Vergoedingseis teen ministerie misluk
Vergoedingseis teen ministerie misluk

Vergoedingseis teen ministerie misluk

'n Vrou wat die Namibiese polisiehoof, en die minister en ministerie van veiligheid en sekuriteit vir N$1 miljoen gedagvaar het, het die saak weens verjaring verloor.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – 'n Vrou wie se agtienjarige seun deur 'n voormalige polisiespeurder doodge­skiet is, het misluk in haar siviele saak teen die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuri­teit waarin sy N$1 miljoen in onder meer skadevergoeding en begrafniskoste geëis het.

Lazarus Awaseb het op 22 Maart 2016 me. Annaline Motonane se seun, Odilo, met sy dienspistool op Gobabis doodgeskiet.

Regter Marlene Tommasi het Maandag in die Windhoekse hoër­hof beslis die saak het verjaar en is te oud om aangehoor te word.

Die verdediging het aangevoer die Verjaringswet 68 van 1969 vereis 'n litigant om binne 'n tydperk van 12 maande 'n eis in te stel.

“Die eiser het in hierdie geval haar eis meer as drie jaar en ses maande ná die sperdatum ingedien.

Die eiser se saak kan nie verby hierdie wetlike struikelblok beweeg nie en moet daarom van die hand gewys word,” lui die hofstukke wat die verdediging ingedien het.

In Motonane se teenargument sê sy Awaseb is eers in Februarie 2019 skuldig bevind en sy het in dieselfde jaar die klag aanhangig gemaak.

Tommasi het in die verdediging se guns beslis.

Motonane het vir emosionele skok N$100 000 geëis. Aangesien haar seun tot die huishouding bygedra en 'n tweejarige dogter agtergelaat het vir wie sy nou finansieel moet ondersteun, het sy 'n verdere N$860 000 geëis, asook N$40 000 vir haar seun se begrafniskoste.



AGTERGROND

Awaseb is in 2019 skuldig bevind op aanklagte van moord en poging tot moord, asook op alternatiewe klagte vir die nalatige afvuur of hantering van 'n vuurwapen, sowel as die onregmatige besit van 'n vuurwapen en ammunisie.

Die voorval het by Awaseb se meisie, me. Mildred Hoases, se huis in die informele nedersetting Kanaän plaasgevind.

Hoases was glo Odilo se eksmeisie. Volgens Awaseb het hy nie geweet Odilo sou daar wees nie.

Die staat het aangevoer Awaseb het hom in die rug geskiet en die moord is deur jaloesie aangevuur omdat Odilo by Awaseb se meisie was.

Volgens hofstukke was Awaseb nie tydens die voorval aan diens nie.

Hy was ook nie veronderstel om in die besit van sy dienspistool te wees nie. Volgens hofstukke moet dit in 'n kluis by die polisiekantoor gebêre word wanneer hy nie aan diens is nie.

Motonane het Maandag se uitspraak weens 'n noodgeval misgeloop.

Die regter se redes vir Maandag se uitspraak was teen gister nog nie bekend gemaak nie.

Mnr. Thomas Hitjivirue Andima het Motonane verteenwoordig en prokureur Neliswa Tjahikika het vir die verdediging opgetree.

[email protected]

FOTO
Me. Annaline Motonane se seun, mnr. Odilo Motonane, is op 22 Maart 2016 deur Lazarus Awaseb doodgeskiet. Foto Argief

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!