Veiligheidsvrese, ekonomie knou lugvaart
Veiligheidsvrese, ekonomie knou lugvaart

Veiligheidsvrese, ekonomie knou lugvaart

Jo-Mare Duddy Booysen
Ronelle Rademeyer in Dublin - Lugvaartveiligheid en die afname in vlugbesprekings weens ekonomiese druk sal vandeesweek die besprekingsfokus wees wanneer afgevaardigdes van 264 internasionale lugrederye saam met lugvaartleiers en ander belanghebbendes in Dublin, Ierland, vir die Wêreldlugvaartberaad byeenkom.
Die vraag na lugvervoer het in April vanjaar sy laagste groei sedert Januarie 2015 beleef en dit word deur bedryfsleiers aan die terreuraanvalle in Maart vanjaar by die lughawe in Brussel, België, toegeskryf.
Nagenoeg 1 000 afgevaardigdes word vanaf môre in Dublin verwag waar die Internasionale Lugvaartvereniging (Iata) se jaarvergadering en die Wêreldlugvaartberaad tot Vrydagmiddag sal plaasvind.
Ofskoon lugrederye by die laer olieprys baat, veroorsaak ekonomiese afkoeling en dalende kaartjiepryse tans groot druk in ’n bedryf met baie klein winsmarges.
Daarbewens wys Iata se jongste passasiersyfers wat Maandag bekend gemaak is, dat die vraag na lugvervoer in April afgeplat het tot ’n styging van net 4,6% ná die selfmoordbomaanvalle in Brussel waarin 16 mense gesterf het.
Reuters het gister berig die kwessie van beter sekuriteit op vliegtuie en by lughawens sal na verwagting hoog op die agenda wees.
“Dublin is waar die wêreld se lugvaartleiers gaan saamtrek vir die 72ste Iata-jaarvergadering en die Wêreldlugvaartberaad en waar die bedryf se mees gesoute leiers oor maatreëls sal besluit wat die ekonomiese en sosiale voordele van veilige, doeltreffende en volhoubare lugvaart kan waarborg,” sê Tony Tyler, direkteur-generaal en hoof uitvoerende beampte van Iata, in ’n verklaring.
Hy sê buiten vir ’n paneelbespreking oor sleutelkwessies in die lugvaartbedryf waaraan die uitvoerende hoofde van verskeie groot rederye onder leiding van CNN se Richard Quest gaan deelneem, sal besprekings oor kuberveiligheid en volhoubare internasionale lugvaart ook plaasvind, sê Tyler.
Intussen berig Reuters rederye se uitvoerende hoofde sal ook die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (Icao) se voorstel oor ’n interna­sionale markgerigte maatstaf vir die verlaging van koolstofdioksied-vrystellings bespreek. Die bedryf is ten gunste van ’n internasionale uitlaatgas-maatstafstelsel eerder as verskillende stelsels by verskillende rederye, het Tyler op die vooraand van die beraad aan joernaliste in Berlyn gesê.
Verder hou die moontlikheid van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie (EU) en die naderende verkiesings in die VSA ook vir rederye kommer in aangesien dit die vraag na lugvervoer kan demp.
Volgens Iata se hoofekonoom Brian Pearce het rederye by die laer olieprys gebaat, maar terselfdertyd het die daling in die prys van ruolie die ekonomieë van lande in Latyns-Amerika, die Midde-Ooste en Rusland ernstig geknou. Verder het oliemaatskappye besnoei op korporatiewe reisuitgawes met die gevolg dat die vraag na eerste- en besigheidsklaskaartjies gedaal het.
“Lugrederye se finansiële prestasie lyk nog betreklik goed, maar die groot kommer tans is die kwesbaarheid van die globale ekonomie,”sê Pearce.
Vliegtuigkaartjies se pryse het vroeg in 2016 met nagenoeg 4% gedaal en die verwagting is dat dit nog­ ­goedkoper gaan word, sê Iata in sy ­verklaring. Dié vereniging verteenwoordig meer as 260 lugrederye en is vir 83% van alle lugvervoer verantwoordelik.
Iata het vroeër voorspel rederye se netto-winste sal vanjaar rekordhoë vlakke van US$36,3 miljard bereik, met ’n netto-winsmarge van 5,1%.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!