Verkiesing in Griekeland ’n les in politiek
Die Griekse ekonomie is deesdae ’n kwart kleiner as in 2007, toe die ekonomiese krisis begin het, en die werkloosheidsyfer is 18,1%.
Leopold Scholtz
Die uitslag van voorverlede naweek se verkiesing in Griekeland het interessante implikasies. In die verkiesing is die linkse regering van Alexis Tsipras oortuigend deur die konserwatiewe Kyriakos Mitsotakis verslaan.
Om die politieke les behoorlik te begryp, moet ’n mens begin by die gevleuelde uitspraak van die Duitse staatsman Otto von Bismarck: “Politiek is die kuns van die moontlike.” Anders gestel, die harde praktyk stel grense aan politici se ideologiese vergesigte.
Wanneer dié grense oorskry word, betaal die betrokke lande meestal ’n prys. Adolf Hitler het dit in 1933-’45 op ’n verwoestende skaal agtergekom, maar dié waarheid geld eintlik oral en altyd.
Tsipras het in 2015 in Griekeland as linkse populis aan die bewind gekom. Die Griekse ekonomie was destyds deur die korrupsie en wanbestuur van die konserwatiewe regering in vrye val, en Tsipras het links en regs wilde beloftes gemaak dat hy, deur geld rond te strooi, ’n einde aan die ellende sou maak.
Hy het inderdaad die eerste maande van sy regering op allerlei linkse stokperdjies gekonsentreer.
YSLIKE LENINGS
Dit het die land, toe al diep in die skuld, net dieper in die ellende laat wegsink. En geen enkele maatskaplike probleem is daardeur opgelos nie.
Die deurslag is egter gegee deurdat die Europese Unie (EU), met bondskanselier Angela Merkel van Duitsland aan die voorpunt, Tsipras soos ’n stoomroller platgestoot het.
Die EU het yslike lenings aan Griekeland gereël, maar streng voorwaardes van finansiële dissipline gestel. Merkel het Tsipras by wyse van spreke aan sy hand gevat en aan hom die eerste en belangrikste reël van enige huisvrou verduidelik: Moenie aanhou om meer geld uit te gee as wat jy verdien nie.
Tsipras had geen keuse nie – hy móés luister. En uiteindelik het dit gewerk. Die Griekse ekonomie is deesdae ’n kwart kleiner as in 2007, toe die ekonomiese krisis begin het, en die werkloosheidsyfer is 18,1%.
Maar, mede deur die verstandigheid wat Merkel aan Tsipras opgedwing het, groei die ekonomie weer – verlede jaar met 1,9%, wat maar effens is, maar darem.
Populisme is ’n interessante verskynsel wat baie aandag trek. Baie kortpad gevat, beteken populisme eenvoudig dat politici die wêreld aan hul kiesers beloof en hul opponente in die proses as vyande van die volk, verraaiers, korrup, sleg, ensovoorts voorstel.
Populiste kan sowel links as regs wees. Tsipras – soos Julius Malema in Suid-Afrika – was ’n goeie voorbeeld van ’n linkse populis; pres. Donald Trump is ’n regse een.
Tsipras se val bewys die waarheid van Bismarck se uitspraak: Of jy nou links of regs is, jy moet weet waar die grense van die moontlike is en dit nie oorskry nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie