Verbruikers kan hul waentjies begin voller laai
Verbruikers kan hul waentjies begin voller laai

Verbruikers kan hul waentjies begin voller laai

Slim koop bly die antwoord
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Amptelike inflasie word baie wetenskaplik gemeet aan die hand van verbruikersprysindekse.

Uit ’n mandjie aankope van byvoorbeeld voedsel, word die verskillende komponente teen verskillende gewigte ingelees aan die hand van opnames dwarsoor die land. In die mandjie van inflasiemeters dra die verskillende komponente soos volg by: water, elektrisiteit, gas, ensovoorts 28,4%, gevolg deur voedsel en nie-alkoholiese drank van 16,5%, vervoer 14,3% en alkoholiese drank en tabak se bydrae 12,6%.

Van hierdie inflasiemeters weerspieël die vraag en aanbod. Prysstygings kan die gevolg wees van ongelyke veranderings in die vraag en aanbod soos wat die geval was met die pryse van vleis die afgelope tyd. Die swaar gewig wat water ensovoorts dra, dui op die belangrikheid van institusionele inflasie – met ander woorde die verbruiker moet betaal en sy enigste keuse is om daarsonder klaar te kom. Die verminderde verbruik van duurder krag sal meer geld in die beursie los, maar geen verbruiker kan die prys van dié dienste afdwing nie.

In die geval van kos kan verbruikers minder eet en die vraag daal. As die aanbod nie aanpas nie, daal pryse. Dit gebeur veral wanneer ’n ekonomie in resessie is. Lae ekonomiese aktiwiteite en die gebrek aan ekonomiese groei lei tot ’n afname in vraag en gevolglik daal pryse. Dalende inflasie is bekend as deflasie.

Die prys van vervoer is grootliks afhanklik van eksterne faktore soos die prys van ingevoerde olie, wat weer afhang van die wisselkoers. Tans styg internasionale oliepryse, maar met ’n vooruitsig van óf stadiger stygings, óf selfs dalings namate die uitermate koue winter in die Noordelike Halfrond die wyk neem.

Die sterker wisselkoers buffer tans dié stygings, maar in Suid-Afrika het die hoë brandstofheffing wat vanaf 1 April geld, dié voordele uitgewis. Motoriste wat ná die Pase terugkeer huis toe, se beursies gaan dus ekstra platter wees.

INFLASIE HIER

Binne die voedselmandjie wissel die relatiewe belangrikheid van die verskillende produkte ook. Die goeie nuus is die merkwaardige afname in hooflyninflasie (alle verbruikersgoedere) wat van 3,4% in die tydperk tussen Desember 2016 tot Februarie 2017 gedaal het tot 1,8%.

Vir 2017 was hooflyninflasie 5,2% versus 7,3% in 2016. In Februarie vanjaar was dié inflasie 3,5%, wat die helfte minder was as Februarie 2017 se 7,8%.

Kosinflasie was in Februarie vanjaar slegs 2% teenoor die 11,2% van ’n jaar tevore. Vleispryse het met 7,4% gestyg in die jaar tot Februarie 2018, wat darem ’n effense verligting was teenoor die 10,1% van ’n jaar gelede.

Die verwagting is dat vleispryse op die verbruikersvlak verder kan daal namate onvoldoende weiding bemarking kan vervroeg. Tot dusver was hoë vleispryse die gevolg van ontoereikende aanbod omdat boere kuddes herbou.

Graan en graanprodukte het van meer as 10%-inflasie in Februarie 2017 gedaal tot net meer as 4% in Februarie vanjaar. Dit is goeie nuus vir verbruikers van grane as stapelvoedsel, veral teen die agtergrond van die voldoende graanaanbod in die sub-streek.

Die produkgroep melk, kaas en eiers se inflasie het ook beduidend gedaal van 8% tot 2,8% vir die jaar tot Februarie vanjaar. Die volhoubaarheid van sulke dalende verbruikerspryse in terme van plaashekpryse is tans onder bespreking, want lae invoerpariteit oefen druk uit op die winsgewendheid van melkproduksie in Namibië. As sodanig is die beheer van die oorgrens-invloei van melk ’n beleidsturksvy.

SITUASIE IN SUID-AFRIKA

Volgens die nasionale bemarkingsraad van Suid-Afrika se nuutste voedselmandjieprys-verslag van Maart 2018, is daar ook goeie nuus vir Suid-Afrikaners. Kosinflasie het ook beduidend gedaal tot 3,9% jaar-op-jaar in Februarie, maar vleisprysinflasie bly steeds hoog op 11,4%.

Die raad se 28-produk mandjie met voedselprodukte het in Februarie vanjaar R860,02 gekos teenoor die R874,86 ’n maand tevore, wat beteken dat die jaar-op-jaar styging slegs 1,5% was.

Dit is baie goeie nuus en met verwagte verdere dalings in hooflyninflasie, sal die onlangse verlaging in die Suid-Afrikaanse bankkoers beslis die pyn van die verhoogde belasting op toegevoegde waarde en die verhoogde brandstof heffing wat vanaf 1 April geld, effe versag.

Dalende inflasie beteken dat pryse daal of minder skerp styg, en as sodanig spaar dit die verbruiker se beursie.

Reële inkomste neem toe en uiteindelik vergestalt dit in verhoogde vraag wat weer die ekonomie kan stimuleer.

Verbruikers het egter nog nie ’n vry hand nie en slim koop bly die wagwoord.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer