Verbeter produksie met voerdoeltreffende diere
Verbeter produksie met voerdoeltreffende diere

Verbeter produksie met voerdoeltreffende diere

Vee met die beste voeromset word deur middel van residuele voerinname geïdentifiseer, wat dui op die verskil tussen wat ''n dier na verwagting moet vreet en wat hy in der waarheid inneem.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



“Voerdoeltreffendheid is van groot ekonomiese belang. Die voordele verbonde daaraan om jou kudde se voeromset te verbeter, weeg swaarder as die koste omdat dit jou wins­gewendheid verbeter.”

Prof. Norman Maiwashe, hoofbestuurder van die landbounavorsingsraad van Universiteit van die Vrystaat se diere­produksie-instituut, het tydens die afgelope Nasionale Brahmaansimposium in Windhoek gepraat oor die Brahmaan se bydrae tot verbeterde voerdoeltreffendheid in die nasionale kudde.

“Verbeterde voeromset sluit in dat onderhoudskoste vir jou koei-kalf-kudde tussen 9 en 10% kan krimp, die vrystelling van metaangasse met 25 en 30% kan verminder en dat 5 tot 20% minder beesmis produseer word.”

Volgens hom moet boere nie tyd bestee aan seleksie vir eienskappe wat nie direk tot hul winsgewendheid bydra nie en moet hulle stygende koste probeer oorkom deur die doeltreffendheid van hul produksie te verbeter.





VOERDOELTREFFENDHEID

“Voerdoeltreffendheid is ''n belangrike voorvereiste vir meer doeltreffende produksie. Die rede hiervoor is omdat voerkoste ''n groot gedeelte van boere se produksiekoste in ''n koei-kalf-stelsel is.”

Maiwashe sê boere moet beter gebruik van voer maak. “Voerdoeltreffendheid behels dat meer vleis van minder voer geproduseer word, wat beteken meer geld word uit minder hulpbronne gegenereer.”

Hy sê in die 1950''s was die voeromset vir beeste gemiddeld sowat 10:1, wat beteken 10 kg voer was nodig om 1 kg vleis te produseer. Tans is dit 6:1.

“Die dilemma met voerdoeltreffendheid is dat groot diere geneig is om baie te vreet – wat moont­lik dui op ''n ongunstige verbintenis tussen sekere genetiese eienskappe. Hoe breek ons hierdie verhouding?”

Maiwashe sê dit word gedoen deur na ''n eien­skap genaamd residuele voerinname te soek.

“Dit is onafhanklik van die onderhoud- en produksie-­vereistes van die dier. Dit verwys na die verskil tussen wat ''n dier, volgens sy grootte en produksie-vlakke, na verwagting moet vreet en wat hy in der waarheid inneem.

“Doeltreffende diere is die wat minder vreet as wat van hulle verwag word. Die wat meer vreet as wat ons verwag, is ondoeltreffende diere. Hierdie is ''n 30% oorerfbare eienskap en gevolglik is dit belangrik dat diere hiervolgens geselekteer word.

“Brahmaan-boere gee aandag aan voerdoeltreffendheid en meet dienooreenkomstig sekere eien­skappe, soos byvoorbeeld dat hul diere aangepas en gehard is. Ons moet egter direk data versamel om hierdie inligting te bekragtig,” het hy gesê.





BALANSEERTOERTJIE

Maiwashe sê die probleem is dat genetiese eien­skappe verwant is aan mekaar en deur die een te verbeter, kan jy ''n ander ook verbeter of versleg.

“Dit is hoe dit in die natuur werk en dit maak genetiese verbetering moeilik. Dit is ''n balanseertoertjie. Om hierdie uitdaging die hoof te bied, moet ons ''n holistiese benadering handhaaf om die totale genetiese waarde van ''n dier te verbeter en alle aspekte van produksie in ag neem.

“Die Brahmaan-telers van Namibië is proaktief in verband hiermee en het reeds ekonomiese of N$-indekse ontwikkel. Dit laat hulle toe om vir winsgewendheid te selekteer.”

Maiwashe sê egter dis baie moeilik om diere se prestasie sonder data en inligting te verbeter.

“Om genetiese verbetering te dryf, moet ons in kollektiewe data belê.”





IMPLEMENTEER

SELEKSIEPROGRAM

“Die eerste stap tot verbeterde voeromset, is om data oor vee se voedselinname te versamel. Residuele voerinname word as seleksie-kriteria vir voerdoeltreffendheid gebruik omdat dit nie ongunstig met enige ander eienskappe verbind word nie,” het hy gesê.

Volgens hom moet navorsing gedoen word om vas te stel watter formules benodig word om vir verbeterde voeromset te selekteer. Genetiese parameters moet vasgestel word en gepaardgaande teelwaardes moet ontwikkel word.

Maiwashe sê verskillende tegnologieë word binne ''n voerkraal-­opstel gebruik om data in te samel. “Die Calan-hekstelsel­ word al vir meer as dertig jaar in Suid-Afrika gebruik. Meer onlangs het die GrowSafe-stelsel ingekom, wat tans in Namibië gebruik word. Verder bestaan daar ook die Intergado-stelsel in Brasilië asook True-Feed.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!