Venter gee vet in sewende klapper

Lloyd Zandberg
‘Sewe-en-veertig’, die sewende titel in Irma Venter se skitterende S-reeks, is ’n deurtastende riller – superslim en stewig aan die aksiefront – wat diep delf in die konteks van menslike ervarings te midde van tegnologiese vordering, skryf Jonathan Amid.

Is jy ’n Irma Venter-aanhanger, soos hierdie resensent? Dink dan vir ’n oomblik terug aan die fassinasie met landskappe (ook van die gees) en landskapkuns in Skarlaken (2015), Venter se vierde boek, en die onvergeetlike beeld van die voornemende bruid Janien Steyn wie se lyk grotesk gerangskik word in ’n bevrore pan – in haar trourok, met ’n vliegbril en rooi lap, en boonop op ’n fiets.

Skarlaken het Venter se kreatiwiteit onderstreep, en hoewel die daaropvolgende Sirkus (2017) en Sondag (2018) geslaag het wat intrige en storie betref, is Sewe-en-veertig vir my Skarlaken se “spirituele opvolger”. Dié gedagte kom by my op terwyl ek in haar jongste roman lees hoe Janien Steyn se stokperdjie in Skarlaken was om gesigte te bou uit DNS wat sy gekry het op sigaretstompies wat sy langs die pad opgetel het. Sou Venter kon voorspel hoe hierdie gegewe indirek in haar sewende roman sou kom spook?

Sewe-en-veertig is ’n deurtastende riller – superslim en stewig aan die aksiefront – wat diep delf in die huidige konteks van menslike ervarings te midde van tegnologiese vordering, die hiper-bewustheid van ons “bewaakte bestaan” en die gebrek aan teenvoeters en beskerming teen eietydse tegnologie. Die “goeie ou dae” sonder persoonlike inligting wat daagliks willens en wetens gedeel word, is vir altyd verby. Biometriese data wat om elke hoek en draai versamel word – aanlyn en letterlik op straat – is die nuwe normaal. As jy nog nie lekker verstaan wat Big Data, die Big Other en veral Surveillance Capital is nie, beter jy ’n plan maak.

Venter skep spesifieke situasiegedrewe, dikwels onvoorspelbare omstandighede binne ’n bepaalde tydsraamwerk, ’n kuns wat sy oor die verloop van sewe romans vervolmaak het. Net soos Deon Meyer weet sy presies hoe om die gegewe van tyd – as ’n bepalende faktor in die uitkoms van situasies, maar ook as ’n spanningspilpunt – in haar romans aan te wend. Sy pak dit nie in elke roman dieselfde aan nie, maar weet hoe om te midde van jaagtogte, gevegstonele, doller as kopaf-aksie en voortdurende voorwaartse momentum veel te verklap oor die tye waarin ons leef en hoe ons ons tyd verwyl. Die halsband lei nie die hondjie nie: Die bekoring van ’n goeie storie staan nie opsy om vir lesers ’n preek af te steek nie.

Venter spesialiseer in vernuftige randeiers met ontoereikende menslike vaardighede. Sy het ’n swak vir feilbare karakters, elkeen met hul eie morele kodes. Jy gaan nie noodwendig altyd van hulle hou nie, maar hulle dwing respek af, veral ook onder mekaar. Een van die grootste regmerkies vir Venter se S-reeks is die feit dat elke boek, ten spyte van die afwisseling tussen vertellers en perspektiefkarakters, elke hoofkarakter se eie “storie” verdiep. Venter is kontinuïteit se baas. Sy verstaan die verweer van tyd en trauma op haar mense. Die delikate balanseertoertjie – om deurgaans geloofwaardigheid te behou, maar in elke boek organies nuwe intriges te skep en seker te maak daar kom nie ’n oordosis van “krisisse” oor elkeen se pad nie – is kernbelangrik. Dit wen lesers se vertroue. Karakters gaan ook konsekwent optree, al word hulle voortdurend onder geweldige druk geplaas, en in voeling met hul aard reageer.

Sewe-en-veertig ondersoek wat dit vir miljoene mense beteken om (on)bewustelik akteurs te wees in ’n globale netwerk. Het enige van ons werklik ’n idee van die “dossier” wat oor ons en ons verlede – en huidige belangstellings, voorkeure en patrone van aktiwiteit – saamgestel sou kon word? Hier is ’n klapper van ’n spanningsroman wat lesers beloon met Venter se mees onvoorspelbare raaisel tot nog toe. Ek sien dit as ’n soort locked room-raaisel met ’n bepaalde groep rolspelers wat elk ’n aandeel het in ’n sekere uiteinde, maar die kinkel is dat die “geslote kamer” so groot is as wat die speurder – die leser self – hom of haar kan verbeel. Vir elke (vals) leidraad wat die skrywer soos klikaas uitgooi, kom nog ’n ander paar skrikwekkende moontlikhede by die leser op.

Sewe-en-veertig se geskakeerde intrige is geskoei op gegewens wat sinjaleer, stuk-stuk, in ’n klomp konsentriese sirkels, ’n enorme Venn-diagram van ineengestrengelde brokkies wat op die ou end perfek sin maak. Die stryd woed tussen so vinnig as moontlik probeer lees om uit te vind wat volgende gebeur, en juis stadiger, meer intensief lees, namate die detail begin saampak. Naderhand maak die druppels wel die emmer vol.Sewe-en-veertig is die sewende boek in die S-reeks; daar kan met reg verwys word na die “volmaaktheid” of “heiligheid” wat die roman nastreef. Dit is nie die geval dat hierdie roman “perfek” is nie, eerder dat die vertelling – bondige, weerbarstige brokkies wat elk kort hoofstukke vorm, met afwisselende perspektief, en die keuse om sowel plaaslike ruimtes soos Kaapstad met nuwe oë te bekyk en te beskryf, as die “vreemde” landskap van Japan so lewensgetrou moontlik vas te vang – die roman so nommerpas en bevredigend maak.

Met die lees van elke nuwe aflewering van Irma Venter besef ’n mens dat die skrywer dit skynbaar moeiteloos regkry om die komplekse eenvoudig te laat lyk, en dít wat op die oppervlak na iets heel onskuldigs en eenvoudigs lyk te kompliseer sodat dit ’n bron van intrige en konflik kan word.

Wees voorbereid daarop om die stryd tussen afwagting en asemskep te verloor. Ek is ’n sucker vir die wyse waarop Venter haar navorsing en inligting weergee; grense tussen spanningsfiksie en die soort besinning wat ons gewoonlik in niefiksie vind, krimp teen ’n stink spoed. Gewis moet fiksie deesdae toenemend tred hou met die skrikwekkende werklikheid: Dit is nie fiksie wat meer “vreemd” is nie – die waarheid self is nou vir ons amper totaal onverteerbaar. Tog kan ons nie genoeg daarvan kry nie. Want elkeen se waarheid verskil en kul en verhul.

Die sewende boek speel af in die Kaap. Dis weer die beurt van die kuberkraker Sarah Fourie en die afgetrede polisieman Jaap Reynecke om saam met ’n splinternuwe karakter, Mosela “Mosi” Mosholi, agter die kap van die byl te kom. Binne 24 uur, volgens Mosholi se The Liberary, ’n maatskappy wat spesialiseer in die insameling en ontleding van data, sal daar ’n moord wees, die vierde in ’n fyn beplande reeks. Te midde van slimfone, hommeltuie en algoritmes moet die trio data met daadwerklike speurwerk kombineer om die wie, hoe en hoekom uit te snuffel.

Wat beteken dit as ons sê die wêreld word al hoe kleiner? Van watter wêrelde praat ons? En vir wie?

Die digitale datasentrum is net so kernbelangrik soos enige draaie en dwaalspore. Data word een van die gevaarlikste wapens denkbaar. Die spore van wat jy glo jy kan sien, en die ondergrond waarvan ons nie eintlik die vaagste benul het nie. Moorde en misdadigheid gepleeg met die druk van ’n enkele knoppie.

Volg Venter se vroulike huursoldaat met haar voorliefde vir spesiale masserings, tatoes en militêre agtergrond, en vergelyk dit ’n bietjie met die huurmoordenaars van Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg: ’n Behoorlike subgenre van huurmoordenaarsliteratuur neem onder ons neuse vorm aan.

Venter se roman verskyn nie per toeval in dieselfde kwartaal as Etienne van Heerden se magistrale Die biblioteek aan die einde van die wêreld nie. Die twee romans praat voortdurend en luidrugtig met mekaar; die verskillende biblioteke in Venter en Van Heerden se romans maak ons opnuut bewus van hoe elkeen die kruin ry van ’n leespubliek se honger na eietydse stories met ’n dodelike feitelike onderbou. Daar word indringend gekyk na identiteit, privaatheid en die liggaam en gesig as karteerbare landskap. Einde, of begin?

Venter bly een van my gunstelinggidse deur die duiselingwekkende, dawerende nuwe wêreldorde.

En vir die dinamiese sewende aflewering het ek net een woord: skitterend!

Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!