Verby die punt van breek
Vanjaar se nuwe normaal het baie werknemers tot die uiterste beproef.
Henriette Lamprecht – Die uitdagings van 2020 het mense tot breekpunt gedryf. Waar mense moontlik in die verlede sou staatmaak op meer rooskleurige vooruitsigte, het dié jaar baie moedeloosheid gebring, sê dr. Anina du Toit, kliniese sielkundige van Let’s Talk Psychologists in Windhoek.
“Baie mense moes alternatiewe vind om die pot aan die kook te hou, langer ure insit vir dieselfde betaling en nog boonop kophou met kinders en tuisonderrig,” sê Du Toit.
Sy verduidelik die bykomende stresfaktore van alledaagse oorlewing dra by dat mense minder opgewasse teen uitdagings in die werksplek is. Ook het die grendeltydperk waar mense van die huis af gewerk het, bygedra dat werk moontlik agter geraak of opgehoop het. Bykomende druk is veroorsaak om die agterstand in te haal, wat beteken mense werk langer ure en neem gereeld werk huis toe.
Du Toit sê sy sien nou meer gevalle van uitbranding as ’n jaar gelede.
“Uitbranding het baie te doen met chroniese en langdurige spanning en ek dink dinge het stelselmatig oor die laaste paar jaar as gevolg van die verswakte ekonomie opgebou,” sê Du Toit.
Sy beskryf dit as ’n “intense spanningskwaal wat gekenmerk word deur uitputting as gevolg van oorwerk, met angstigheid, afgematheid, slapeloosheid, depressie en verswakte funksionering in die werksomgewing”.
Du Toit sê dit word nie as ’n mediese kwaal geklassifiseer nie en ook nie in die Diagnostiese en Statistiese handleiding vir Geestesversteurings (DSM 5) beskryf as ’n geestesgesondheidsafwyking nie.
Die Internasionale Klassifikasie van siektes (ICD-11) sluit dit wel as ’n verskynsel in die werksplek in.
Uitbranding het ’n sterk liggaamlike uitwerking met opmerklike simptome wat insluit algehele uitputting, slapeloosheid, paniek, afname in aptyt en selfs ander psigosomatiese klagtes soos hoofpyn, chroniese diarree of gastrointestinale ongemak, verduidelik Du Toit.
Op emosionele vlak kan daar tekens wees van depressie soos lae gemoed, irritasie, buierigheid, moedeloosheid, verswakte konsentrasie, selfdoodneigings, hopeloosheid, besluiteloosheid en ongewone angstigheid wees.
Mense wat oor die algemeen ’n meer negatiewe instelling of bestaande geestesgesondheidsprobleme het, sal dalk meer geneig wees om vanweë die bykomende druk uit te brand, sê Du Toit.
“Mense wat voel hulle is nie in beheer van hul lot nie, dat hulle geen besluitnemingsvermoë het nie en geneig is om ander te blameer, kan ook ’n hoër risiko wees. Individue wat nie beskik oor die nodige vaardighede om balans te handhaaf in hul alledaagse lewe nie en wat geneig is om hul grense te verskuif om ander te akkommodeer, kan ook makliker uitbrand.”
Dit is dikwels die chroniese moegheid wat mense eerste opmerk, sê Du Toit.
“Wanneer ’n mens soggens sukkel om op te staan en dikwels in die nag met gedagtes en kommer oor werksaangeleenthede gepla word, moet mens begin bekommerd raak.”
As daar dan ander simptome soos paniek, verswakte konsentrasie en toenemende irritasie kop begin uitsteek, is dit tyd om hulp te soek, sê Du Toit.
Sy maan uitbranding kan tot chroniese depressie, drankmisbruik en selfs selfdoodpogings lei. Ook is daar die risiko vir gesondheidstoestande soos kardiovaskulêre probleme, hoë bloeddruk en diabetes.
Daar is egter wel stappe wat jy kan neem om uitbranding te voorkom. Dit sluit in van oplossings vir werksdruk, vra vir hulp, ontspanningsoefeninge, ’n goeie nagrus, die stel van gesonde grense, gesonde eetgewoontes, gereelde oefening, oplossings vir die werksdruk, leer om nee te sê en die drink van genoeg water.
“Dis belangrik om ’n balans tussen jou persoonlike en professionele lewe te handhaaf.”
Werkgewers kan seker maak werkslading is in lyn met die werker se kapasiteit, sê Du Toit.
Bespreek die verwagtinge en kom tot ’n ooreenkoms wat vir almal werk. Sy maan goeie kommunikasie is baie belangrik.
“Maak tyd om individueel met werknemers te gesels om uit te vind waar probleme kan ontstaan.”
Stel ’n goeie voorbeeld. As die werkgewer self die risiko loop om uit te brand, kan dit nadelig vir personeel wees, sê Du Toit.
“Handhaaf ’n goeie balans en moedig werknemers aan om na hulself te kyk eerder as om skuldig te voel wanneer hulle aandui dat hulle sukkel.”
Faktore wat kan bydra tot uitbranding onder werknemers sluit in ’n hoë werkslading, negatiewe kultuur in die werksplek, onduidelike rolverdeling, onvoldoende of onbekombare hulpmiddels, swak leierskapstyl, diskriminasie of onkunde.
Roep die hulp van ’n professionele persoon in wanneer jy radeloos is en nie meer weet watter kant toe nie, sê Du Toit.
“As jou gesondheid onder werksdruk begin lei, raak dit krities dat mens ander opsies soek. Besluitnemingsvermoë kan beïnvloed word deur uitbranding en as jy agterkom jy begin maak foute en swak besluite in jou professionele en persoonlike lewe, is dit dalk tyd om ’n professionele opinie te kry.”
Du Toit maan dit is belangrik om realisties te wees oor wat jy kan doen en wat tot later moet wag.
“Maak genoeg tyd vir ontspanning en handhaaf ’n gesonde balans tussen huis- en werksverpligtinge. Hou jou werksure redelik en vat genoeg ruskans in jou werksdag.”
WERK TUIS OOK STRESVOL
Die tydvak waarin mense tans as gevolg van Covid-19 verkeer, veroorsaak baie emosionele en fisieke spanning, beaam me. Lisa Matomola, bestuurder: mense en organisasie by PwC Namibia.
“Uitbranding onder personeel wat tuis werk, is baie moontlik hoog en kan die tyd verminder wat hulle produktief werk,” sê Matomola.
Dit kan sommige werknemers hul belangstelling in werk laat verloor, wat dit vir hulle moeilik maak om op hul daaglikse take te fokus.
Matomola verwys na Eric Garton wat in ’n artikel in Harvard Business Review skryf uitbranding kan ’n maatskappy beduidende bedrae geld kos, sou dit nie getakel word nie. Laasgenoemde kan in die vorm van gesondheidsorg of indirek as gevolg van lae produktiwiteit onder personeel wees.
Die jaar 2020 en die onsekerheid wat hiermee saam gekom het, het vrees onder werknemers én werkgewers veroorsaak, sê Matomola.
“Tuisonderrig en werk van die huis af het baie druk op werkende ouers geplaas. Werknemers is oorlaai met werk, lang ure, geen balans tussen ’n werks- en persoonlike lewe, sowel as onsekerheid wanneer dit by werksekuriteit kom.”
In gesprekke wat sy met lynbestuurders en werknemers gehad het, het elkeen erken werknemers werk langer ure en sit ekstra moeite in.
“Baie het gesien kollegas verloor hul werk, wat vrees veroorsaak het. In die poging om hul werk te verseker, werk hulle harder en langer. In die proses voel hulle daar is geen behoefte of tyd om ’n breek te vat nie, omdat dit hul produktiwiteit en werksverrigting kan strem.”
Matomola sê Covid-19 het as ’n wêreldwye pandemie elke werknemer en werkgewer soortgelyk beïnvloed.
“Kommer dat hulle die virus kan opdoen, veroorsaak stres en angs. Noodsaaklike werkers het nie die opsie gehad om tuis of afstandswerk te doen nie.”
Vir sommige het die feit dat hulle tuis bly en nie as werknemers aan die sogenaamde voorpunt bestempel is nie, hulle onbelangrik laat voel, moraal en werksbevrediging verminder wat op sy beurt veroorsaak dat hulle “onbetrokke” by hul werk voel.
“Die nuwe manier van werk of die nuwe normaal het stres veroorsaak in terme van die bestuur van nuwe kommunikasiemiddele en die hantering van tegniese probleme, sowel as om by nuwe werksomstandighede aan te pas.”
Volgens Matomola het die huidige situasie ook frustrasie en ontevredenheid veroorsaak.
Baie mense kon nie meer aan aktiwiteite deelneem wat hul fisieke sowel as geestelike welsyn ondersteun het nie. Die noodtoestand het paniek veroorsaak, grense is gesluit en mense moes noodgedwonge van die huis af werk.
“Alles het so vinnig gebeur,” sê Matomola. Namibiërs het gevoel asof hulle deel was van die fliek Bird Box met Sandra Bullock waarin ’n “geheimsinnige mag” die bevolking uitwis en oorlewendes van aangesig tot aangesig kom met ’n entiteit wat die vorm van hul ergste vrese aangeneem het.
“Alles het soos blits tot stilstand gekom en dit het nie veel ruimte gelaat om dit emosioneel te verwerk nie. Mense het geliefdes verloor. Daar was beswaarlik ’n enkele plasing op sosiale media of op ’n televisiekanaal wat nie oor die coronavirus verslag gedoen het nie.”
Lewens is verloor, werksgeleenthede is verminder, families kon nie by mekaar kuier nie, mense was in isolasie, ander op hul eie aangewese en ver van hul geliefdes. Dit alles het mense se emosionele welstand beïnvloed, sê Matomola.
Oor wat werkgewers kan doen om hul werknemers teen uitbranding te beskerm en dié wat daarmee gediagnoseer is tegemoet te kom, sê sy werkgewers moet as deel van hul strategie werknemers se welstand bevorder. Organisasies wat dit nie as deel van hul beleidsrigtings het nie, behoort dit te herevalueer en verseker dit is in plek om werknemers te ondersteun wat uitbranding ervaar.
“Sielkundige veiligheid” is baie belangrik, maan Matomola.
“Dis die werkgewer se plig om ’n kultuur hiervoor te skep. As ’n werknemer oor sy of haar werkslading kla of doodmoeg is, moet dit nie gesien word as die persoon is lui en hul werksverrigting oor dié boeg gemeet word nie.”
Leiers moet die beste omgewing vir werknemers skep waarin hulle kan floreer, beklemtoon sy. Dit beteken onder meer deur dit maklik vir werknemers te maak om hulle te benader sou daar enigiets wees wat hulle pla.
Matomola maan dit is noodsaaklik vir werkgewers om hul buigbare beleidsrigtings te herevalueer as maniere om stres en oorlading te verminder.
Foute wat dikwels weens ’n gebrek aan sulke beleidsrigtings insluip, is werkgewers se gebrek om te erken dat werknemers ’n ruskans nodig het.
“Met tye verwag werkgewers van hul werknemers om sonder ophou te werk. Moedig werknemers aan om tyd af te vat sonder om hulle te laat voel hulle is nie noodsaaklik tot die maatskappy nie.”
Erken die waarde wat hulle tot die span bring, maar belangrik is ook om bewustheid te skep oor die organisasie of maatskappy se standpunt wanneer dit by die prioritisering van werknemers se welstand kom.
“As werkgewers is dit noodsaaklik dat hulle ’n werknemer se vrye tyd respekteer wanneer hulle op verlof is. Deur hulle te kontak wanneer hulle weg van die werk is of van hulle te verwag om ten volle beskikbaar te wees, gaan nie die gewenste resultate lewer nie. Met die vordering van tegnologie het werkgewers nou 24 uur per dag toegang tot werknemers. Dit beteken egter nie hulle is altyd op bystand of vry om werk te doen nie, sê Matomola.
As werkgewers is daar stories wat moontlik binne ’n organisasie bekend is oor werknemers wat moontlik uitbranding ervaar het of selfs weens werksdruk paniekaanvalle gehad het. Dit is belangrik om uit dié ervarings en die lesse te leer wat hieruit voortspruit, maan sy.
Tydens bedankingsonderhoude noem sommige werknemers dikwels die rede/s hoekom hulle die maatskappy of organisasie verlaat as werkslading en druk wat hul welstand beïnvloed het.
Dit is belangrik dat werkgewers hierdie inligting gebruik en departemente of afdelings evalueer waarna verwys word, sê Matomola.
“Dié inligting kan krities wees om te bepaal of meer personeel nodig is om dieselfde werk te verrig of moontlik ’n belegging in stelsels wat werknemers in staat stel om vinniger en slimmer te werk.”
Voorstelle vir bykomende strategieë om uitbranding onder werknemers te voorkom, sluit in: Maak seker werksladings is gepas. Bestuurders behoort gereeld van hul werknemers se welstand te verneem om sodoende kommunikasiekanale oop te hou. Erken en vier werknemers se suksesse – dit dra by tot moraal en verminder stresvlakke. Moedig ’n positiewe balans tussen werk en die persoon se persoonlike lewe aan.
Die eerste stap wat ’n werknemer kan doen om hom- of haarself te beskerm, is om bewus te wees van jou emosionele en fisieke uitbranding, sê Matomola.
“Aanvaar en erken dat die liggaam en gees nie die huidige druk kan hanteer nie en dat dit die manier beïnvloed hoe dinge by die werk en ook tuis gedoen word.”
Dit strek egter verder as eie bewustheid en sluit ook in dat jy dié tekens by medekollegas ook erken.
“Die oomblik wanneer ’n werknemer opmerk iemand ervaar uitbranding en wil om een of ander rede dit nie aanvaar of fokus net daarop om te werk nie, is wanneer dit baie belangrik word om met dié persoon te praat.”
Matomola beklemtoon die belangrikheid daarvan om die bespreking van gesondheid onder spanlede te bevorder en te prioritiseer. Dit wys werknemers gee om oor hul eie welstand, sowel as dié van hul kollegas.
Die tweede stap sou wees om uit te reik na lynbestuurders om tyd af of hulp te versoek, sou die emosionele druk aandag van ’n spesialis soos ’n sielkundige of bedryfsielkundige vereis.
“Om met iemand te praat wat geneig is om jou nie te veroordeel nie en na jou luister, is dikwels juis dit wat werknemers nodig het. Al is dit net om ’n spesialis in die bedryf te hê wat hulle kan raad gee oor wat die gevolge van uitbranding is.”
As werknemers uitbranding ervaar, is dit belangrik dat hulle dit noem, sê Matomola.
Deur ’n toesighouer of bestuurder oor die status van die huidige werkslading in te lig, strek tot die werknemer se voordeel, maan sy.
“Dit is belangrik om jou werkslading ongeag die volume te bestuur. Deur vir die persoon te sê wat die werk aan jou toeken dat dit te veel is, maak nie van enigiemand ’n rebel nie. Sê bv. ‘Ek sou jou baie graag met die taak wil help, maar ek het self twee verslae waaraan ek werk wat op dieselfde dag as dié een moet klaar wees. Ek sal daarom nie die sperdatum kan haal nie.’ Die bestuurder of toesighouer sal verstaan.”
Deur nie jou werkslading te kommunikeer nie, sal daartoe lei dat dit moeilik is om dit te bestuur, sê Matomola.
Wanneer die volume werk verhoog, kan die druk en moeite om alles op een slag en betyds klaar te kry, lei tot langer werksure, stres, swak gehalte werk en ’n gebrek aan belangstelling in die take, wat op sy beurt tot uitbranding lei.
Die teendeel is dat ’n werknemer sy of haar werkslading kan bestuur en ’n gehalte produk verseker en tegelykertyd uitbranding voorkom.
Om gesond te eet en te oefen, mag soos ’n cliché klink, maar oefening hou voordele vir die algehele welstand van ’n individu in, sê Matomola.
“Een van die beste manier om stres te bestuur, is deur te oefen. Werknemers behoort hiervoor tyd te maak. Die talle voordele om gesond te eet, is ook deur en deur beproef.”
Matomola maan uitbranding is ’n “ernstige organisatoriese probleem wat die aandag vereis wat dit verdien”.
“Dit is belangrik om ’n omgewing te skep wat ondersteunend is en waar elkeen kan floreer. Maatskappye se kultuur moet meer klem op goeie en positiewe dinge binne die organisasie plaas. Omdat werknemers moontlik onbewus kan wees dat hulle uitbranding ervaar, is gereelde besprekings en bewusmaking hiervan noodsaaklik.”
– [email protected]
KLASSIFIKASIE
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het uitbranding verlede jaar herklassifiseer as ’n beroepsverskynsel eerder as ’n mediese toestand.
In die 11de Hersiening van die Internasionale Klassifikasie van Siektes (ICD-11) word dit in die hoofstuk bespreek wat fokus op faktore wat gesondheidstatus of kontakte met gesondheidsdienste beïnvloed. Dit sluit redes in waarom mense gesondheidsdienste kontak, maar word nie geklassifiseer as siektes of siektetoestande nie.
Uitbranding word in die ICD-11 beskryf as ’n sindroom wat gekonseptualiseer word as gevolg van chroniese werkstres wat nie suksesvol bestuur is nie. Dit word onder meer gekenmerk deur gevoelens van moegheid, negatiwiteit en sinisme oor jou werk en verminderde professionele doeltreffendheid.
Uitbranding verwys spesifiek na die werksomset en moet nie op die beskrywing van ervarings op ander gebiede toegepas word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie