Verbod op kondome in tronke bly
Verbod op kondome in tronke bly

Verbod op kondome in tronke bly

Die Namibiese owerhede sê daar is geen bewyse van MIV-oordrag in gevangenisse nie en gaan nie hul verbod op kondome in tronke ophef nie.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Ondanks bewyse dat gevangenisse MIV-brandpunte is, bly Namibiese owerhede gekant teen die uitdeel van kondome.

Die Namibiese korrektiewe dienste se woordvoerder, komm. Sam Shaalulange, het vandeesweek in 'n amptelike reaksie gesê enige verandering op die verbod op kondome hang van drie sleutelfaktore af: Die dekriminalisering van sodomie, 'n wet wat die verspreiding van kondome toelaat, en “bewyse van MIV-oordrag” binne gevangenismure.

Volgens Shaalulange is daar tans 356 MIV-positiewe gevangenes, maar daar is geen data oor die oordrag van MIV in tronke nie.

Die kwessie van kondome en seks in tronke het onlangs weer opgevlam nadat 'n verslag vir die afskaffing van die verouderde sodomiewet verlede maand aan die ministerie van justisie oorhandig is.

Die verslag beklemtoon hoewel die wet nie sedert onafhanklikwording gebruik word nie, bevorder die wet homofobie en het tot skadelike besluite oor wetgewing gelei.

“Die korrektiewe dienste het geweier om kondome aan gevangenes te gee om die verspreiding van MIV/vigs te voorkom,” het die Kommissie vir Regshervorming en Ontwikkeling gewaarsku.

Shaalulange sê geen "betroubare bewyse of gegewens" bestaan om te bewys dat gevangenisse MIV-brandpunte is nie, ondanks 'n ver­skeidenheid betroubare studies wat kondoomvoorsiening in gevangenisse ondersteun en die hoë risiko om MIV in die tronk te kry.

Sy reaksie was in skrille kontras met dié van die hoof van die Namibiese Korrektiewe Dienste, komm.genl. Raphael Hamunyela, wat vroeër vandeesmaand teen die herroeping van die sodomiewet uitgevaar het.

“Staatsamptenare moenie moraliteit met regspligte verwar nie. Namibië is 'n sekulêre staat, wat beteken dit is nie aanvaarbaar om die siening van enige godsdiens op iemand anders af te dwing nie,” het Dianne Hubbard van die Legal Assistance Centre (LAC) gesê.



BEWYSE

Die Verenigde Nasies (VN) se Gesamentlike MIV/vigs-program (UNAids) het 'n studie gedoen wat bewys dat “seksuele kontak wel plaasvind en dit kan nie in gevangenisse gestop word nie”.

Die studie beklemtoon dat “mense se ontkenning oor man-tot-man seks, veral in gevangenisse, en 'n ooreenstemmende weiering om enigiets te doen wat beskou kan word as 'n vergunning daarvoor” 'n kommerwekkende hindernis is om MIV te takel en vir die handhawing van gevangenes se menseregte.

UNAids het gewaarsku die bekamping van MIV in gevangenisse suid van die Sahara word deur sodomiewette en homofobie belemmer.

Die Wet op Korrektiewe Dienste 9 van 2012 verplig gevangenisdienste om aan “elke gevangene… sover dit prakties moontlik en nodig is… toegang tot voorkomende gesondheidsmaatreëls” te bied.

“Die wet bepaal dat gevangenes die nodige voorsorgmaatreëls of voorkomende gesondheidsmaatreëls moet ontvang met die doel om die verspreiding van of die risiko van enige siekte te voorkom,” het Hubbard gesê.

'n LAC-studie, in samewerking met die Universiteit van Wyoming, oor MIV- en gevangenesregte het gewaarsku “gevangenes sal met of sonder kondome voortgaan om seksuele omgang te hê, hetsy deur dwang of met goedkeuring”.

“Die regering se weiering om kondome te versprei op grond van 'n verouderde wet teen sodomie, is teenstrydig met Namibië se plaaslike en internasionale menseregteverpligtinge.”

Hubbard het 'n konstitusionele appèl­saak in Suid-Afrika uitgelig, waar die hof bevind het korrektiewe dienste kan aanspreeklik gehou word as 'n gevangene siek word weens die gebrek aan gesondheidsmaatreëls.

“Dit is moontlik dat 'n soortgelyke teorie in Namibië gebruik kan word om die regering verantwoordelik te hou vir sy weiering om kondome in tronke te versprei, op grond daarvan dat gevangenes die gevaar loop om MIV en ander seksueel oordraagbare infeksies (SOI's) op te doen terwyl redelike, bekostigbare stappe beskikbaar is om dit te voorkom,” het Hubbard geskryf.



WERKLIKHEID IN

NAMIBIESE TRONKE

'n Voormalige gevangene het in Januarie 2020 aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê “vrywillige seks vind in die gevangenis plaas, veral in ruil vir materiële items en kos.”

Hy het gesê verkragting is algemeen, maar weens die sosiale stigma en diskriminasie, insluitend dié van gevangenisowerhede, praat slagoffers nie uit nie en vra ook nie vir hulp nie.

Die ombudsman, mnr. John Walters, het in 2013 gesê MIV in gevangenisse is 'n kwessie van openbare gesondheid en menseregte.

Hy het gewaarsku die regering se “weiering om kondome in gevangenisse te versprei, is 'n hindernis om MIV-oordrag in gevangenisse te beheer.” 

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!