• Tuisblad
  • Sport
  • ‘Verdwyn-skuim’ kan nog Barrett-slenters hokslaan

‘Verdwyn-skuim’ kan nog Barrett-slenters hokslaan

Rugby
Die opspraakwekkende beeldmateriaal wat die All Black Beauden Barrett se oneerlike optrede in die toets teen die Springbokke aan die kaak gestel het, het gemengde reaksie in die Nieu-Seelandse media ontlok.

’n Suid-Afrikaner, Pieter van der Spuy, het tonge los gehad toe hy ’n video op Twitter geplaas het wat wys hoe die Nieu-Seelandse heelagter ’n paar meter veld steel voor ’n strafskop in die Rugbykampioenskapstoets teen Suid-Afrika in Wellington.

Tony Smith, ’n rubriekskrywer vir die gewilde Kiwi-publikasie Stuff.co.nz, sê dis ’n verleentheid dat ’n speler van Barrett se klas, ’n veteraan van 76 toetse en iemand wat in tien jaar van eersterangse rugby al meer as 2 000 punte opgestapel het, so opgetree het.

Volgens hom was die skop (van die oorspronklike merk af) so maklik, dat enige eerstespan-skolespeler dit met gemak sou kon oorklits – wat nog te praat van ’n All Black wat al twee keer Wêreldrugby se speler van die jaar was?

Trouens, Barrett kon daardie skop met ’n blinddoek deur die mikke gejaag het, skryf Smith.

The New Zealand Herald was egter meer vergewensgesind jeens Barrett in hul beriggewing oor die voorval en sê selfs “dis onseker of hy dit doelbewus gedoen het”.

Die Herald sê wat Barrett gedoen het is een van die oudste laaie in rugby en beskryf sy optrede as “astrant” eerder as ’n geval van verneukery. Dié publikasie sê ook in sy artikel dat Barrett inderwaarheid die skop vir homself moeiliker gemaak het aangesien die hoek pale toe meer akuut geword het.

Smith sê die assistentskeidsregters in die Wellington-toets (Angus Gardner en Shuhei Kubo) moes meer waaksaam gewees het en moes skeidsregter Nic Berry gewys het op Barrett se skelmstreek.

Hy het voorts ook die voorstel gemaak dat rugby die voorbeeld van sokker volg en van “verdwynskuim” gebruik maak om die merk aan te dui wanneer strafskoppe toegeken word. In sokker gebruik skeidsregters dikwels ’n kannetjie van dié skuim, wat ná ’n minuut weer van die grasoppervlak verdwyn, om aan te dui van waar ’n vryskop geneem moet word en presies waar die verdedigingslinie mag stelling inneem (presies 9,5 m van die vryskopmerkie af).

Dié skuim is in die vroeë 2000’s in Brasilië ontwikkel as teenvoeter vir verdedigers wat veld probeer steel sodra ’n skeidsregter sy rug op hul keer. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!