Verdwaalde donkie by die see gered

Anneli Erasmus
Des Erasmus - Die einde van die swerfdae het gister net voor die middaguur op Hentiesbaai vir Feline agter die rob­aanleg aangebreek. Die verdwaalde donkievul het juis die naam gekry danksy haar petieterigheid.
Gistermiddag was sy reeds knus in die stalle op die dorp in die geselskap van drie miniatuur perdjies.
Terwyl die storie van die verdwaalde donkievul deur Eloïse Grobler van die Erum-stalle aanRepublikein vertel is, het Feline met ’n bekvol hooi en ná baie liters vars water meeluistering gedoen. “Kyk die lang hare, kyk die lang ore, die kind moet nog grootword. Sy was so verskrik,” het Eloïse gesê.
“Maar eerstes kom eerste. Ons moet haar eers vet kry en ’n veearts moet haar met sy volgende besoek aan die Dierebeskermingsvereniging ’n bietjie deurkyk. Hier by Erum sal sy nou bly, sy is ons almal se donkie.”
Feline was op stal, maar dit ná dae waarin vergeefse pogings aangewend is om haar te vang. Hentiesbaai is nie donkiewêreld nie en niemand op die dorp het die vaagste benul van haar herkoms nie. Dat die vul maer en uitgeteer is, is gewis.
Feline is verlede week die eerste keer deur padbouers naby die wrak van dieZeila suid van Hentiesbaai en naby ’n soutpan gesien. Die werkers het die vreemde besoeker aan die see by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Hentiesbaai onder aanvoering van Zelda Grobler-Nel aangemeld. ’n Span donkievangers onder aanvoering van karweiers NelSnel het feitlik onmiddellik na Feline gaan soek en haar by die see gekry.
So maklik laat Feline haar toe nie vang nie. Uiteindelik was sy net weer weg. Gisteroggend het ’n boodskap die DBV weer bereik dat Feline naby die kampus van Unam op die Noordduin gesien is. Dié keer het die vangspan uit agt mense in twee bakkies bestaan. Almal was van die stalle Erum en Lukzet op Hentiesbaai wat weer op hul beurt met die DBV skakel.
In haar verswakte toestand het Feline weer probeer vlug, maar gaan lê toe die agtervolgers te naby was. Daar het sy ’n halter oor die kop en ’n geleentheid na die stalle gekry.
“Vanoggend het ons net water gegee en hooi gevoer, maar nou gaan daar ’n bietjie kragvoer van die perde bykom. Dis duidelik dat Feline voor speentyd op haar dwaalweg beland het.”
’n Bietjie sterker het sy reeds met haar stalmaats, die dwergperdjies Shrek, Fiona en Nikita, maats gemaak.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer