Verkiesingsbeampte gemartel, vermoor

‘n Senior verkiesingsbeampte van Kenia is Maandag dood aangetref, drie dae nadat hy vermis geraak het.
NAMPA
Kort voordat Keniane stembus toe gaan, is die hoof van inligting, kommunikasie en tegnologie van Kenia se Onafhanklike Verkiesing- en Afbakeningskommissie, mnr. Chris Msando, vermoor.

Opposisieleiers waarsku dat die moord volgende week se verkiesings kan ontwrig.

Msando is gemartel voordat hy dood is, het ‘n woordvoerder van die verkiesingskommissie gesê, sonder om verdere besonderhede te verstrek.

Keniane, wat in 2007 moes sien hoe die verkiesing in etniese geweldpleging ontaard, sal volgende Dinsdag hul volgende president, wetgewers en plaaslike verteenwoordigers kies.

Wafula Chebukati, die voorsitter van die kommissie, sê die vraag is nou wie hom vermoor het en waarom. “Ek eis van die regering dat dit sekuriteit vir al die lede van die kommissie voorsien ten einde te verseker dat Kenia vry en regverdige verkiesings het.

Kenia se hoof- opposisiegroep, die Nasionale Super Alliansie (Nasa), het die regering herhaaldelik daarvan beskuldig dat dit probeer om met die verkiesing te konkel.

"Dit is beduidend dat die sleutelpersoon wat moontlik in besit van noodsaaklike wagwoorde was, op hierdie sensitiewe tydstip geëlimineer is,” het Nasa se Musalia Mudavadi op ‘n nuuskonferensie gesê.

"Chris Msando se brutale moord was ‘n poging om ‘n dolk in die hart van die komende verkiesing te steek.”

Die polisie het die voorval as “’n misdaad van ernstige omvang" beskryf en sê ‘n spesiale span is aangewys om die ondersoek te doen.

Otsieno Namwaya, ‘n Afrika-navorser vir Human Rights Watch, het ‘n dringende ondersoek gevra. “Msando se dood kom op ‘n tydstip wat die verkiesingskommissie al sy stelsels sou ouditeer, ‘n week voor die verkiesing,” het hy gesê.

Msando se voorganger is geskors nadat hy geweier het om saam te werk in ‘n ouditering van die elektroniese stelsels, het die plaaslike media in Mei berig. - Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!