Venaani: Regering hits stamgebondenheid aan
Venaani: Regering hits stamgebondenheid aan

Venaani: Regering hits stamgebondenheid aan

Die amptelike opposisie is bekommerd oor teenwerking wat grondhervorming betref.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Die president van die DTA, mnr. McHenry Venaani, het gesê die regering vuur stamgebondenheid aan deur mense se name deur die modder te sleep wanneer hulle nie met die regering saamstem nie.

Hy het voorts die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, gewaarsku om nie mense te antagoniseer nie.

“Ek het na hom [Nujoma] op die Herero-­radiodiens geluister en sy boodskap was nie dié van 'n leier nie. Hy is die hoof van 'n sensitiewe ministerie en behoort nie vir mense te sê hulle soek Bantoestans wanneer hulle sê hulle soek hulle grond terug nie,” het Venaani Woensdag op 'n mediakonferensie­ gesê.

Venaani sê Nujoma se argument is gebrekkig in die sin dat volksmoord­onderhandelinge tussen Namibië en Duitsland ook as die onderhandeling van Bantoestan-kwessies geag kan word, aangesien die volksmoordkwessie die OvaHerero en Nama direk raak.

“Hoe kan jy sê jy bespreek met die Duitsers die Nama-Herero-kwessie, wat 'n stamhistoriese werklikheid is, maar wanneer dieselfde mense sê hulle word deur die hervestigingsprogram toegang tot grond geweier, te kenne gee hulle soek Bantoestans?” wou Venaani weet.

Venaani het ook besware teen pres. Hage Geingob se amptelike rede waarom hy nie verlede November by die Damara-kultuurfees was nie.

Die president se woordvoerder, mnr. Albertus Aochambu, het gesê Geingob was nie daar nie omdat hoofman Justus //Garoëb nie as die Damara se tradisionele leier erken word nie.

“Dit ondermyn minderheidsgroepe.­ Mense het die reg om te sê hulle word ondermyn as die staatshoof sê jy is net sy kinders as jy [amptelik] erken word; sonder erkenning is julle nie sy kinders nie,” het Venaani gesê.

Nietemin is //Garoëb die Damara-stam se werklike opperhoof, het hy gesê. Venaani het alle gemeenskappe,­ tradisionele leiers en veral jong mense gemaan om teen stamgebondenheid te waak, en veral die jeug gewaarsku om nie mense op sosiale media swart te smeer nie.

“Ons by die DTA koester die idee dat stamme in harmonie kan saamleef. Ons wil nie stamme doodmaak sodat Namibië 'n eenheidstaat word nie. Stamme moet bly. Swart, wit en kleurling moet in hierdie land bly, maar ons moet in harmonie saamleef,” het hy gesê.

“Ons is bekommerd dat mense teen mekaar gebruik word. Ons moet kalmeer. Nou is nie die tyd om oorlog met mekaar te verklaar nie. Ons moet leer om saam te leef. Maar die meerderheid moet ook leer om sensitief teenoor minderhede te wees.”



VOORVADERLIKE GRONDEISE

Venaani het gesê stamgebonde grondeise bestaan omdat sekere groepe grond op gedwonge wyse verloor het, maar dat voorvaderlike grondeise bykans onmoontlik gaan wees om te implementeer.

“Voorvaderlike grondeise is nie die probleem nie. Zimbabwe het daardie roete gevolg en dit gekontekstualiseer om te beteken dat alle swart mense grond moet besit. Hulle het alle grond daar aan swart mense gegee, maar Zimbabwe is 'n ramp. Moet ons soos Zimbabwe wees? Nee. Ons moet eerder ons geskiedenis en die werklikheid verbind,” het hy gesê.

Hy het gesê sy party is ten sterkste teen Zimbabwe-styl grond­vergrype gekant.

“Ons moet 'n plan maak wat modern is, werk en kwessies takel om vorentoe te beweeg, maar historiese feite en hedendaagse werklikhede moet in ag geneem word om kompeterende­ boere – hetsy swart of wit – toe te laat om 'n stukkie grond te bekom.”

Die DTA stel 'n modelbeleid voor wat nuwe lewe in die landbousektor sal blaas en ook aandag aan die histo­riese nalatenskap sal gee.

Van die voorstelle wat die party by die tweede grondkonferensie wil maak, is dat stedelike erwe gratis uitgedeel word, afwesige eienaars se grond onteien word en die hervestigingsprogram hersien word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!