Verbod op hout weer van krag

Pogings om onwettige stropery van kosbare bome te bekamp, word in die wiele gery.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die sperdatum vir die wettige vervoer en uitvoer van Namibiese hout het gister verstryk.

Die minister van die omgewing het op 26 November 2018 'n verbod hierop ingestel, waarna die ministerie van landbou, water en bosbou dit tydelik ten opsigte van reeds gekapte hout opgehef het.

Van gister af is die vervoer en uitvoer van alle hout weer onwettig, asook die oes en bemarking daarvan.

Namibië is midde-in 'n stryd om kosbare bome en waardevolle wild teen stropery en misdaad te bewaar.

Laas week was die Verenigde Nasies se kantoor vir dwelms en misdaad (UNODC) in die land om op Swakopmund opleiding aan 27 beamptes van verskeie plaaslike instansie oor bekamping van wild- en woudmisdaad te gee.

Twee byeenkomste is met die finansiële ondersteuning van die Europese Unie en insette van die Amerikaanse Buro vir Internasionale Narkotika- en Wetstoepassingaangeleenthede aangebied.

Daartydens is die grondslag vir Namibië se voorkomende en strafregtelike reaksies teen wild- en woudmisdaad vasgestel, en instrumente ten opsigte van kapasiteitsbou vir aanklaers en ondersoekers ontwikkel.

Beamptes van die ministerie van die omgewing en toerisme, die ministerie van landbou, water en bosbou, die Teenkorrupsiekommissie, die aanklaer-generaal se kantoor, die Namibiese polisie, die finansiële intelligensiesentrum, asook doeane en aksyns was betrokke.

Mnr. Theunis Peterson, hoofbeheerbeampte en hoof van die intelligensie- en ondersoekeenheid by die ministerie van omgewing, het die belangrikheid van hierdie pogings beklemtoon om die natuurlike skatte van Namibië te beskerm.

Mnr. Bartholomeus de Klerk, adjunkkommissaris by die kantoor van die inspekteur-generaal en nasionale hoof van die beskermde hulpbronne-afdeling, het die belangrikheid van samewerking beklemtoon om Namibië se kapasiteit te versterk.

Die hoof van die globale program vir die bestryding van wild- en woudmisdaad, mnr. Jorge Eduardo Rios, het Namibië se pogings geloof en die belangrikheid van proaktiwiteit benadruk.

Benewens wildmisdaad word die uitbuiting van Namibië se bome nou ook 'n ál groter bron van kommer, volgens die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta.

Hy het laas maand in die parlement gesê Namibië se rooshoutwoude kan binne die volgende 20 jaar uitgewis wees. Volgens hom is tot 68 000 skaars houtbome sedert die instelling van die verbod net in Kavango-Oos afgekap.

Pohamba sê sedert die November-verbod het die ministerie 230 aansoeke ontvang om altesaam 200 000 bome af te kap. “Ek vermoed dat permitte vir houtoes sonder omgewingsklaringsertifikate in Kavango-Oos uitgereik en 68 000 bome afgekap is,” het hy gesê.

Shifeta plaas die skuld voor die deur van die ministerie van landbou, water en bosbou wat volgens hom nie voldoende toesig oor houtkappery hou nie.

Die uitvoerende direkteur van landbou, water en bosbou, mnr. Percy Misika, het vroeër aan Republikein erken dit is moeilik om vas te stel hoeveel bome voor en ná die instelling van die November-verbod gekap is.

“Indien meer tyd gegun word, kan die syfers saamgestel en geanaliseer word, gebaseer op die permitte wat uitgereik is gedurende die vereiste tydperk. Verder moet daarop gewys word dat die permitte wat gedurende die afgelope maande uitgereik is, vir tussen 600 en 1 200 bome per plaas wissel. Neem ook kennis dat nie ál die toegelate oesbedrywighede uitgevoer is nie,” het hy gesê.

Die meeste beskermde woude in Namibië is as gemeenskapswoude geproklameer, volgens Misika. Die nuutste lys bevat die name van 43 gemeenskapswoude wat in totaal 8,52 miljoen hektaar beslaan, en in die Noorde en Ooste geleë is. Misika sê die plan is om nog nege te proklameer.

Minstens een van die bestaande gemeenskapswoude, Ncaute naby Rundu in Kavango-Oos, word veral ná donker geplunder. NMH se ondersoekende nuus-span het onlangs op besoek daar op onder meer talle nagtelike aktiwiteite afgekom, met houtkappers wat geskarrel het om voor gister nog balke op die karweiers te kry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!