Veldresies by Farm Windhoek is aan
Veldresies by Farm Windhoek is aan

Veldresies by Farm Windhoek is aan

Bergfietsry
Bergfietsryers is opgewonde oor die geleentheid om môre weer die wegspringskoot te hoor klap en 'n kompetisie te kan beleef in die eerste hervatting ná die Covid-19-inperking en nasionale kansellering van sportgeleenthede.

Die eerste byeenkoms in die Nedbank Rock & Rut veldreeks word môre by die IJG Trails in Otjiverostraat in Kleine Kuppe, Windhoek, aangebied.

Die reeks bied vyf veldresiesbyeenkomste waarin ryers punte kan opbou, hul vaardighede verbeter en hul stand in bergfietsgeledere kan ophef.

Op die elite vlak is dit ook 'n kans vir die kaliber van Olimpiese hoopvolles soos Michelle Vorster, Tristan de Lange en Alex Miller weer ten volle op dreef te kom.

Die jaarlikse reeks is reeds gevestig in gewildheid en gesogtheid en onder die heersende omstandighede bied komende naweek 'n spesia­le geleentheid om ná die inperking enige verroestheid en gebrek aan skerpheid af te skud.



BEKENDSTELLING

Die Nedbank Rock & Rut-reeks stel boonop 'n marathonroete bekend wat minder tegniese vernuf vereis, om sodoende ook beginners in die bergfietssport tegemoet te kom.

Rock & Rut se skakelbeampte, Wesley Pieters, sê die klub het die finansiële reperkussies van die hoktyd in ag geneem en het dus die jaarlikse koste van lidmaatskap asook van registrasie per byeenkoms aangepas.

“Die komitee het dié bedrae verlaag om die druk te verlig waaronder vele huishoudings verkeer. Sodoende dra ons by om meer ryers te akkommodeer,” sê Pieters. Hy sê fietsry het nie die nagevolge van die hoktyd gespaar gebly nie.

“Sommige ryers mag dalk hul deelname aan sekere byeenkomste in heroorweging neem vanweë hul werkverliese of besnoeiings aan hul salarisse.

“Vir ander was die afgelope weke juis 'n geleentheid om méér gereeld fiets te ry, omdat hulle meer tyd tot hul beskikking gehad het. Ons merk 'n toename op in die getal gesondheids­entoesiaste wat wil begin fietsry en só 'n aktiewe leefstyl wil handhaaf.”

Organiseerders wys daarop dat sosiale afstand ter voorkoming van virusverspreiding gehandhaaf sal word.

Die eerste wegspringtyd is om 09:00 vir die seuns onder 12 en o.14 en meisies o.14 en o.16.

Die elite vroueresies (ook vir al die ander vroueklasse) is om 10:30, met die hoofresies wat oor 75 minute plus een baanrondte beslis word.

Die elite mans (ook o.23's, subveterane, juniors en veterane) se wegspring is om 14:00 en duur vir 80 minute plus een baanrondte.

Vir registrasies en meer inligting, besoek www.rockandrut.org.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!