Verdagtes met gesteelde goedere betrap

Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai



Die Erongo-polisie het verlede week drie huisbraaksindikate op Walvisbaai en Swakopmund aangekeer en verskeie gesteelde items teruggevind.

Adjunkkommissaris Erastus Iikuyu van die Erongo-polisie het 'n beroep op die gemeenskap gedoen om inligting te verskaf oor waar Malakia Iyambo Kotokeni, 'n verdagte in 'n huisbraak en diefstalsaak, hom bevind.

Volgens Iikuyu het Kotokeni op die vlug geslaan toe die polisie aangekom het by die kamer waar hy woon.

Enige iemand met inligting kan sers. Povanhu by 081 308 9159 skakel of die naaste polisiekantoor kontak. Die verdagte het na bewering die agterdeur van 'n huis in Neptunestraat op Narraville oopgebreek om toegang tot die huis te kry.

“Hy het na bewering 'n Hp-skoot­rekenaar, drie Samsung-selfone, 'n iPad en N$1 000 gesteel. Die totale waarde van die gesteelde items is nagenoeg N$35 000. Al die items is opgespoor in 'n kamer op Kuisebmond en 'n verdagte (37) is later die dag in hegtenis geneem. Die verdagte het 'n onwettige vuurwapen by hom gehad en ons is besig om die eienaar van die wapen op te spoor. Hy sou Maandag in die Walvisbaai-landdroshof verskyn het.“

Twee verdagtes is Donderdag aangekeer tydens 'n misdaadvoorkomingoperasie in die Tutaleni-gebied. Die polisie het op twee mans afgekom wat twee tasse gedra het. In die tasse was verskeie items insluitende 'n draagbare sweismasjien, klere en skoene.

Die verdagtes is deur die polisie ondervra. Hulle kon egter geen bewys van eienaarskap gee nie en dit het aan die lig gekom dat die items gesteel is.

“Een van die verdagtes het op die vlug geslaan toe hy die polisie sien; die ander een is in hegtenis geneem. Klagte van die besit van gesteelde eiendom, die besit van implemente wat gebruik word om by huise in te breek, en besit van gevaarlike wapens is aanhangig gemaak. Die soektog na die verdagte wat weggehardloop het, duur voort,” het die offisier verantwoordelik vir gemeenskapspolisiëring in Erongo, ao. Ileni Shapumba, gesê.

Drie verdagtes is in die DRC-woonbuurt van Mondesa aangekeer in verband met 'n inbraak wat laat Sondag en vroeg Maandagoggend by Nonidas plaasgevind het.

Die inbrekers het implemente, waaronder 'n sementmenger en 'n yskas ter waarde van N$57 000, gesteel.

Shapumba het bevestig dat die polisie verskeie items ter waarde van N$37 000 teruggevind het en beslag op 'n vierwielaangedrewe Mazda-bakkie gelê het wat die verdagtes gebruik het om hul buit van die misdaadtoneel te vervoer.

“Die florerende mark vir gesteelde goedere is 'n bron van groot kommer. Skootrekenaars, platskerm-TV's en selfone word gewoonlik deur die inbrekers geteiken. Dit dui op 'n aanvraag na hierdie items en diegene van wie 'n mens dit die minste sal verwag, ondersteun dikwels hierdie strafbare optrede.

“Lede van die publiek werk saam wat betref die verskaffing van ­inligting oor ander ernstige misdade, maar dit is baie moeilik vir die polisie om ­inligting te kry wat betref ­huisbraak en diefstalsake. Dit is 'n duidelike ­aanduiding dat daar 'n mark vir gesteelde goedere is. Ons is besig om op te volg en samel inligting in oor diegene wat hierdie on­wettige ­aktiwiteite steun,” het Shapumba gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer