Verbeterde verbruikerswelstand skep nuwe geleenthede
Vraag na gesonde, voedsame en veilige voedsel al groter
Dr. Kobus Laubscher
Onlangse navorsing deur die internasionale groep McKinsey & Co oor verwagte verbruikerspatrone in die hersteltyd ná die pandemie verdien aandag.
Dié navorsing het gehandel oor verwagte tendense ten opsigte van verbruiksbesteding as 'n manier om beter te voel en om as teenvoeter vir die omvang van die inperkings te dien. Hieruit is dit duidelik dat die verbruiker met die vermoë om te kies waar en hoe hy/sy hul geld wil bestee, nie net diverse behoeftes gaan vervul nie, maar baie meer ingestel gaan wees op die uitkoms van hul besteding.
Wat 'n mens tans sien ten opsigte van die drastiese toename in aanlyn kos aankope, moet met sorg herlei word na strategie.
In die haas om bereide kos vinnig by die verbruiker te kry, geld keelafsny-kompetisiebeginsels. Die klem val verkeerdelik op die spoed van aflewering. Dit sluit beskikbaarheid in, gevolg deur die koste van die ete en in hierdie proses kom heilsaamheid nouliks op enige lys van oorwegings.
In die meeste gevalle het dié kitskos 'n plaas-oorsprong, maar die produsente-aandeel in daardie verbruikersrand word al hoe kleiner. 'n Gaar hoenderpastei is bekostigbaar omdat dit so min as 11% vleis plus die styselkomponent van die deeg bevat, terwyl die koste van die dienste om die produk daar te stel plus die wins van die transformasie die uiteindelike bekostigbaarheid bepaal.
Heilsaamheid word gemeet aan die veiligheid van die produk, die verpakking en die gemak.
Prysgedrewe verbruik is aan die orde, maar die nuwe navorsing toon dat goedvoelbesluite in die toekoms anders gaan lyk. Namate verbruikers meer kan bestee en beter oor dié besteding kan besluit, is daar 'n hele mandjie oorwegings wat in ag geneem moet word.
Die navorsers het ses sulke drywers geïdentifiseer en aan die hand van 'n opname in 'n aantal lande getoets.
Die sestal aanwysers is eerstens beter gesondheid, en dit strek verder as goeie medikasie en aanvullers. Verbruikers neem al hoe meer beheer oor hul gesondheid deur middel van die gebruik van allerlei toepassings, tele-medisyne en selfmedikasie onder leiding van erkende aanlyn dienste. Tweedens is daar groter besorgdheid oor persoonlike fiksheid, want met die inperkings is mense aan bande gelê en is plaasvervangende praktyke gevolg vir hoe om fiks te bly/word in jou eie woning. Ook hier is die toepassings (of apps) legio, maar is daar juis kommer oor die verliese wat nog nie ingehaal is nie.
Derdens is daar hernude fokus op beter voeding. Behalwe dat kos steeds goed moet smaak, moet kos ook die welstandsdoelwitte ondersteun. Hier kan die landboubedryf 'n belangrike rol speel, van die plaas tot die vurk. Meer hieroor later.
Die vierde en vyfde komponente gaan oor voorkoms en verbeterde slaappatrone. In die laaste instansie gaan dit oor verbeterde bewustheid van wat saak maak om beter te kan voel en dienooreenkomstig te kan lewe.
Opsommend dui die opname op 'n ander siening van die verbruiker en alhoewel die opname onder eerstewêreld-omstandighede gedoen is waar die meeste verbruikers kan bekostig om hiervolgens te leef en te eet teenoor miljarde mense wat net kan eet en doen wat hulle kan bekostig, is daar lesse te leer.
Die landbou bly die vernaamste kosvoorsiener. Die verbruiker eet weliswaar nie koring of 'n skaap nie, maar die produkte vorm die basis van wat uiteindelik op die verbruiker se vurk beland. Tot nou is daar dalk 'n oorgerustheid hieroor by die produsent wat uit dankbaarheid agteroor wil sit en dink hy het sy bydrae gelewer om honger mae vol te maak. Dit is nie genoeg nie. Dieselfde sorg wat aan die dag gelê word om 'n veilige produk by die plaashek te hê, moet deurvloei tot by die verbruiker.
Trouens, boere moet nou nog meer seker maak dat die waardeketting inderdaad waarde toevoeg tot sy produk en wel so dat dit voorrang geniet as dit kom by die bediening van die verbruikers se goedvoelstrewe.
Dié verbruiker wil meer weet en sien van die produk en as daardie behoefte nog nie bestaan nie, is dit die verantwoordelikheid van selfs die boer om toe te sien dat sy produkte wel voorkeurstatus het juis omdat die verbruiker beter sal voel met gesonde, voedsame en veilige voedsel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie