Veiligheid, vryheid in lugvaart in die spervuur

Regerings wat eensydig sonder raadpleging met die lugvaartbedryf veiligheidsmaatreëls instel, is tydens IATA se algemene jaarvergadering gekritiseer.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn in Cancun, Mexico - Die eensydige instelling van 'n verbod op elektroniese toestelle op vliegtuigkajuite deur Brittanje en Amerika in Maart vanjaar het die lugvaartbedryf onkant betrap.

Volgens die direkteur-generaal van die Internasionale Lugvervoervereniging (IATA), Alexandre de Juniac, tydens die 73ste jaarvergadering van die vereniging Maandag in Cancun, Mexiko, is die lugvaartbedryf nie geraadpleeg nie en min tyd gegun om dit te implementeer.

"Dit het almal onkant gevang en dit was 'n groot uitdaging vir lugrederye om daaraan te voldoen. Dit het ook heelwat ongerief vir ons kliënte meegebring. Dit behoort nie so te wees nie," het hy gesê.

Hy het gewys op die hartseer voorvalle van terreuraanvalle, die jongste die afgelope naweek in 'n gewilde toeristegebied in Londen.

"Die vryheid wat die sleutel van lugvervoer is, bly die teiken van terroriste. Dit blyk duidelik uit resolusie 2309 van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies. Dit bevestig dat lande meer moet doen om hul verantwoordelikheid teenoor hul burgers na te kom wanneer hulle van vliegtuie gebruik maak om te reis," het De Juniac gesê.

Hy sê lugrederye besef die verantwoordelikheid om passasiers en bemannings van vliegtuie veilig te hou, maar met die eensydige optrede van Brittanje en Amerika is die natuurlike vennootskap tussen rederye en regerings aan die verbrokkel.

"Ons moet geloofwaardige intelligensie, wat onderliggend aan Brittanje en Amerika se besluit was, vertrou. Maar die maatreëls self het die vertroue van die bedryf en die publiek getoets, vertroue wat kritiek is vir die welslae van die veiligheidsregime.

"Die redes hiervoor is dat Amerika en Brittanje nie aangedui het watter lughawens 'n risikogebied het nie. Vrae oor die veiligheid van baie toestelle wat met litiumbatterye werk in die bagasieruim, is nie beantwoord nie. Hierbenewens het ander lidlande van die ‘Vyf Oë-nasies’ - Kanada, Australië en Nieu-Seeland - die bedreiging sonder 'n verbod die hoof gebied," het hy bygevoeg.

Kompromis

De Juniac het beklemtoon dat lugrederye nooit 'n kompromis oor veiligheid sal aangaan nie.

Hy wys daarop dat die wegneem van elektroniese toerusting van passasiers werklike koste vir hulle inhou. "Die verbod met sy huidige omvang bring volgens ons skatting 'n verlies van US$180 miljoen in produktiwiteit mee wat tot US$1,2 miljard kan styg indien die verbod na vlugte van Europa na Amerika uitgebrei word.

"Ons moet veiligheid regkry. Daar is 'n duidelike plig om hierdie maatreëls logies, doeltreffend en doelmatig te maak. Dit is nie die geval met die huidige verbod nie. En dit moet verander," het De Juniac gesê.

Hy het lugrederye se standpunt beklemtoon dat sekuriteit die verantwoordelikheid van regerings is. "Regerings het die bronne en die inligting en hulle stel die reëls op. Lugrederye het egter 'n groot belang in hierdie saak. Ons beskik oor kritieke operasionele ondervinding. Dit is, om eerlik te wees, moeilik om die weerstand te verstaan. Ons sal beter oplossings vind as ons saam werk en daar is baie werk om te doen," het hy gesê.

Alternatief

Die eerste stap moet volgens De Juniac 'n alternatief vir die verbod wees.

Op kort termyn sal dit strenger deursoekings en waarnemings by toegangshekke op lughawens insluit. Op medium termyn sal meer gevorderde en vinniger plofstof-opsporingstegnologie die oplosssing wees vir bedreigings met bomme. Ongelukkig lê 'n pynlik stadige proses van sertifisering dit aan bande en De Juniac vra dat dit bespoedig word.

Tydens 'n nuuskonferensie ná afloop van die opening het De Juniac daarop gewys dat die tegnologie gereed is en sodra dit gesertifiseer is, kan met massaproduksie begin word.

In 'n neutedop was sy boodskap aan regerings: Werk saam met lugrederye om alternatiewe vir die huidige verbod te vind; werk saam om die ontwikkeling en sertifisering van skeppende tegnologie te versnel; werk saam om toekomstige bedreiging af te weer en beter wedersydse samewerking.

Wat beter wedersydse samewerking betref, meen De Juniac die totstandkoming van 'n globale lugvaartsekuriteitsplan (GASeP) moet die grondslag lê vir meer doeltreffende deel van inligting onder state en met die lugvaartbedryf, om huidige en toekomstige bedreigings die hoof te bied.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!