Vegsport baat uit seminaar

Kendo
Die Namibiese Kendo-federasie het vroeër vandeesmaand sy eerste internasionale Kendo-seminaar aangebied.

Die seminaar is geopen deur die Japanse ambassadeur aan Namibië, mnr. Hideaki Harada, wat self as Kendo-speler 'n tweede Dan is.

Behalwe die Namibiese Kenshi (deelnemers) was daar ook besoekers uit Duitsland en Oostenryk wat die geskiedkundige eerste internasionale seminaar bygewoon het.

Die Namibiese Kendo-federasie (NKF) was die gasheer en met behulp van sensei Uwe Kumpf (sewende Dan) van Duitsland is die Namibiërs en besoekers in die klassieke Samurai swaardtegnieke gedril.

Studente op alle vlakke het by die seminaar baatgevind.

Groot klem is gelê op Kihon of basiese bewegings as 'n fondasie vir die meer gevorderde Waza of tegnieke om die opponent te uitoorlê.

Omdat krag nie 'n groot rol in Kendo speel nie en omdat Kenshi beskermende wapenrusting dra, kan mans en vroue op gelyke voet met mekaar meeding.

Daar is tien katas met 'n Uchidachi en Shidachi vertolking waar twee opponente met spesifieke tegnieke in 'n skyngeveg teen mekaar deelneem. Die doel hiervan is om aanvals- en verdedigingstegnieke in 'n vaste patroon te oefen.

Daar is besluit om die seminaar volgende jaar oor twee dae aan te bied, wat hopelik nog meer gaste uit Europa, Asië en Afrika sal lok.

Die oorsese gaste is met tipiese Namibiese gasvryheid ontvang en het ook geleentheid gehad om Daan Viljoen te besoek om die wild van nader te bekyk, sowel as om die omgewing by Midgard vanaf 'n perd se rug te beleef.

Ná al die gevegte, katas en opleiding vir Shinpan (skeidsregters) het almal die Sayonara, oftewel afskeidsfunksie by Joe's Beerhouse geniet, waar vriendskappe gesmee is en die woorde KO-ken-chi-ai! gereeld gehoor is. Letterlik vertaal beteken dit “Ons hoop om in die toekoms weer swaarde in vriendskap te kruis.”



WAT IS KENDO?

Die voordeel van die sport soos dit wêreldwyd bedryf word, is dat dit 'n geleentheid bied om 'n dissipline te beoefen wat afhangende van jou behoeftes, groter wordende eise stel in terme van die kompleksiteit van gevegstegnieke en ook kata's oftewel voorgeskrewe tegnieke wat deur twee kendo-spelers uitgebeeld word.

Die bewegings is beide vloeiend en energiek met 'n uitdaging van koördinasie en akkuraatheid. Beide aanvaller en ontvanger maak gebruik van Kia oftewel kreet (eeeaaahh!!!) om adrenalienvlakke op te jaag tydens oefening (en sommer van die dag se spanning ontslae te raak), veral voor of tydens aanvalle.

Die kendo-speler (man of vrou) kan besluit of hulle na Kirikaeshi (liniêre aanvalle en verdediging) en Gi-geiko (verdediging en aanvalle deur 'n senior kendoka in 'n vry formaat wat 'n geveg naboots) wil inskryf vir Shihai wat 'n volkontaksport is met beskermende Bogu of klere soortgelyk aan wat die ou Samurai-vegters gedra het (ook as inspirasie vir die Jedi van Star Wars gebruik.)

Die Bogu (drag) bestaan uit:

• Men – hoofbeskerming met 'n titanium-skerm;

• Kendogi – dik geweefde katoenbaadjie;

• Hakama – wye langbroek met vyf voue wat die vloeiende bewegings aksentueer en die voetbewegings wegsteek;

• Do – harde borsbeskermer;

• Tare – vyfpaneel voorskoot wat die lendene beskerm;

• Kote – dik futon-tipe handskoene, wat saam met Men en Do as enigste geldige teikens vir kompetisie gebruik mag word.

Bewegings is liniêr en vereis 'n goeie postuur en koördinasie om die teiken uit te roep, die regte afstand tussen jou en die opponent te bepaal, die aanval te loots waar die stem, voet en swaard gelyktydig op die opponent gefokus word (Ki-Ken-Tai no ichi).

Die sport is moontlik vir alle liggaamstipes en die tegnieke word aangeleer. Vorige ervaring van byvoorbeeld karate of judo is nie 'n vereiste of selfs verkieslik nie.

Omdat die sport eerder tegniek en spoed as krag vereis, kan mans en vroue op 'n gelyke vlak teen mekaar meeding.

“Die sport word nie vir selfverdediging beoefen nie, maar die voordeel is opgesluit in die vermoë om eie gedagtes in 'n krisis kalm te hou sodat die brein helder kan dink ... konsepte wat Musashi in sy boek The Five Rings gedokumenteer het en wat vandag nog ekstensief as aanbevole leesstof vir MBA-studente in vele Europese universiteite voorgeskryf word,” sê sensei André Pienaar, hoofinstrukteur en president van die NKF.

Oefentye is normaalweg elke Dinsdag en Donderdag in die dojo, nr. 23 in Edison Square in die Suidelike Nywerheidsgebied, langs Pupkewitz Megatech.

Kontak André Pienaar by 081 1278 899, of besoek die webwerf www.kendonamibia.com of op Facebook (kendonamibia).

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!