Vegter vir robbe

Naude Dreyer glo bewusmaking, opvoeding en samewerking is nodig sodat minder verstrengelde seediere gered hoef te word.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ons sit met ’n reuseprobleem. Ons moet iets doen en vinnig ook,” sê Naude Dreyer, die man agter Ocean Conservation Namibia (OCN).

OCN is aan die begin van die jaar deur Naude en sy vrou Katja in die lewe geroep. Vir die afgelope sowat sewe jaar vang hy robbe wat in veral plastiekrommel verstrengel is op Pelikaan Punt naby Walvisbaai en bevry hulle.

“Die probleem raak net al hoe erger en dus het ek en Katja besluit om OCN te stig. Ons wil die probleem van besoedeling van die see en die strande aan die lig bring.

“Op die oomblik behandel ons net die simptoom deur die robbe van die rommel te bevry, maar ons moet die oorsaak takel. Ons moet verhoed dat die rommel in die see en dan op die stand beland en dit is die uiteindelike doelwit van OCN.”

Naude is in Tsumeb gebore en het tot en met sy sesde lewensjaar in Khorixas grootgeword.

“My familie het toe Walvisbaai toe getrek en ek het daar grootgeword, totdat ek Kaapstad toe gegaan het om toerismebestuur te gaan studeer.”

Ná sy studies het hy vir ’n paar jaar oorsee gewerk, onder meer as ’n duikinstrukteur in die Karibiese en Middellandse See voordat hy terug Walvisbaai toe gekom het.

“My pa het destyds die Mola Mola Safaris bootreise begin en ek het daar begin werk totdat ek en Katja ons eie besigheid, Sandwich Harbour 4x4, begin het. Sewe jaar later het ons Pelican Point Kayaking as ’n bykomende besigheid by ons portefeulje bygevoeg.”

“Vyf jaar gelede het my dogtertjie baie siek geraak en ons het baie tyd saam met haar in Kaapstad bestee waar sy behandeling ontvang het. Ons moes Sandwich Harbour 4x4 verkoop en het ons tyd en energie in die kajaks ingesteek.”

Dit was terwyl Naude besig was om toeriste by Pelikaan Punt die diere en natuur vanaf die water met die kajaks te wys dat hy die talle robbe opgemerk het wat in vullis vasgevang word.

“Dit is ons, die mensdom, wat die vullis in die see en op die strand gooi. Hulle, die robbe, is onskuldige slagoffers van die rommelstrooiing en dus moet ons hulle help.”

Vislyn, visnette en plastiek verpakkingsbande is die grootste sondaars, maar ook deurskynende plastiek wat vir visverpakking gebruik word, moet dikwels van robbe afgesny word. Die diere raak in die rommel verstrengel terwyl hulle nog groei, wat beteken hulle groei in die rommel in. Die rommel sny dan in hul vel en vlees en baie kere kan die diere dan nie meer eet nie, of hulle versmoor as die rommel om hul nekke is.

“99% van die verstrengeling wat ek sien, is ou visgereedskap. Die nette en lyne is ’n groot probleem reg oor die wêreld.”

Volgens Naude is veral robwelpies baie nuuskierig en speel hulle graag met alles wat in die see dryf en raak só in die rommel verstrengel.

“Hulle groei verskriklik vinnig en hulle groei in die rommel in. Ons het al ’n rob bevry wat snywonde van 2 cm diep gehad het omdat die dier in die vislyn ingegroei het.”

Volgens Naude word die probleem al erger en dit is hoekom OCN gestig is.

“Hulle het vanjaar reeds oor die 200 robbe gevang en bevry.”

OCN se eerste bewusmakingsveldtog was #sealsfortime.

“Ons het onsself 31 dae gegee om 100 robbe te vang en te bevry. Dit beteken dat ons 10 op ’n dag moes vang. Ons wou dit doen om te wys dat ons ’n massiewe rommelprobleem het. Op die 30ste dag van die veldtog het ons die 100ste rob gevang.”

Om die robbe te vang en te bevry, is nie ’n maklike taak nie. Wanneer Naude en sy helpers ’n rob sien wat verstrengel is, probeer hulle die rob vang. Dit beteken gewoonlik dat hulle agter die robbe moet aanhardloop en hoop hulle kry die dier gevang voordat die rob in die water beland. Sodra die rob gevang is, moet hulle die rommel versigtig lossny voordat die dier weer vrygelaat word.

“Met dié organisasie wil ons nie net die rommel bevry nie; ons wil bewusmaking skep oor die probleem. Ons wil mense oplei en ons wil langdurige oplossings met al die betrokke mense vind. In die toekoms wil ons ook ’n rehabilitasiesentrum oprig waar nie net robbe wat seergekry het gerehabiliteer kan word nie, maar ook ander seediere. Ons kry ook baie seevoëls wat rehabilitasie benodig.”

Naude maak ook gereeld saam met die gemeenskap, skole en ander organisasies die stande skoon.

“Dit is belangrik om veral kinders betrokke te maak en hulle te wys dat dit uiters belangrik is om die natuur rondom ons vir die toekoms te beskerm.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!