Vere waai oor hoenderpryse
Vere waai oor hoenderpryse

Vere waai oor hoenderpryse

Belanghebbendes het gehoor wat die meesterplan vir die beskerming van Namibië se ontluikende pluimveebedryf behels.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Daar sal na die pryse van plaaslik geproduseerde pluimveeprodukte gekyk móét word om mededingendheid te verbeter, sê die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, mnr. Tjekero Tweya.

Die minister het Maandag tydens ’n openbare vergadering met belanghebbendes in die pluimveebedryf gesê pryse sal een van die pilare wees waarop die beoogde meesterplan vir die Namibiese pluimveebedryf moet staan.

“Hoë insetkoste vernietig talle nuwe inisiatiewe in die pluimveebedryf. Dit maak dat plaaslike produkte te duur raak en nie langer mededingend is nie.

“Daar is ’n beroep vanuit hoë range in die regering dat daar nie in die vryemarkstelsel ingemeng moet word deur pryse te beheer nie.

“Ons sal egter na pryse móét kyk,” het Tweya tydens die vergadering gesê.

Hy het Maandag se vergadering belê sodat hy “in direkte verbinding” met belanghebbendes kon wees en kon verduidelik waarom die ontluikende Namibiese pluimveebedryf beskerm moet word, het hy gesê.

Dit volg ná ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 28 Februarie vanjaar waarvolgens die kwantitatiewe beperking op die invoer van pluimveeprodukte van 1 500 ton per maand na 1 200 ton verminder is.

Dié nuwe beperking sal op 1 April van krag wees.

Boonop mag die aantal ingevoerde produkte ingevolge dié kennisgewing voorts nie die aantal aankope van plaaslik geproduseerde produkte oorskry nie.

MEESTERPLAN

Tydens die vergadering het Tweya verduidelik die meesterplan sal op vyf pilare staan, wat insluit dat ’n opname gemaak word van hoe die plaaslike bedryf mededingender kan wees – veral wat insetkoste soos voer, elektrisiteit, water en arbeid betref.

Die plan sal binne die volgende paar maande ontwikkel word.

Nog pilare sluit in die ontwikkeling van die land se 740 SME’s en die opstel van produksie- en verbruikerstandaarde.

Ook moet verken word hoe die pluimveebedryf uitgebrei kan word om in die plaaslike vraag na produkte, asook aan uitvoermarkte, te voorsien.

Verder moet handelsbeleide vir die bedryf ontwikkel word, sê hy.

Tweya sê die taakspan vir die meesterplan het hul eerste vergadering op 5 Maart gehou.

’n Studie sal van stapel gestuur word om die werksgroepe, wat elk aan een van die meesterplan se pilare sal werk, van die nodige inligting te verskaf.

Die ontwikkeling van die meesterplan volg op ’n kabinetsbesluit vroeër vanjaar, wat die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling opdrag gegee het om dié plan saam met die ministeries van finansies, landbou, water en bosbou, ander rolspelers asook die nasionale beplanningskommissie te finaliseer.

Tweya sê die idee is dat die mededingendheid van die plaaslike bedryf verbeter moet word wat die produksie van eiers, dag-oud kuikens en braaikuikens betref, asook wat waardetoevoeging by plaaslike produkte betref.

Tans het die bedryf 50 geregistreerde invoerders van pluimveeprodukte, 12 medium- en grootskaalprodusente asook 712 mikro- en kleinskaalprodusente.

Tweya het verduidelik die kwantitatiewe beperking op die invoer van pluimveeprodukte wat reeds op 6 Mei 2013 ingestel is, is ’n tussentydse maatreël wat moet help dat die plaaslike pluimveebedryf ’n kans kry om die Namibiese verbruikersmark te betree.

“Boonop moet dit beskerming teen die storting van buitelandse produkte, asook onregverdige handelspraktyke verleen,” het Tweya gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!