Verbod op jagfoto's blu00fd
Verbod op jagfoto's blu00fd

Verbod op jagfoto's blý

Drie voorstelle is aan die die omgewingsminister gemaak vir etiese advertering en optrede in die jagbedryf.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het laat gistermiddag ontken dat hy die verbod op die plasing van jagfoto’s op sosiale media en die internet opgehef het hangende ’n vergadering van die jagbedryf oor etiese riglyne vir advertering.

Die president van die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha), me. Danene van der Westhuyzen, het die aankondiging gister gemaak na afloop van ’n ontmoeting met Shifeta oor die aangeleentheid.

Sy sê in 'n nuusbrief in die bedryf die Namibiese Vereniging vir Gemeenskapsgerigte Ondersteuningsorganisasies (Nacso), die Namibia Nature Foundation (NNF) en Wildlife Ranching Namibia (WRN), het Napha gister op dié besoek aan die minister vergesel.

“Ons kan bevestig die inwerkingstelling van die beperking op die plasing van jagfoto’s op sosiale media is vir eers laat vaar totdat die bedryf aan die minister terugvoering kan gee oor sy voorgestelde riglyne vir etiese bemarkingspraktyke in die jagbedryf,” sê Van der Westhuysen.

Die vergadering waartydens daaroor besluit sal word, vind op 27 Julie by Heja Lodge buite Windhoek plaas.

Shifeta was egter gistermiddag toe Denver Kisting van Republikein hom by die Nasionale vergadering daaroor gevra het, oorbluf hieroor en het gesê die verbod is nie opgehef nie.

In 'n telefoniese gesprek later het hy verduidelik Napha het verkeerdelike gedink die verbod geld ook advertensie wat deur professionele jagters en jagplase op die internet verskyn.

"Dit was nooit ter sprake nie, want regulasie 106 van die natuurbewaringsordonnansie bepaal in elk geval sulke advertensies moet deur die minister goedgekeur word. Die verbod het betrekking op die plasing van jagfoto's deur gewone mense en wat niks met advertering te doen het nie," sê die minister.

Hy sê daar was duidelik 'n misverstand tussen hom en Napha oor dié kwessie en voeg by dit is steeds verbode om jagfoto's op sosiale media te plaas. "Dit het niks met advertering te doen nie."

Shifeta het bygevoeg ander belangrike kwessies is tydens sy vergadering gister met die bedryf bespreek, soos riglyne mense wat verhoed dat jagters se optrede die bedryf skade berokken.

Volgens Van der Westhuyzen het Napha en die ander organisasies tydens hul ontmoeting met Shifeta ’n voorlopige pamflet met riglyne aan hom voorgelê. Die plan is om hierdie pamflet deur Air Namibia, die ministerie, die Namibië Toerismeraad (NTB) en al Napha se kantore te versprei sodat die inligting jagters en alle ander partye in die bedryf bereik.

Wanneer jagpermitte uitgereik word, sal dit ook aan die aansoekers verskaf word, sê sy.

’n Ander voorstel aan die minister is dat ’n generiese, goedbewoorde en professionele reaksie voorberei word wat jagters of ander belanghebbendes in die bedryf as teenvoeter op kritiek van buite kan plaas wanneer hulle op sosiale media onder skoot kom.

Derdens stel hulle voor professionele jagters, meesterjagters en jaggidse moet jaarliks kursusse in jagetiek bywoon waarmee hulle punte sal verdien.

Van der Westhuyzen het opnuut aan Shifeta benadruk dat Napha jag “as ’n erkende en volhoubare wyse vir die benutting van ’n hernubare natuurlike hulpbron” wil bevorder.

“Ons sal nooit swig onder druk van enigiemand en ophou om ons dienste, wildlewe en ons land deur middel van wettige jag te adverteer nie. Ons sal wel enigeen voor stok kry wat dit op só wyse doen dat dit die bedryf vernietig,” sê sy verder.

Van der Westhuyzen meen die kwessie is nie of ’n sekere foto oneties of immoreel is nie, want dit is debatteerbaar. Dit gaan daaroor dat advertering só geskied dat die bedryf nie daardeur skade ly nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer