Veldbrande nié noodwendig erger
Terwyl savannas meer geneig is om te brand, word méér reën ook met meer gereelde brande vereenselwig.
Elvira Hattingh
Veldbrandtendense het oor die afgelope 20 jaar in kommunale gebiede gedaal, terwyl dit redelik onveranderd op private grond gebly het.
Die langtermyngemiddeldes van die aantal vierkante kilometer (km2) wat jaarliks deur brande verswelg word, het ook redelik stabiel gebly.
Dit is dus onwaar dat veldbrande oor die jare meer gereeld geraak het, óf groter gebiede dek, het Namibië se voorste veldbrandkenner, dr. Johan le Roux, aan Republikein gesê.
Veldbrande was die afgelope weke voortdurend in die nuus, met satellietdata wat toon 572 plase het sedert die begin van April in Namibië gebrand. Dit blyk in hierdie vroeë stadium asof September se brandstatistiek dié van die vorige maande kan oorskadu.
In die eerste vyf dae van September het veldbrande op 86 plase en dorpsgebiede voorgekom, teenoor 177 in Augustus, 125 in Julie, 93 in Junie, 63 in Mei en 28 in April, het Le Roux, eienaar van JLR Consulting, gesê.
Le Roux is 'n omgewingswetenskaplike wat sy doktorale proefskrif op veldbrande in Namibië gedoen het.
Hierin het Le Roux ook bevind meer reën kan met meer gereelde brande vereenselwig word, terwyl dit ook die brandseisoen verleng. In digter bevolkte gebiede is die brandseisoen geneig om vroeër te begin.
TENDENS
Le Roux se ontleding van satellietdata van brande oor die afgelope 20 jaar toon dat tendense veral in kommunale gebiede gedaal het – van sowat 40 000 km2 in 2001 na net meer as 25 000 km2 in 2020 – terwyl dit deurentyd sowat 5 000 km2 op private grond gebly het.
Le Roux werk op die gemiddeld van beeldmateriaal deur die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) se satelliet wat deur Nasa ontwikkel is, asook van 'n gesamentlike Nasa/NOAA-satelliet.
Die langtermyngemiddeldes vir die aantal vierkante kilometer wat jaarliks deur brande opgeëis word, het egter oor 20 jaar redelik onveranderd gebly. Vir kommunale gebiede staan dit op net minder as 35 000 per jaar, terwyl die syfer op 5 000 vir kommersiële grond staan.
Veldbrande verskil egter dikwels drasties van jaar tot jaar. Daar was uitsonderlike jare waarin groter gebiede as normaal gebrand het, soos in 2011 en 2012, toe onderskeidelik sowat 70 000 km2 en net meer as 65 000 km2 in kommunale gebiede verswelg is. In dieselfde jare het sowat 15 000 km2 en toe bietjie meer as 20 000 km2 in kommersiële gebiede gebrand.
In 2006 het veldbrande ook sowat 15 000 km2 in kommersiële gebiede opgeëis.
NOODSAAKLIK
In Le Roux se doktorale proefskrif sê hy savannas is die veldtipe wat die mees geneig is om te brand, maar ook dat brande vir eeue lank reeds in Afrika voorkom, hoewel dit nou as ongewens beskou word.
“Terselfdertyd is daar oorweldigende bewyse dat vuur nie net 'n integrale deel van 'n savanna se ekologie is nie, maar ook noodsaaklik is as 'n meganisme om dié veldtipe te onderhou.
“'n Klomp navorsing bewys vuur is 'n noodsaaklike deel van die ekostelsel, wat reg verstaan en oordeelkundig toegepas behoort te word . . .”
Le Roux sê dit kan nie ontken word dat onbeheerde brande mense se voortbestaan bedreig wanneer dit skade aan infrastruktuur veroorsaak, weiding verwoes of selfs lewens eis nie. Dit beïnvloed oook die nasionale ekonomie, veral as boere ná 'n veldbrand weiding elders moet huur.
“Wat nodig is, is 'n paradigmaskuif weg van pogings om vuur te onderdruk, na ware geïntegreerde brandbestuur. Eerder as om te beheer óf dit gaan brand, moet ons beheer waar en wanneer dit gaan brand,” het hy geskryf.
“Talle beleide teen brande word in 'n inligtingsvakuum ontwikkel, of gebaseer op waningeligte veralgemenings oor die invloed van vuur op waardevolle natuurlike hulpbronne.”
SAVANNAS BRAND
Le Roux sê in Namibië is veldbrande meestal beperk tot die sentrale asook noordoostelike gebiede, met 'n piek in die brandseisoen tussen Augustus en September.
“Boonop het Namibië 'n sterk wes-oos reëngradiënt, gekombineer met 'n subtropiese seisoenaliteit in die voorkoms van reën terwyl dit ook baie biomassamateriaal produseer.
“Daar is dus genoeg verbrandingsmateriaal en dis droog genoeg vir veldbrande om jaarliks wydverspreid voor te kom,” het hy geskryf
“Die brandseisoen is oor die algemeen twee tot ses maande lank, alhoewel dit op private grond, wat vir landbou- of toerisme-doeleindes ingespan word, só beheer word dat dit nou net sowat een maand lank duur.”
Hy sê op private grond is boere in staat om vuur beter te beheer, omdat hulle gewoonlik goed ontwikkelde padnetwerke het, asook gemeenskappe wat saamstaan om vuur ten alle koste te bestry. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie