Verbruikers verstik aan skuld
Verbruikers verstik aan skuld

Verbruikers verstik aan skuld

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Verbruikers het hul kredietkaart- en persoonlike leningskuld, asook hul oortrokke rekeninge by plaaslike handelsbanke binne ‘n jaar met meer as N$1,6 miljard opgejaag.

Volgens die Bank of Namibia (BoN) se jongste syfers het dié skuld teen die einde van Augustus sowat N$10,8 miljard in totaal beloop.

Die jongste beskikbare data van die Namibiese Toesighoudende Owerheid vir Finansiële Instellings (Namfisa) toon verbruikers se totale skuld by mikroleners aan die einde van Maart was bykans N$5,8 miljard – sowat N$850 miljoen meer as ‘n jaar gelede.

“Verbruikers leef steeds bo hul vermoëns,” sê IJG Securities in hul ontleding van die jongste statistiek.

Dat Namibiërs toenemend korttermynskuld gebruik om hul verbruiksbehoeftes te bevredig, toon die druk waaronder hulle verkeer, sê IJG.

Dit is kommerwekkend, aldus die ontleders.

Hoogste in twee jaar

In die jaar tot einde Augustus het verbruikers se oortrokke rekeninge met meer as N$277 miljoen gebult.

Dié styging van 9% is die hoogste in byna twee jaar, sê IJG.

Aan die einde van dié maand het verbruikers in totaal bykans N$3,4 miljard se oortrokke rekeninge gehad.

Skuld wat persoonlike rekeninge en kredietkaarte insluit, het binne 12 maande met meer as N$1,3 miljard of 21,6% opgeskiet.

Dié tipe skuld groei sedert Maart vanjaar met meer as 20% op ‘n jaargrondslag. Aan die einde van Augustus het dit in totaal bykans N$7,5 miljard beloop.

Die BoN se jongste finansiële stabiliteitsverslag toon die verbruiker moes teen die einde van verlede jaar N$95,50 uit elke N$100 se besteebare inkomste in sy beursie gebruik om sy skuld mee te delg.

Geen keer aan resessie

Die verbruiker se hoë skuldlas en die gevolge van die heersende resessie beteken hulle gaan in die komende jare nie ekonomiese groei dryf nie, meen mnr. Rowland Brown van Cirrus Capital.

In sy ontleding van Fitch Ratings se verdere afgradering van Namibië in rommelstatus sê Brown huishoudelike verbruik maak ongeveer 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) uit.

Die jongste syfers van die Namibië Statistiekagentskap (NSA) toon groot- en kleinhandel het in die tweede kwartaal vanjaar met -2% gegroei. Dié sektor is nou 11 opeenvolgende kwartale in die rooi.

Namibië staar in 2019 sy derde opeenvolgende resessiejaar in die gesig.

Brown meen die Namibiese ekonomie gaan volgende jaar voor sy grootste beproewing sedert onafhanklikwording te staan kom.

Tensy beleidsrigtings, soos dié rakende belegging, ingrypend verander, verwag Brown die land sal volgende jaar ook in ‘n resessie vasgevang bly.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer