u2018Veilige besluitu2019 om skole gesluit te hou
u2018Veilige besluitu2019 om skole gesluit te hou

‘Veilige besluit’ om skole gesluit te hou

Sommige leerlinge het swakker gevaar in die eindeksamen verlede jaar as vorige jare.
Kristien Kruger
Kristien Kruger en Tuyeimo Haidula – Onderwysers in die land sou vandag terugkeer skool toe ter voorbereiding op die heropening van skole op 11 Januarie, maar die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het laat Maandag aangekondig daar is besluit om in die lig van die skerp toename in Covid-19-gevalle later met die skooljaar te begin.
Onderwysers sal nou op 14 Januarie hul pligte hervat en leerlinge van beide staat- en private skole sal eers op 26 Januarie terugkeer skool toe vir klaskameronderrig.
Die ministerie sê hy het met die kantoor van die president, die kantoor van die eerste minister, die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) en die nasionale advieskomitee van onderwys, asook ander belanghebbendes beraadslaag voordat die besluit geneem is.
Windhoek Hoërskool (WHS) se skoolhoof, mnr. Hawie Engels, is van mening dit was nodig om die opening van skole uit te stel.
“Daar is tans van ons personeel wat siek is of onlangs nog in isolasie was,” het hy gesê.
Me. Colette Rieckert, besturende direkteur van Windhoek Gimnasium, het aan Republikein gesê dié skool steun die besluit. “Ons was betrokke by die samespreking ten opsigte van die heropening van skole en ons dink dit is ’n veilige roep.

EKSTRA TYD
“Ons is nie so bekommerd oor die kinders se aansteeklikheid nie omdat die wetenskap bewys dat dit minimaal is en ons weet ons skool het goeie sanitasie, maar ons is bekommerd oor waar leerlinge ná skool beweeg,” het sy gesê.
Me. Loide Shipanga, die skoolhoof van die Usko Nghaamwa Spesiale Skool in die Ohangwenastreek, meen dat die uitstel sal die ministerie ekstra tyd gee om aan die finansiële kwessie aandag te gee sodat skole voorbereidings kan tref en die nodige hulpmiddels bekom of aankoop voordat leerlinge terugkeer vir klaskameronderrig.

EKSAMENUITSLAE
Ná afloop van verlede jaar se eksamens was daar volgens Engels soos verwag ’n afname in WHS-leerlinge se prestasies.
Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) het ook ’n verskil in leerlinge se punte opgemerk.
“Nie alle leerlinge het die nodige selfdissipline om onafhanklik van ’n onderwyser te werk en take betyds in te handig nie.
“Die verskil in punte was egter nie van so ’n aard dat ons bekommerd hoef te wees oor ons leerders se akademiese vermoë om die volgende jaar aan te pak nie,” het me. Ariska van Vuuren, WAP se woordvoerder, gesê.
Volgens die skoolhoof van Ongenga Hoërskool in die Ohangwenastreek, mnr. Usko Muahafa, het dié skool hoofsaaklik van klaskameronderrig gebruik gemaak, omdat net die helfte van leerlinge toegang tot die internet het.
“Streng maatreëls is ingestel om die leerlinge se veiligheid te verseker. Kinders was te alle tye onder toesig, selfs gedurende pouses,” het hy gesê.
“Daar was beslis ’n verandering in ons leerlinge se resultate. Ons leerlinge het buitengewoon goed presteer omdat die leerplan voltooi is en omdat ons genoeg tyd met leerlinge deurgebring het in vergelyking met ander skole wat groeperings, tydgebaseerde groepe en ander onderrigstelsels gebruik het,” het Mauhafa gesê.
Rieckert sê Windhoek Gimnasium se leerlinge het ook ’n beter akademiese jaar gehad as wat verwag was.
“Hier en daar was enkelinge wat nie saamgewerk het nie en daardie leerlinge sal nou moet hard werk om die kennis en vaardighede aan te leer wat hulle volgende graad vereis,” het sy
gesê.

PAD VORENTOE
“By Windhoek Gimnasium sal ons klaskameronderrig parallel met afstandonderrig aanbied. Ons het wel ’n groep leerlinge wat slegs ingeskryf is vir die afstandonderrig en daarom nie fisiek skool toe hoef te kom nie.
“Ons het genoeg ruimte in die klaskamers vir elke leerling om elke dag skool toe te kom, maar leerlinge kan tuisbly en afstandonderrig doen indien hulle siek voel,” het Rieckert gesê.
Volgens Engels het WHS nie die kapasiteit om alle leerlinge op die perseel te akkommodeer nie en sal heel moontlik, nes verlede jaar, gebruik maak van die metode waar sekere grade se leerlinge net op spesifieke dae skool toe kom.
Shipanga het gesê hulle maak hoofsaaklik by Usko Nghaamwa Spesiale Skool van klaskameronderrig gebruik om gehoorgestremde leerlinge te akkommodeer en sal vanjaar daarmee volhou.
“Die ouers is nie altyd in staat om met die kinders te kommunikeer nie, wat beteken dat ouers nie die kinders met hul skoolwerk kan help nie. Ja, ons het ook die gedrukte materiaal aan die leerders tuis gestuur, maar dit het nie gewerk nie. Ek sal nie afstandonderrig vir dowe leerlinge aanbeveel nie,” het sy gesê.
Mnr. Tony Tripodi, skoolhoof van Gobabis Gimnasium sê hy sal nie verbaas wees as die ministerie ná die twee weke weer die opening van skole uitstel nie.
“Ek wil ’n beroep op die publiek doen om by die regulasies te hou. Dis die enigste manier hoe ons saam sal sorg dat skole oop bly,” het Tripodi gesê.
[email protected]
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!