Veilingpryse 'spieu00ebl' van landbounood
Veilingpryse 'spieu00ebl' van landbounood

Veilingpryse 'spieël' van landbounood

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - “Alles is deurmekaar. Dit is ’n baie emosionele tyd. Daar is nie kopers nie en daar is nie die koopkrag nie. Ek wil eintlik nie eers meer veilings hou nie.”

Só het mnr. Piet Schrader, eienaar van Blaauwberg Auctioneers, Vrydag gesê in reaksie op die impak van die droogte op veilingspryse.

Republikein het met hom gepraat nadat ‘n kwitansie wat Donderdag deur sy veilingshuis aan ’n boer uitgereik is wie se maer koei vir ’n skrale N$400 verkoop is, soos ’n veldbrand via WhatsApp versprei het.

Schrader sê dié prys wys op die abnormaliteit van die rampdroogte en die invloed wat dit op markkragte het.

“Die pryse is ‘n weerspieëling van vraag en aanbod, want die kopers by veilings raak al minder en minder. Die dalende pryse het ’n baie negatiewe invloed op boere én veilingshuise.”

Hy sê die veilings is die “ware spieël” van wat in die land aangaan.

“Die boer kry die beste prys van die dag en word dadelik betaal. Dit is beter om die dier teen daardie lae prys te verkoop as om die vel van die dooie dier te verkoop. Dit is baie hartseer, maar waar.”

Namibiese boere is geharde mense wat al baie moeilike tye deurleef het, sê Schrader.

Intussen wys die Namibië Landbou-unie (NLU) se kwartaaloorsig van die landboubedryf beespryse was in die eerste kwartaal van die jaar 10,3% laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

Slagpryse by Meatco het egter met 14,7% gestyg, wat beteken die daling is te wyte aan die swak pryse wat boere by veilings kry.

Altesaam 79 334 beeste is in die eerste vier maande van die jaar by veilings van die hand gesit, waarvan 21,4% koeie was. Vergeleke met die eerste kwartaal van 2018, is 56,4% méér koeie as verlede jaar verkoop: 16 989 teenoor 2018 se 10 862.

Die NLU sê die droogtetoestande het tot ‘n reusestyging in die bemarking van maer koeie aanleiding gegee.

Boere het in die eerste kwartaal van 2018 altesaam 3 538 maer koeie bemark – ‘n syfer wat vanjaar tot 7 941 opgeskiet het. Dit verteenwoordig ‘n styging van 124,4%.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer