Verkiesingskommissie tel weer: Swapo wen steeds

Die Verkiesingskommissie het foute reggestel, maar bevind dat die APP-kandidaat steeds verloor het.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het gister die stembriewe van die streekraadsverkiesing vir die Ndonga Linena-kiesafdeling – wat op 25 November 2020 plaasgevind het – by sy hoofkantoor in Windhoek oorgetel. Swapo se kandidaat, mnr. Kampota Michael Shiwana, het weer gewen.

Die ECN se verkiesingsbeampte vir die Ndonga Linena-kiesafdeling, mnr. Bernhardt Salla Ndumba, het die nuwe resultate aangekondig en gesê mnr. Daniel Balthazar Djami van die All People's Party (APP) het 1074 van die hergetelde stemme ontvang, steeds 20 minder as Shiwana.

Mnre. Patrick Shiyemo Kashera van die Independent Patriots for Change (IPC) het 72 stemme ontvang, en Kassian Kayeya Shipapo van die Popular Democratic Movement (PDM) eindig op 146 stemme.

Volgens Ndumba was daar die keer 20 bedorwe stembriewe.

Die kwessie van bedorwe stemme was die oorsaak van die verkiesingshof se beslissing wat op APP se aandrang die hertelproses op die ECN afgedwing het. Die APP het bewyse ingedien van foute in die waarnemende beamptes se besluite oor die geldigheid van stembriewe.

Nadat die hof die ECN gedwing het om dié politieke party toegang tot die bedorwe stembriewe te gee, is besluit dat al 2386 stembriewe gister oorgetel oes word.

Die hoofverkiesingsbeampte, mnr. Theo Mujoro, sê die ECN het nou aan die hofbevel voldoen. Hy het gesê die hertelproses is gedoen om vorige foute reg te stel. Hy het ook genoem dat al die 22 betrokke waarnemende beamptes na Windhoek gebring is om vir die hele proses teenwoordig te wees.

Hy beklemtoon ook dat die vier partye wat in die verkiesing meegeding het, almal na die hertelling genooi is. Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, het vooraf gesê hulle verwerp die ECN se hertelling en sal nie deelneem nie. Beamptes van Swapo en ook die IPC was nie by die ECN-hoofkantoor nie.

Die APP was teenwoordig, maar die party se sekretaris-generaal, mnr. Vinsent Kanyetu, sê hulle is steeds nie tevrede nie. “Ons stem met 'n potlood. Waar kom die ink vandaan?” wil hy weet.

Volgens Kanyetu het hy self gesien dat op sowat 11 stembriewe met potlood gemerk was en ook weer met pen, terwyl die ECN net potlode vir stemdoeleindes voorsien.

Volgens hom kon ECN-beamptes nie oor die inkmerke antwoord nie, maar het met die proses voortgegaan. “Hulle weet nie, nou wie sal dan weet?” sê hy.

“Elke keer is daar 'n nuwe onreëlmatigheid. Die ECN is nie betroubaar nie. Selfs die beamptes wat hulle hier gebring het, ons van die streek ken hulle; die meerderheid dra Swapo-lidkaarte. Van hulle het kriminele rekords en ander is oudweermag- of -polisiebeamptes.

“Die ECN moet hul huis in orde kry en moet mense van goeie agtergrond aanstel.

“Dié is nie die einde nie, maar net die begin. Môre vergader die topagt van die APP. Die APP sal besluit wat ons sal doen, maar ons sal nog skuldige individue uitsonder en een vir een agtervolg.”

Kanyetu sê: “Ons is 'n vreedsame party en ons vertrou hierdie instansie met 'n nasionale plig, maar om verkiesings te manipuleer en met uitslae te peuter, kan demokrasies vernietig,” dring hy aan.

[email protected]

FOTO’s Augetto Graig

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!