Verbod op oes van hout
Verbod op oes van hout

Verbod op oes van hout

Alle afkap van en handel in stadiggroeiende hardehoutbome in die noordelike en noordoostelike dele van die land moet onmiddellik gestaak word.
Catherine Sasman
Geen nuwe permitte uitgereik

Catherine Sasman - Die direktoraat van bosbou in die ministerie van landbou, water en bosbou het amptelik opdrag gegee dat die oes van en handel in Namibiese hout opgeskort word.

Die direktoraat het Maandag 'n memorandum uitgereik waarin al sy bosboubeamptes beveel is om alle uitgereikte permitte met onmiddellike effek op te skort en geen nuwe permitte tot verdere kennisgewing uit te reik nie.

Volgens die memorandum is die landbouministerie en die ministerie van die omgewing en toerisme tans in besprekings om met 'n blywende oplossing vorendag te kom vir die vereistes van houtkappery in die land, asook om die "prosedures te harmoniseer".

"Lig asseblief die kliënte in dat alle houtaktiwiteite uitgestel is sodat daar nie beslag op hul hout gelê word nie. Hulle mag nie enige houtprodukte (stompe, blokke en planke) oes, vervoer, bemark of uitvoer nie," het die direkteur van bosbou, mnr. Joseph Hailwa, opdrag gegee.Dit volg ná die skokaankondiging van die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, verlede Vrydag dat geen van die oespermitte wat oor sowat drie jaar uitgereik is, omgewingsklaringsertifikate het nie - wat beteken alle permitte is onwettig uitgereik.

Shifeta het toe 'n beroep gedoen dat alle permitte opgeskort word en gesê sy ministerie sal verseker daar is bewyse daarvan.

Die kabinet het onlangs kommer uitgespreek oor die "beperkte nakoming" van regeringskantore, ministeries en agentskappe rakende die voorbereiding en inhandiging van omgewingsbestuursplanne in die verkryging van omgewingsklaringsertifikate voordat hulpbronne verwyder word.

Die kabinet het beveel dat alle regeringskantore omgewingsbestuursplanne aan die ministerie van die omgewing en toerisme ingevolge die Wet op Omgewingsbestuur van 2007 indien.

Die kabinet het ook dié ministerie, asook die ministeries van justisie, veiligheid en sekuriteit, en landelike en stedelike ontwikkeling beveel om maatreëls te tref om te verseker dat sandmyne en die ontginning van ander natuurlike hulpbronne volgens prosedures gedoen word en dienooreenkomstig betaal word.

NCE

Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), dr. Chris Brown, is verheug oor die opskorting van die permitte, maar het gesê sy organisasie sal voortgaan om te vra vir 'n onafhanklike, eksterne ondersoek na die werking van die bosboudirektoraat wat verantwoordelik was vir die uitreiking daarvan.

Hy het gesê hy sal ook die 62 nieregeringsorganisasies verbonde aan die NCE, veral dié wat deur die onwettige oes, vervoer en handel in hout geraak is, opdrag gegee om ‘n oog te hou oor hoe die verbod waarneembaar geïmplementeer word.

Die NCE het herhaaldelik oor 15 maande 'n vergadering met die bosboudirektoraat versoek en het hul ernstige kommer oor die verwoesting van die woude in die streke van Zambezi, Kavango-Oos en Kavango-Wes uitgespreek.

Hulle is ook bekommerd oor die oënskynlike gebrek aan aksie van die bosboudirektoraat en landbouministerie.

Die NCE het sy kundige en finansiële steun van die private sektor aangebied om die bosboudirektoraat in gebiede te help waar dit nie die voldoende kapasiteit het nie, maar sy pogings tot betrokkenheid by die direktoraat en ministerie het onbeantwoord gebly, het Brown gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!