Verbod op hengel van Swakop se kaai nou wet
Des Erasmus - Swakopmund se ou ysterkaai is toe vir vistermanne.
Ná hewige argumente van langer as twee uur, amperse vuisgevegte en dreigemente van inhegtenisnemings is ‘n ou munisipale verordening afgedwing dat nie langer van die ou pier af gehengel mag word nie.
Kennisgewings dat hengel verbode is, het reeds op die gerestoureerde ou erfenisstuk verskyn. Ingevolge dié verordening is Swakopmund se strate ook skoongemaak van al wat ‘n smous is. Aansprake dat munisipale goedkeuring bestaan vir die verkoop van makalaniepitte, beursies, brille, edelstene en kos is ook nietig verklaar. Daar bestaan geen sodanige goedkeuring nie.
Sekuriteitsinstansies, verkeersinspekteurs en die polisie is aangesê om op te tree. Die smouse mag hul ware nou net in ‘n aangewese en geordende gebied naby die Strandhotel in die Mole aanbied.
Dié optrede spruit uit ‘n byeenkoms tussen belanghebbendes in die toerismebedryf en die munisipaliteit waar op die munisipale verordening van 1989 afgekom is. Dit is net nooit toegepas nie. Die munisipale regulasie het vanjaar wet geword ná bekragtiging deur die eertydse administrateur.
Hengelaars het nogtans voortgegaan om van die loopvlak van die kaai af in te gooi menende ‘n hengelpermit is al wat vereis word.
Die konsessiehouer oor die ou ysterkaai en verwante restaurant op die punt en oor die see, mnr. Quinton Liebenberg, het aan Republikein gesê daar word opgetree nadat die situasie op die ou kaai onhoubaar geword het. Hy het simpatie met hengelaars wat hulle daar gedra het, maar nagtelike orgies deur kleiner groepies hengelaars het dié optrede genoodsaak.
Selfs nadat op die toepassing van die verordening besluit is, het van die nagtelike eskapades steeds voortgeduur. Dit is ongeordende vistermanne wat ná middernag, selfs ná 02:00, van die kaai af ingegooi het en daar kom mors en besoedel het. Hewige argumente het ontstaan toe so ‘n groep van agt vistermanne laat in die nag aangesê is dat dit verbode gebied is. Van die vistermanne het selfs aangevoer hulle is wettig daar en dat eerder teen die gesamentlike kontingent van die polisie, sekuriteitsinstansies en die buurtwag opgetree moet word.
AANLOOP TOT VERBOD
Liebenberg het aan Republikein van die voorvalle geskets wat tot die toepassing van die verbod gelei het. Beeldmateriaal bestaan van hengelaars wat teen die wande van die ou struktuur staan en urineer. Daar was ook bewyse van ontlasting op die pier. Visaas en die binnegoed van vangste het op die loopvlak gelê en beweringe bestaan van selfs gooinette wat gebruik is om vis of kreef te vang. Volgens hom was selfs skoonmaakspanne nie meer bereid om van die gemors ontslae te raak wat aan die wande van die ou struktuur gekleef het nie. Daar is oor versperrings geklouter en ingegooi net waar hulle wou.
‘n Ou verbod op die vang van kreef in ‘n gebied van 50 meter om die kaai geld lankal.
Nóg ‘n vergryp was leeglêers wat by die ingang van die ou kaai toegangsgeld van toeriste gevra het. Van hulle het N$20 van die besoekers geëis, maar beweringe bestaan ook van tot N$50 wat per wandelaar gevra is.
Smouse het ook ‘n oorlas van hulself gemaak en gevalle is bekend waar tuisgemaakte worsrolletjies daar verkoop is sonder om aan enige higiëniese standaarde te voldoen.
“As dit so sou aangaan, kon ek maar die restaurant op die verste punt van die kaai sluit,” sê Liebenberg.
Die ou kaai het oor twee loopgange beskik, een vir toeriste en een vir hengelaars. Intussen is die hengellaan ook geopen om nou ook deur wandelaars en toeriste gebruik te word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie