Veldry-Volvo met die kispak

'n Stylvolle stasiewa waarmee jy op safari kan gaan.
Marnus Hattingh - Volvo se fris V90 Cross Country is taamlik uniek in die land. Stasiewaens is skaars, maar nog meer so aan die premiumkant van die mark. Voeg daarby ’n veldry-vriendelike harnas en die V90 word ’n eiesoortige opsie op jou inkopielys.

As jy vandag iets soek waarmee jy jou bergfiets en stapskoene agterin kan laai en grondpaaie aandurf, is ’n sportnuts die standaardkeuse. Groot of klein, daar is ’n magdom om uit te kies.

Wat het ons hier?

Soek jy praktiese ruimte om die hokkiespan rond te karwei en op pad terug Wagter by die veearts op te laai, kies jy straks ’n stasiewa.

Gekombineerd? Dit is Volvo se V90 CC, die Kalahari Kallie van stasiewaens. In die Cross Country se geval is die gewone stasiewa, die V90, se grondvryhoogte gelig na ’n praktiese 21 cm. Dit is hoog, en hiermee boks hy nou in Subaru Forester-terrein.

Saam met die hoogopgetrekte broek kry jy beskerming al om die some langs in die vorm van swart plastiekstroke wat help keer teen opskietklippe en modder.

’n Laaste hulp is die permanente 4x4-aandryfstelsel. Soos dié stelsel werk, kontroleer die blikbrein jou vastrap en stuur krag tussen voor- en agteras soos jou greep dit benodig.

Ons toetsmodel was die D5, toegerus met ’n biturbo-weergawe van Volvo se tweeliter-enjinblok met die vier inlyn-silinders. Jy sal weet Volvo benut dié enjinblok in al sy voertuie, petrol en diesel. Soms in kombinasie met een turbo, soms as ’n turbo- en drukaanjaer in tandem. Die opsies is eindeloos, en dit werk puik vir die Swede.

Lig op die kap

Kyk na die D5: Met die twee turbo’s in serie gekoppel, bied hy 173 kW krag en ’n stewige 480 Nm wringkrag – en dit net uit ’n klein tweeliterenjin.

Die resultaat is goeie verrigting vir so ’n groot lyf (230 km/h-topspoed, 7.5 sek.-versnelling), maar veral ’n baie ligte verbruiksyfer. Formeel word dit op 5,3 liter gestel, in my tyd met die Sweed het ek so 5,6 liter gehandhaaf.

Standaard kom die V90 toegerus met leerbekleedsel, LED-hoofligte wat self op domp kan skakel en met die stuurwiel beweeg sodat dit om ’n draai kan belig, ’n ritmodus-knop en ’n radio met 10 luidsprekers.

Van buite gesien, mag die lang Volvo lyk of hy op stelte staan. Die wielboë met hul swart omlynings bied omtrent ’n handbreedte se gaping tussen band en metaalboog. Soos hoogwater-broekspype.

Sitkamer se weelde

Maar die binneruim is voorwaar treffend. My toetsmodel was met wit leer uitgerus met houtpanele hier en daar om ’n weelderige kajuit te skep.

Die instrumentpaneel en skakelaars eggo ander Volvo’s se moderne tema. Die raakskerm sit soos ’n groot A4-folio vertikaal op die paneel, en werk met trek- en veebewegings van die vinger.

Dit werk maklik, intuïtief en bied ’n paneel netjiese, skoon ikone. Ook die gewone knoppies, soos die aansit- en ritmodusskakelaar, is van gepoleerde aluminium.

Op die pad voel die groot Volvo lekker stil en vlugvoetig. Daar is min dieselgeraas te hoor en effense windlawaai kom eers teen snelwegsnelhede na vore.

Soos genoem, is daar ’n falanks gonsers en waarskuliggies wat aktiveer soos jy deur die verkeer vleg. Persoonlik skakel ek dit vroeg af, want dit kan steurend raak. Maar die stelsels werk goed en is van nut. ’n Indut-monitor hou jou op jou tone agter die stuur, ’n terugdu-funksie verseker dat jy nie uit jou baan sweef nie, en ’n gonser sê iemand sit in jou blindekol.

Wat dink ons?

Teen N$1 miljoen (ons toetsmodel was darem met ’n paar bykomstighede opgekikker) is die gawe veldry-Volvo nie goedkoop nie. Jy kan ’n fris, deftige sportnuts vir dié geld koop. Soek jy egter iets wat minder opvallend is, wat minder “4x4” skree, maar steeds die vermoëns bied, is die V90 Cross Country op jou inkopielys. Sommer bo-aan, stel ons voor.-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!