Verkiesing 1ste ware toets vir Trump
Volgende Dinsdag se Amerikaanse middeltermyn-verkiesing sal die eerste ware toets vir Donald Trump se presidentskap wees nadat hy in November 2016 verkies is. Theo Venter kyk na die vraagstukke en bespiegel oor ’n moontlike uitslag.
Theo Venter
Die aanloop tot die verkiesing is in vele opsigte buitengewoon omdat die vraagstukke in die VSA mense gepolariseer het onder die presidentskap van Trump, wat in alle opsigte kwalifiseer as ’n politieke ontwrigter.
Hoewel Trump se gewildheid van die laagste is van alle presidente voor ’n middeltermyn-verkiesing (Gallup het op 14 Oktober bevind dat Trump net 44% steun onder alle Amerikaners het, die laagste sedert 1945), groei die Amerikaanse ekonomie teen ongeveer 4%.
Dit is baie betekenisvol.
Gebeure in die VSA, soos die soveelste massaslagting deur ’n skieter, dié keer by ’n Joodse sinagoge in Pittsburgh, die pypbomme wat per pos uit Florida aan bekende demokratiese leiers gestuur is, en die opmars van honderde mense uit Sentraal-Amerika na die Mexikaanse grens met die VSA, kan die uitslag van die verkiesing bepaal.
Dit is op ’n mespunt gebalanseer.
Sedert die Tweede Wêreldoorlog is die Amerikaanse president tot twee termyne van vier jaar beperk en het die middeltermyn-verkiesing, die verkiesing tussen twee presidentsverkiesings, gewoonlik ’n soort referendum oor die president in die stoel geword.
Volgens hierdie reël behoort die Republikeine, ook bekend as die Grand Old Party (GOP), onder Trump swakker te doen. Maar in die aanloop tot volgende week se verkiesing is dit nie so voor die hand liggend nie.
Ek wil na die kenmerke van die middeltermyn-verkiesing kyk, wat die belangrikste vraagstukke is en die moontlike uitslag.
WAT BEHELS DIE MIDDELTERMYN-VERKIESING?
Dit vind regoor die VSA en sy beheerde gebiede plaas ingevolge die stelsel van ’n enkellid-kiesafdeling, wat beteken die kandidaat met die meeste stemme in ’n kiesafdeling wen. In enkele deelstate is daar kiesafdelings met ’n enkeloordraagbare stemstelsel, maar dit is so min dat dit geïgnoreer kan word.
Die Trump-oorwinning in November 2016 is nou reeds geskiedenis, maar dit is tog relevant vir die komende verkiesing.
Hillary Clinton het twee jaar gelede 65,8 miljoen stemme op haar verenig teenoor Trump se 62,9 miljoen, maar omdat die presidensiële verkiesing deur middel van ’n kieskollege bepaal word, het Trump met 304 stemme teenoor Clinton se 227 geseëvier.
Die rede vir die oorwinning? Clinton het in die getalryke oostelike deelstate (soos New York) en westelike deelstate (soos Kalifornië) gewen, maar Trump het sy oorwinning in die kleiner “fly-over states” behaal; dele van die VSA wie se inwoners gevoel het dat hul stemme nooit gehoor word nie.
Dit maak dit moeilik om die uitslag van aanstaande week se verkiesing akkuraat te peil.
Verskeie verkiesings vind op 6 November plaas op verskillende vlakke van regering.
WAT KAN GEBEUR?
Die VSA gaan ’n baie interessante middeltermyn-verkiesing tegemoet. Dit wil lyk asof die Republikeine wel die klein meerderheid kan behou wat hulle in die Senaat het, maar dat die Demokrate die potensiaal het om beheer van die huis van verteenwoordigers oor te neem. Om dit te doen, moet die Demokrate net 25 setels van die Republikeine afneem om 218 setels uit 435 te hê.
Trump sal steeds met sy huidige beleidsrigtings volhou as dit gebeur, maar dit sal baie moeiliker word om byvoorbeeld die huis van verteenwoordigers te oorreed om geld beskikbaar te stel vir die bou van sy omstrede Mexikaanse muur of om enige betekenisvolle veranderinge aan die gesondheidsorgstelsel aan te bring.
Die moontlikheid om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, lyk egter onwaarskynlik.
Die uitslag van die verkiesing is in vele opsigte belangrik vir Suid-Afrika. Die VSA is ’n baie belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika en die Amerikaanse president het reeds aangedui dat hy bereid is om standpunte oor Suid-Afrika op Twitter in te neem.
* Theo Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die besigheidskool van die Noordwes-Universiteit. Hy was ’n Fulbright-beurshouer tussen 1982 en 1984 in die VSA. – Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie