Verkiesing wys demokrasie groei in Nigerië
Olayinka Ajala ontleed die pas afgelope Nigeriese verkiesing en kyk na die vier sleutelfaktore wat die uitslag bepaal het.
Olayinka Ajala
Die uitslag van Nigerië se onlangse presidentsverkiesing is met gemengde reaksie begroet.
Die verwagting was dat die wedloop tussen die twee belangrikste kandidate redelik gelykop sou wees omdat hulle albei van die noordelike deel van die land kom. Uiteindelik het Muhammadu Buhari egter 56% van die stemme op hom verenig.
Altesame 73 kandidate het aan die presidentsverkiesing deelgeneem, maar die werklike stryd was tussen die leier van die All Progressives Congress (APC) en die People’s Democratic Party (PDP) se Atiku Abubakar, voormalige adjunkpresident van die land.
Ondanks Abubakar se skynbare gewildheid en Buhari se middelmatige leierskap gedurende sy vier jaar as president, was daar vier kwessies wat die uitkoms van die verkiesing bepaal het.
Van hulle het meer te make gehad met Abubakar se swakhede – soos dat hy as korrup beskou word en daar slegte berekeninge van stempatrone in die suide gemaak is – as Buhari se sterkpunte. Maar faktore soos hoë vlakke van spanning in sekere dele van die land, gekombineer met ’n lae stempersentasie, het ook ’n uitwerking gehad.
Die PDP het nie op hulle laat wag om die verkiesing te verdoem nie. Abubakar het die presidensiële verkiesing as die “ergste in 30 jaar” beskryf. Hoewel die presidentsverkiesing nie volmaak was nie, het dit gewys die demokrasie is stadig maar seker besig om in Nigerië ’n vastrapplek te kry.
DIE BELANGRIKE KWESSIES
Eerstens: Nigeriërs was nie beïndruk met die privatiseringsagenda van die voormalige adjunkpresident nie. Abubakar het belowe om werk te skep en die Nigerian National Petroleum Corporation (NNPC), die land se oliekorporasie, te verkoop.
Hoewel dit dalk ’n goeie plan is om die hoogs ondoeltreffende korporasie te verkoop, was die gedeeltelike privatisering van die land se elektrisiteitsektor nie suksesvol nie en het nóg ’n plan om te privatiseer kommer in baie geledere gewek. Gerugte het gou die ronde begin doen dat Abubakar die land se kosbare bate aan sy makkers gaan verkoop. Dit het hom genoop om die bewering in verskeie veldtogte en onderhoude te ontken.
Tweedens: Politieke peilings, veral in die suidwestelike streek van die land, het teen Abubakar gewerk. In 1999, toe Nigerië ná 16 jaar van militêre regering weer na demokrasie terugkeer, was daar ’n ongeskrewe ooreenkoms tussen die magsmakelaars dat die presidentskap al om die agt jaar tussen die Noorde en die Suide sal roteer. Hoewel dit nie konstitusioneel is nie, het die mag wel tussen die Noorde en die Suide geroteer.
Sedert pres. Buhari reeds ’n eerste termyn voltooi het en van die Noorde is, het baie mense gevoel om vir nog ’n noordelike kandidaat te stem sal beteken die Noorde gaan vir 12 jaar die magsetel wees aangesien daar aanvaar word dat elke kandidaat twee termyne van vier jaar elk sal voltooi. Hierdie aanname het baie kiesers uit die Suide teen die noordelike Abubakar laat draai.
Derdens: Buhari se teenkorrupsie-ingesteldheid en die aantygings van korrupsie teen Abubakar het ’n belangrike rol gespeel. In sy boek My Watch het oudpres. Olusegun Obasanjo talle korrupsie-aantygings teen Abubakar, wat sy adjunkpresident was, gemaak. Hoewel hy uiteindelik sy steun aan Abubakar toegesê het, het die onvleiende dinge wat hy oor hom geskryf het teen hom gewerk aangesien uittreksels uit die boek wyd in die media gepubliseer is.
Buhari is weer deur baie Nigeriërs gesien as iemand wat bereid is om korrupsie in die land vas te vat. Dit het in sy guns getel en waarskynlik daartoe gelei dat hy verkies is.
Vierdens: Die gespanne atmosfeer in die land, gekombineer met die swaar militêre teenwoordigheid in sekere dele, het minder mense laat stem. Die gevolg was ’n rekordlaagtepunt van 35,6%.
Die getal geregistreerde kiesers het van 57,9 miljoen in 1999 tot 84 miljoen in 2019 gestyg. Tog het deelname aan die verkiesing bly daal – ’n patroon wat al sedert 2003 duidelik is. In daardie jaar was die kiespersentasie 69,1%, vier jaar later in 2007 was dit 57,4 %, in 2011 was dit 53,7 % en in 2015 43,6 %.
Dié baie lae getalle het albei partye geraak, maar dit het veral die PDP benadeel. Byvoorbeeld: Die party het in 2015 in die Rivierestaat 1,4 miljoen kiesers getrek, maar in die jongste verkiesing slegs 473 971.
Die lae stempersentasie, veral in die suidelike en suidoostelike streke wat as Abubakar se bastionne beskou word, het in Buhari se guns getel.
VRY EN REGVERDIG?
Hoewel verkiesingsverwante geweld op plekke oor die land heen die dood van minstens 39 mense veroorsaak het, is die verkiesing op plekke wat gewoonlik deur geweld geteister word, as vry en regverdig beskryf.
Daarbenewens is daar twee belangrike aanduidings dat die verkiesing grootliks geloofwaardig was.
Eerstens: Die uiteinde vir ’n aantal sleutelindividue soos goewerneurs, voormalige goewerneurs en geslepe politici dui daarop dat die wil van die mense op talle plekke geseëvier het.
Byvoorbeeld: In die senaatsverkiesings is dr. Bukola Saraki, huidige president van die senaat, twee goewerneurs en ses voormalige goewerneurs deur betreklik onbekende kandidate uit die kussings gelig. Hulle is voorheen as onaantasbaar beskou.
Tweedens: Die gebruik van elektroniese kaartlesers het die voorkoms van stembedrog verminder wat dikwels in vorige verkiesings aan die orde van die dag was. Dit is nou moeiliker om verkiesingsuitslae te bekook.
* Ajala is ’n medelektor en konflikontleder aan die Universiteit van York in Engeland. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie