Verbeel jou Afrika só
Die veelbekroonde en enigmatiese Breyten Breytenbach gesels hier in 'n openhartige onderhoud oor sy afsku van magsvergrype en strewe na 'n betekenisvolle “saambestaan” in Afrika.
Ronelle Rademeyer - In die atrium van een van die stad se luukse hotelle wag ek Dinsdagoggend op die “maer man in die groen trui”.
Breyten Breytenbach.
Enigmatiese digter, prosaskrywer, skilder en dramaturg.
Vurige sosiale aktivis. Verfoeier van magsdronk hegemoniste en politieke bullebakke.
En eertydse “albino terroris”.
Hy dra nie 'n groen trui toe hy nader stap en groet nie. Op sy swart T-hemp is die rooi embleem van die Imagine Africa-reeks publikasies waarvan hy die redakteur is.
Breyten is saam met sy vrou, Yolande, in Windhoek op uitnodiging van die Sokratiese Forum vir 'n oop gesprek oor 'n nodige onderwerp met die lang opskrif: “Utopia in a Season of Anger, Confusion, Despair & Uprising: Modernities & Our Inner Africas”.
Dit is sy eerste besoek aan Namibië. Hy is beïndruk. Sy eerste indrukke van die land is goed.
Ons sit aan vir wat hy twee ure later beskryf as 'n “deurmekaar monoloog-sonder-kop-of-stert onderhoud”.
Sy beskeidenheid is roerend.
“Die maer man in die groen trui” blyk onbewus te wees van die impak en omvang van sy reusebydrae tot die kulturele landskap van die Afrikaner, Suid-Afrikaner en Afrikaan.
Wat staan vir jou uit in jou herinneringe aan jou grootwordjare – eers as plaaskind en later op Wellington?
“Wellington was 'n rustige dorpie, omring deur wingerde en plase, deur plaaswerkers en boere. Vars produkte en vrugte soos koejawels was daar volop.
“Daar was nie veel ontspanningsplekke nie. Wel darem Nel's Kafee in die hoofstraat en die swembad. En dan was daar die uittogte na Groenberg en Bainskloof. Dit was maar die kenmerke van die dorp destyds. Ek dink dit is vandag tot 'n mate steeds so.
“My ouers se ou losieshuis, die bôrdienghuis Grevilleas, is nou die bekende Breytenbach Sentrum, werklikwaar 'n voorbeeldige instansie. Dit is so genoem na my ouers. Ek weet mense is geneig om die verbinternis met my te maak, want ons mos baie lui in ons denke. Maar nee, dis na hulle vernoem en ek is nie daarby betrokke nie.
“Destyds, toe dit bekom is van die munisipaliteit, het die familie wel 'n rol gespeel. En daar is 'n bepaling dat daar altyd iemand van die familie op die raad sal wees.
“Die wonderlike is dat die ruimtes in die plek genoem is na Ounooi en Oubaas . . . Soos Ounooi se Spens en Ounooi se Jaart byvoorbeeld.”
Gepraat van Oubaas. Is daar nog bitterheid in jou gemoed omdat jy in 1989, toe hy op sterwe gelê het, nie deur die apartheidsregering die tyd gegun is om behoorlik afskeid te neem nie?
“Ons was in daardie stadium in Swaziland en ek en Yolande is nie toegelaat om gelyktydig in Suid-Afrika te wees nie. Van Zyl Slabbert het my met sy motor gaan haal en toe ons in Grahamstad by Oubaas kom, is ek 24 uur gegun om afskeid te neem. Daarna moes ons terug Johannesburg toe waar Yolande vir my gewag het. Hulle het haar toegelaat om tot in Johannesburg te kom en by die Slabberts vir my te wag.
“Ons moes elke aand aan die owerheid rapporteer en sê waar ons oornag het.
“Bitterheid . . ? Wat kan 'n mens maak? Dit was verstarde, agterlike mense. Ek noem hulle die mense met die grys harsings. Hulle was bullebakke gewees. Ek praat nie net van die mense wat uitvoeringe gegee het nie. Van hulle met die groot hande wat moes slaan nie. Hulle is nie die eintlike kwaaddoeners nie, ek praat van hulle wat die bevele gegee het.
“Ek praat van die politici wat deur hulle tande gelieg en nie die minste omgegee het nie; wat magsdronk was.
“Dit is onregverdig dat mense geslagte daarna nog daarvoor moet betaal. Vandag weet hulle van niks nie, botter kan nie in hulle monde smelt nie. Hulle dra kortbroeke en geruite hemde en woon op plase. Hulle sakke is vol geld en hulle gaan rustig dood. Hulle is presies maar soos Zuma.
“Die destydse randfigure in die tweede gemeenskap . . . daardie mense soos Johan Degenaar, N.P. Van Wyk Louw en Jan Rabie, asook verskeie stemme in die bruin gemeenskap, het hulle gewaarsku. Maar hulle wou nie luister nie.
“Die hegemonisne . . . dit was soos 'n aar, soos 'n geen wat deur hulle geloop het. Dit was maklik om iemand of iets te demoniseer. Alles wat van buite was, was demonies. Alles wat van Afrika was, was demonies.
“Daar is geen manier waarop jy dit kan regverdig nie. Géén manier nie.”
Jy en jou broer, kol. Jan Breytenbach (stigter van 32-Bataljon) is op die oog af baie uiteenlopend. Hoe kom julle oor die weg?
“Ek dink nie ons sienswyses was so uiteenlopend nie. Hy was maar net so romanties ingestel soos ek. Hy het toevallig veel meer moed as wat ek ooit gehad het. En hy het daardie pad gekies en dit met eer geloop. As hy sy woord gegee het, het hy dit gestand gedoen.
“Hy was nooit lid van die heersende orde nie. Hulle (die Broederbond) het hom genader, maar hy het nee gesê. Hy was nooit deel van die magstrukture nie en ek dink dit is hoekom hy nooit verder as 'n kolonel bevorder is nie, alhoewel hy elke keer as hy die kursusse vir bevordering gedoen het, eerste gestaan het.
“Wat ek van hom waardeer, is dat hy hierdie vreemde, Middeleeuse idee van eer het.
“Sy groot nalatenskap sal wees sy omgee vir die natuur en die dier en die boeke wat hy daaroor geskryf het. Hy is terloops 'n uitstekende skrywer. . . baie beter as ek.
“Verder natuurlik ook sy lojaliteit en gehegtheid aan die manne self. Ons lyk 'n bietjie na mekaar, so dit het al baie gebeur dat ek iewers is en dan kon van die oudstryders na my toe, heel aangedaan en wil omtrent my hand soen.
“Sy groot seerkry in die lewe is die mense wat destyds betrokke was en wat nou so swak behandel word, veral die spoorsnyers wat na Pomfret geneem is. Hy huil elke keer as hy daaroor praat.”
Dit is nou 30 jaar ná die Dakar-ekspedisie onder aanvoering van jou en Van Zyl Slabbert. As jy terugkyk op die pad wat gestap is, wat is jou gevoelens?
“Baie van hulle wat saam was na Dakar (in Senegal) het 'n hoë prys betaal vir daardie ontmoeting destyds met die ANC. Hulle het hul poste verloor of moes uit hul beroepe tree. Ek praat van mense soos Theuns Eloff, wat in die bediening was.
“Ek was soort van 'n bemiddelaar van buite wat vooraf verskeie gesprekke met die Senegalese owerheid gevoer het. Suid-Afrikaners is nie daar toegelaat nie en spesiale vergunning moet verkry word.
“Die Wes-Afrikane is baie sensitiewe mense; baie ontvanklike mense en ek dink hulle is ook baie wyser as ons. Ek dink ons is absoluut totaal onnosel om nie meer gereeld by hulle te gaan kers opsteek nie. Ons mense, die Suid-Afrikaners, is arrogante, dom donners. Daar is groot ooreenkomste tussen die vorige bewind en die huidige bewind. Maar dit net terloops.
“Die gemeenskapsleiers, kerkleiers, kulturele mense, besigheidsmense en akademici wat destyds Dakar toe was, almal mense wat nie polities direk verbonde was nie, het 'n potensieel magtige wêreld toeganklik gemaak vir die ANC in ballingskap.
“Die ANC in sy almagtige wysheid het ongelukkig daarna besluit hy kan net mag erken wat gelyk is aan sy eie en het gekies om eerder met die Nasionale Party te onderhandel. Baie wonderlike mense is totaal geïgnoreer. Mense soos Alex Boraine, André du Toit, Jannie Gagiano, Van Zyl Slabbert, Mike Savage en Johan Degenaar.
“Met die 30 jaar-herdenking wil ons hierdie jaar begin om huis skoon te maak sodat ons die sleutel onder die mat kan sit. As iemand anders dit wil hê . . . die sleutel is daar, gebruik dit.
“Skielik het die ANC nou baie belangstelling begin toon in hierdie geleentheid. Maar hulle wil dit op 'n baie hol manier, 'n baie soort van retoriese manier vier. Hulle wil nie hê die werklike, onderliggende problematiek van wat die afgelope 30 jaar gebeur het, en wat op so baie vlakke 'n totale fiasko is, moet na vore kom nie.
“Kyk, daar is wonderlike dinge ook en 'n mens sou nie wou hê dit moes anders verloop het nie. Maar as ons nie van die angs, die armoede, en die ontnugtering van die jongmense kennis neem nie, het die Dakar-herdenking geen betekenis nie. Sien jy die probleem? Ons wil dit saam met hulle doen, maar op 'n sinvolle wyse.
“Die ANC en die SAKP was nog altyd baie meer sensitief vir kritiek van links as van regs. Hulle weet hulle gaan gekonfronteer word oor die misbruik van politieke mag. Hulle weet hulle gaan gevra word hoekom hulle ontrou is aan hul eie beginsels.
“Wat het julle gemaak met die verwagtinge? Is dit waar of is dit nie waar nie dat daar nou 'n groter gaping is tussen ryk en arm? Dít is die vrae, en hulle weet dit.
“'n Groot dankbaarheid vir my was die totstandkoming van die Gorée-instituut in 1992, hoewel dit nie direk verband gehou het met die Dakar-ekspedisie nie. Die behoefte is wel toe al geïdentifiseer dat daar so 'n instelling moet wees vir die opneem van kennis en ervaring uit Wes-Afrika.
“Die instituut is 'n Pan-Afrikaanse, burgerlike samelewingsinstansie sonder regeringsbande en met sterk internasionale en plaaslike steun. Ons lei verkiesingsbeamptes, ons is betrokke by konflikberading en die skakeling met internasionale instansies soos die Europese Unie (EU) namens die burgerlike samelewing.”
Wat het skeefgeloop in die ANC?
“Die probleem is korrupsie, onbevoegdheid en waarskynlik 'n psigiese gekneldheid. Iemand soos Jacob Zuma is waarskynlik gewoon 'n psigopatiese geval. Ek dink as 'n mens eers begin lees en skryf op 20, is daar so 'n diepgewortelde minderwaardigheid waarvan jy nie wegkom nie.
“Verder is ons is nie 'n deursigtige kultuur nie. En ons het nie iets soos 'n oop gesprek gehad nie. Degenaar en Van Wyk Louw het so hard probeer, maar ons is nie 'n kultuur wat bearbei word deur die intellektuele of en selfs deur morele oorwegings nie.
Jy is deel van die groep Gelyke Kanse wat 'n hofaansoek ingedien het om Stellenbosch Universiteit se taalbeleid te hersien. Hoe sien jy die toekoms van Afrikaans?
“Dit gaan vir Gelyke Kanse oor die behoud van Afrikaans in al sy uitinge. “Saam daarmee, gaan dit vir my daaroor om tot die bittereinde te baklei teen die magshongeres wat net aanhou plunder, want dit is nie die manier waarop 'n nasie gebou word nie. Ons sien die resultate daarvan in Afrika. Daar is nie een enkele staat of regering of bewind in Afrika wat voldoen in die normale vereistes van sy burgers nie. Dit is nie dat die bronne nie daar is nie. Dit is 'n kwessie van verkeerde prioriteite.
“Dit gaan vir my oor die instandhouding van die wisselwerking tussen ons oorkoepelende, samebindende waardesisteme. En dat ons dit doen met die inagneming van die diversiteit, van die teksture en verskille, van die wonderlikhede wat opgesluit is in ons kulture, ons streke, ons klimate, ons tale, ons gelowe en selfs ons kosse.
“Gelyke Kanse is absoluut suiwer en reg in sy beginsels en beweegredes, maar ons het nie 'n kat se kans nie. Ons het teen ons die boereverraaiers, die hanskakies, die vervreemdes, die mense wat nou weier om in hul eie huise, met hul eie kinders Afrikaans te praat.
“Hulle het nie 'n idee waarvan hulle praat nie. Hulle het nie 'n idee wat dit beteken om te sê ek is deel van Afrika nie. Hulle het die Fariseërs se mag in hulle hande. Hulle is kleinburgerlike, gekoloniseerde Kolonie-produkte. Hulle woon in Stellenbosch agter hul witgekalkte mure en hulle dink as iemand in Amerika tog net van my kennis neem, dan het ek dit gemaak. Want ek weet mos my taaltjie is 'n agterlike taal. Ek weet mos my taaltjie is 'n kombuistaal.
“Ons vra nie vir 'n verskanste posisie vir Afrikaans nie.
“Hulle hoef nie na te dink oor waar Afrikaans vandaan kom nie. Hulle hoef nie eers daaroor te dink dat Afrikaans miskien die enigste inheemse produk van Suid-Afrika is nie.
“Hulle hoef nie na te dink oor wat ontbeer jy as jy nie jou eie taal het nie? Hoe dom word jy nie, hoe gevoelloos word jy nie? Hoe moet jy jou verbeeldingsvermoë inperk nie? Hoe moet jy omgaan met diere en mense en blomme as jy nie jou taal het nie? Daar is tog 'n rede hoekom hierdie goed gebeur. Daar was tog 'n proses. Maar goed, hulle hoef nie hierdie goed te erken nie.
“Ons vra nie vir 'n bevoorregte posisie nie. Hulle manupileer die hele storie en sê ons wil teruggaan na waar ons voorheen was. Dit is nie waar nie.
“Wat ons vra, en dit is baie sorgvuldig so gestel, is gelyke kanse; gelyke moontlikhede. Hou op om Afrikaans af te kraak. Maak dit moontlik vir die kinders, maak dit normaal, moet hulle nie intimideer nie. Maak dit vir hulle moontlik om daardie keuse te maak en te sê ek praat nog van huis uit Afrikaans en ek wil nog my taal, my wetenskappe of my geesteswetenskappe in Afrikaans beoefen.
“En dan sê hulle ons het nie die vermoë nie, ons het nie geld nie. En dit is nonsens daardie. Daar is praktiese oplossings.
“Hoekom kan ons nie baat by die rykdom wat ons skakeer nie? Gebruik die Boere, gebruik die Afrikaners, bruin en wit, as uitstekende, wonderlike voorbeelde van agente vir transformasie. Hulle is van nature bedonnerd en bebliksem, hulle gaan woon op hul eie op plase en probeer om 'n stuk woestyn mak te maak. Maar hul basiese instink is reg, hulle is pioniersmense. Hulle kan omgaan daarmee. Gebruik daardie mense – hulle het nie voorbehoude nie.
“Hulle het hul eie morele wêreld wat gekondisioneer is deur geloof, en deur 'n mate van ootmoed en ootmoedigheid, en dit is wonderlik. Dit beteken ten minste hulle gaan op 'n goeie manier om met die mense met wie hulle saamlewe, waarmee hulle saamwerk. My goeie genade, hoekom moet jy hierdie mense ekskommunikeer?
“Dít is waaroor gelyke kanse gaan.
KASSIE
Om te Breyten
Breyten Breytenbach, die derde van Hans en Kitty Breytenbach (of Oubaas en Ounooi) se vyf kinders, is op 16 September 1939 op Bonnievale gebore. Ná hy sy vroeë kinderjare op plase by Bonnievale en later Riversdal deurgebring het, verhuis die gesin in 1948 na Wellington.
Daar het sy vader eers 'n winkel en later die Grevilleas-losieshuis op die dorp besit. Dit staan vandag as die Breytenbach Sentrum bekend nadat dit in die vorige dekade met die ondersteuning van die Breytenbach-familie gekoop en opgeknap is. Hier vind werksessies, skryfskole en kunsuitstallings plaas. Dit is, soos die leuse lui, nie 'n plek van opgee, afgee of weggee nie, maar van aangee. By dié sentrum gaan dit nie oor verdeel of opdeel nie, maar oor deelname en deelword.
Ná Breyten in 1957 as hoofseun aan die Hugenote Hoërskool op die dorp matrikuleer, skryf hy in vir 'n B.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad en studeer in Afrikaans en Nederlands onder Boerneef, J. du P. (Canis) Scholtz en D.J. Opperman.
Terselfdertyd studeer hy ook kuns aan dié universiteit se Michaelis Kunsskool en sê die skilderkuns bly sy eerste liefde en hy verkies die kwas bo die pen.
Hy reis later na die buiteland en gaan vestig hom in die vroeë sestigerjare in Parys, Frankryk, waar hy een van die mees prominente stemme in die Sestiger-beweging word.
In 1962 trou hy met Yolande Ngo Thi Hoang Lien, 'n Parysenaar van Viëtnamese afkoms. Hy raak in daardie tyd al meer betrokke by anti-apartheidsorganisasies, veral nadat Yolande in 1965 'n visum geweier word om Suid-Afrika te besoek sodat hy die A.P.B.-prys vir Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes in ontvangs kan neem.
Op 19 Augustus 1975 word hy op die lughawe Jan Smuts in hegtenis geneem nadat hy die land met 'n vals paspoort onder die skuilnaam Christian Jean-Marc Galaska binnegekom het. Sy aanhouding is ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme en vyf van die mense met wie hy na bewering in Suid-Afrika kontak gehad het, word ook aangehou.
Min Namibiërs weet dat die Windhoeker, adv. Pieter Henning, SC, hom destyds verdedig het.
In sy gesprek vroeër die week by die Sokratiese Forum, verwys hy met toegeneentheid na die vriendskapsband tussen hulle.
Met die aanvang van die verhoor op 21 November daardie jaar, pleit Breyten skuldig. Enkele dae later vonnis regter P.M. Cillié hom tot nege jaar gevangenisstraf, al het beide die staat onder leiding van die prokureur-generaal, dr. Percy Yutar, en Henning 'n maksimum vonnis van slegs vyf jaar gevra. Verlof tot appèl teen die vonnis word in Desember 1975 en weer in Maart 1976 geweier.
Die Afrikaanse Skrywersgilde doen herhaaldelik aansoek dat Breytenbach toegelaat word om in die gevangenis te skryf en te skilder en dat sy vonnis versag word. Toe sy moeder op 4 April 1978 onverwags aan 'n hartaanval sterf, word hy verlof geweier om die begrafnis by te woon.
Yolande kon hom net twee keer per jaar besoek.
Vroeg in Desember 1982 word hy na bietjie meer as sewe jaar vrygelaat. Kort daarna verklaar Breyten dat dit feitlik onmoontlik is vir 'n blanke Suid-Afrikaner om deur swart vryheidsvegters as bondgenote aanvaar te word. Hy sien nie vir hom 'n verdere rol in die politiek nie en hy en Yolande keer terug na Parys waar hy die volgende jaar Franse burgerskap aanvaar.
Benewens 'n ateljee in Parys, koop hulle ook 'n lappie grond in Katalonië, Spanje, aan die voet van die Pireneë.
Die Breytenbachs het een dogter, Daphené.
(Bron: Wikipedia)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie