Venezuela se lesse vir Suid-Afrika
Venezuela se lesse vir Suid-Afrika

Venezuela se lesse vir Suid-Afrika

Korttermyn-oplossings en populistiese oproepe om beleidsverandering is volgens ’n beleggingsontleder nie die antwoord nie.
Tlotliso Phakisi – Die realiteit van Suid-Afrika se ekonomiese moeras het ingesink met die aankondiging dat die land in die tweede kwartaal in ’n tegniese resessie verval het. Dit gooi egter net petrol op die vuur van populiste wat groter politieke ingryping in die ekonomie wil hê.

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa uiteindelik vir kalmte gevra het ná die nuus, was dit ’n geval van te min te laat.

Die rand het kortstondig bokant die vlak van R15,30 per dollar gestyg weens hernude vrees dat die regering nie in staat sal wees om sy fiskale teikens te haal of sy beloftes van ’n “nuwe daeraad” sal nakom nie. Dit gebeur op dieselfde tydstip dat die bodem uit die Turkse ekonomie val en Argentinië se finansiële markte slae kry.

Ondanks die noodsaaklikheid om Suid-Afrika se ekonomie weer aan die gang te kry, indiensneming te verhoog en diepgewortelde ongelykheid te verminder, maak die senuagtige mark dit duidelik dat hy nie opportunistiese oproepe om die herverdeling van welvaart sal aanvaar nie. Korttermyn-oplossings en populistiese oproepe om beleidsverandering is nie die antwoord nie.

Om die waarheid te sê, populiste hoef nie verder te kyk as Venezuela vir bewyse van die risiko’s verbonde aan ’n wanfunksionele beleidsprogram nie. Venezuela se sosialistiese beleid, tesame met korrupsie wat buite beheer is en sy staatsinstellings rysmier, het daardie land op sy knieë.

Eens een van Suid-Amerika se rykste lande gemeet op ’n per capita-grondslag het die land wat deur baie ontwikkelende lande beny is, nou só teruggesak dat die Internasionale Monetêre Fonds onlangs sy voorspelling vir Venezuela se hiperinflasie aangepas het.

Die land se inflasiekoers sal teen die einde van die jaar ’n miljoen persent wees. In Januarie is ’n beraamde 13 000% nog voorspel.

Selfs ná hierdie hersiening lyk dit of die IMF steeds die erns van die situasie onderskat.

Die finansiële ontleder Ecoanalitica van Venezuela beraam die koers van hiperinflasie teen jaareinde op 1,4 miljoen persent.

Met ’n sewesyfer-inflasiekoers is die omvang van Venezuela se finansiële krisis moeilik om te bepaal, maar wat soos ’n paal bo water staan, is dat hierdie ’n mensgemaakte krisis is.

Daar is oplossings en aanbiedings van hulp vir ’n verhongerde bevolking – maar pres. Nicolas Maduro weier om internasionale hulp te aanvaar of om skenkings van voedsel of medisyne in sy land toe te laat.

Ons sien hoe dieselfde scenario hom in Turkye afspeel waar inflasie skerp aan die styg is. Dit is weens pres. Recep Tayip Erdogan se benadering om regeringsposte vir vriende te gee terwyl hy die tesourie manipuleer. Die land se buitelandse skuld het skerp gestyg terwyl plaaslike verbruiksbesteding ook verhoog het.

Hoewel Turkye nog ’n ver pad het om tot op Venezuela se vlak te daal, raak die druk op die land se ekonomie by die dag erger. Verbruikersprysinflasie in Turkye staan tans op 16% en sal na verwagting skerp styg ná die lira, die Turkse geldeenheid, sy waarde met die helfte verminder het.

Dis ook opmerklik dat Erdogan sy populistiese beleid met alle mag verdedig. Hy weier om die ekonomiese verswakking met ongewilde beleidsmaatreëls te beveg en plaas politieke oorlewing bo ekonomiese oorlewing.

Ons moenie vergeet hoe die wêreldekonomie onderling verbind is nie. ’n Mens kan reeds die uitwerking van dié verwikkelings op die rand sien.

Suid-Afrika, met sy oop ekonomie en hoogs verhandelde geldeenheid, het by Turkye aangesteek en die rand het van R13,10/$ aan die einde van Julie tot so laag as R15,50 net weke later gedaal weens skerp verkope van ontluikende geldeenhede.

Hoewel die skuld vir die jongste inkrimping in Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) deels voor die deur van negatiewe ontluikende markte gelê kan word, is dit belangrik om te besef dat die korttermyn-denke en populistiese beleid wat Turkye en Venezuela destabiliseer ook reeds in Suid-Afrikaanse politiek opduik.

Baie Suid-Afrikaners het gehoop hulle sien nou die einde van laataand-aankondigings deur die presidensie wat beleggers op hol jaag. Maar pres. Cyril Ramaphosa het op ’n Dinsdagaand in Julie aangekondig dat die ANC wysigings aan die land se grondwet sou voorstel wat grond sonder vergoeding onteien.

Ons het ook gesien hoe die regering instem tot verhogings bokant die inflasiekoers vir staatsdiensamptenare terwyl hy verbruikers tydelik teen de impak van petrolprysverhogings beskerm. Voeg daarby die voorgestelde instelling van die nasionale gesondheidsversekering (NGV) en beloftes om ’n ekonomiese stimuluspakket van ongeveer R43 miljard te lewer op ’n tydstip dat die fiskus onder groot druk is – en die gevaarligte begin flikker.

Die nuwe administrasie se beleggingsveldtog en ambisie om Suid-Afrika se ekonomiese groei weer te laat opvlam is lofwaardig, maar uiteindelik is die les van ons eweknieë in die ontluikende markte baie duidelik: beleid moet verantwoordelik uitgevoer word met die toekomstige welvaart van die land se sy burgers wat vooropgestel word, eerder as gewildheid op kort termyn of om politieke punte aan te teken.

· Tlotliso Phakisi is ’n beleggingsontleder van Cannon Asset Managers. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer