkohol. Hy is op die toneel in ­hegtenis geneem en later weens sy beserings in die Sentrale Hospitaal in Windhoek opgeneem.

In 'n ander voorval het twee ­toeriste Saterdag om 12:30 in 'n motorongeluk tussen Maltahöhe en Bethanie gesterf. Die toeriste, van Oostenryk en Slowenië, was in een voertuig onderweg toe die bestuurder glo beheer verloor en dit omgeslaan het.

Vier mense sonder rybewyse is oor die naweek in hegtenis geneem nadat hulle in ongelukke betrokke was.

Vrydag om 10:00 het die bestuurder van 'n sedanvoertuig teen 'n voetganger in die pad gebots. Hy het daarna glo beheer oor die voertuig verloor en 'n boom getref. Die voetganger, Matheus Ngundu (12), het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die voorval het by die Kankudi-neder­setting naby Nkurenkuru plaasgevind. Die bestuurder het nie 'n wettige rybewys nie en is in hegtenis geneem.

Vetunyanga Ndungu (15) is Vrydag om 16:55 in 'n motorongeluk tussen Opuwo en die Ovinjage-nedersetting dood. Die bestuurder van 'n sewesitplek-sedan met sewe passasiers en 'n kleuter het glo beheer oor die ­voertuig verloor. Die voertuig het omgeslaan en Ndungu is op die toneel dood. Die beseerde passasiers, onder wie die bestuurder, is na die staatshospitaal op Opuwo geneem. Die man is nie in besit van 'n wettige rybewys nie en die ­polisieondersoek duur voort.

Vrydag om 20:00 het die bestuurder van 'n sedanvoertuig glo op die hoofpad tussen Uutapi en Ruacana 'n ander voertuig probeer verbysteek. Die bestuurder van die sedan was glo besig om af te draai en die twee voertuie het teen mekaar gebots. Die bestuurder van nog 'n sedan wat agter die twee voertuie gery het, het glo beheer oor die voertuig verloor en van die pad afgery. Hy het 'n voetganger omgery wat langs die pad gestaan het. Die man is na die staatshospitaal op Outapi geneem en later na die staatshospitaal op Oshakati verplaas waar hy Sater­dag aan sy beserings beswyk het. Die oorledene is mnr. Martin Emvula. Die ­bestuurder is nie in besit van 'n rybewys nie en is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag, roekelose en nalatige bestuur, asook die bestuur sonder 'n rybewys.

Mnr. Dozandu Feli, 'n Angolese burger, is Saterdag dood toe hy van 'n voertuig se laaibak afgeval het.

Die ongeluk het Saterdag om 16:00 in die Ontoko-nedersetting in die ­Onesi-kiesafdeling plaasgevind. Die bestuurder, 'n 23-jarige Angolese burger, het nie 'n rybewys nie en is in hegtenis geneem.

Mnr. Ell John Kruger (34) van Rosh Pinah het Sondag op die pad tussen Oranjemund en Rosh Pinah gesterf toe hy beheer oor sy voertuig verloor het. Die voertuig het omgeslaan en hy is op slag dood.



HUISHOUDELIKE GEWELD

Me. Kalenga Ngambo (23) is Vrydag om 01:30 in die Sikali-nedersetting in die Kavango-Wesstreek glo deur haar man met 'n tradisionele byl oor die kop geslaan.

Sy is op die toneel dood. Haar man, 'n 33-jarige Angolese burger, het glo die aand by die huis gekom en haar met in ander man in die huis aangetref. Hy het kwaad geword en haar glo met die byl geslaan waarna hy op die vlug geslaan het. Hy is nog nie in hegtenis geneem nie.

Saterdag om 22:00 het 'n man in die Etambo-nedersetting in die Ohangwenastreek sy vrou glo sewe keer met 'n mes gesteek. Die rede vir die aanval is nie bekend nie. Sy is in 'n kritieke toestand in die Onandjokwe-hospitaal opgeneem. Nadat hy haar gesteek het, het hy homself met 'n tou ­opgehang. Die oorledene is mnr. ­Immanuel Nehale.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!