Verkleinde kudde bekommer veebedryf

2021 se nat afskop lig gemoedere, maar die vleisbedryf beleef talle uitdagings.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Namibië se bees- en skaapprodusente het een van die uitmergelendste droogtes in die land se boerderygeskiedenis agter die rug en boere moes hul veestapels sodanig verminder dat die nasionale kudde sedert 2012 halveer is.

Die buitengewoon hoë pryse wat tans op veilings betaal word, is ’n direkte gevolg van die kleiner aanbod en verhoogte vraag te midde van die goeie weidingsvooruitsigte.

Die Boer het vir Piet Gouws, president van die Nambië Landbou-unie (NLU), Thinus Pretorius, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) en André Mouton, hoof van bemarking en verkope by Meatco, gevra wat hulle as 2021 se grootste uitdagings vir produsente beskou.

Piet Gouws, president van die NLU:

2021 het weggespring met ongekende goeie reënneerslae en die gemoedstoestand van 80% plus van ons boere is in ‘n totaal ander kategorie: Opgewonde, positief, dankbaar, innoverend, planmakend!

Ons moet egter perspektief en realiteit behou midde die euforie van die baie waters. ’n Droogte van gemiddeld 8 jaar word nie uitgewis in 1 maand se bogemiddelde reënval nie; daarvoor was die erodering van boere se finansies en veekuddes net te intens.

Verder is daar steeds dele, soos die Noord- en Suidweste wat nog bitter min reën ontvang het en ons bid en vertrou dat hulle ook sal deel in die res van die land se vreugde.

Ons vertrou dat daar voldoende opvolgreën landswyd sal voorkom en dat ons ‘n uitmuntende landboujaar gaan beleef. Skades was daar weliswaar ook, maar reen maak sy eie skade reg terwyl droogte net vernietigend is.

Die feit dat pryse van lewendehawe die hoogte ingeskiet het te midde van ‘n ekonomiese resessie, is juis tekenend van die feit dat kuddes met ongeveer 50% verminder het. Die wat die veegetalle het om te kan kapitaliseer op die goeie pryse, is gelukkig. Die vermoë van die boere om kuddes te bou deur aankope is beperk en ons sal eerder weer ons krale moet vol boer in stede van vol koop. Dit gaan tyd neem – ’n minimum van 3 jaar, en vir beesboere selfs langer.

Die NLU se prioriteit is om vir sy lede ‘n gunstige omgewing te onderhandel met die regering van die dag ten einde elke boer in staat te stel om optimaal te produseer. Daarvoor het ons bestendige markte asook toegang tot winsgewende markte nodig, politieke stabiliteit en doeltreffende misdaadbekamping, handhawing van wet en orde asook verantwoordelike bestuur van probleemdiersituasies is kritiek belangrik.

Om bogenoemde te bereik beywer die NLU hom om sinergieë te ontwikkel en samewerking te bekom tussen alle landbou-organisasies. Die regering bly ons vennoot en dus is goeie verhoudinge met die ministeries van landbou, water en grondhervorming, die omgewing, bosbou en toerisme, finansies, handel en staatsondernemings baie belangrik.

Die NLU het ook korporatiewe vennote en hierdie onontbeerlike vennootskappe moet uitgebrei en gekoester word. Die stem van kommersiële landbou moet op breër forums dieselfde boodskap verkondig en dit is om te belê in die landbousektor sodat die ekonomie kan herstel. Ons het deurgaans tydens die droogte en Covid-19 getoon dat die landbouer ’n stabiliseerder is ten opsigte van werkskepping, voedselvoorsiening, veiligheid en toekomsgerigtheid.

Vir my persoonlik, as president van die NLU, is die behoud van produsente op hul plase van kardinale belang en is ‘n belegging in ons lede ten opsigte van kapasiteitsbou (menswees, leierskap, gemeenskap), finansiële oorlewing, as bydraer tot nasionale BBP,

As stabliseerder van die plattelandse ekonomie, die beste divident.

Indien enige grondeienaar en landbouer nog nie deel is van georganiseerde landbou nie en net die vrugte pluk van ander mense se insette, doen ek ‘n beroep op hulle om deel te word van hierdie dinamiese familie.

Thinus Pretorius, voorsitter van die LPO:

Die reën wat ons ontvang het, is normaal tot bo-normaal, behalwe vir die Suide. In die Suide was die reën ekstreem op party plekke en is die verwagte vyf normale jare wat dit sou neem om Neckertaldam te vul, verkort na slegs 25 dae vandat dit begin reën het tot die dam uitgeloop het.

Die Noordweste van die land het nog slegs jaloersbuie ontvang. Dit is egter nie vreemd dat hulle seisoen eers in Februarie begin nie. Wat egter moeilik is, is om te sien hoe ander gebiede groen raak, maar dit is by jou nog bruin en droog en dít vir die afgelope vier tot vyf jaar. Moed hou, hy sal kom! Bek-en-klouseer (BKS) is vir die produsente suid van die veterinêre kordonheining ’n bron tot groot kommer. Die LPO inspekteer jaarliks die kordonheings en doen verslag aan die relevante owerhede. BKS in die Kavango- en Zambezistreek is 'n algemene verskynsel en word daar jaarlik reaktief hanteer. Wat egter kommer wek, is die instandhouding van die heining, die beheer by kontrolepunte en die beweging van diere oor landsgrense, asook die toepassing van beperkings om BKS te voorkom. Die saak word op die hoogste vlak deur die LPO hanteer en ons insette word positief ontvang. Die rol van die LPO is slegs om te moniteer en te rapporteer. Ons het voorgestel dat die totale kordonheining uitgekontrakteer word vir instandhouding, ten einde verantwoordbaarheid te verseker. Hierdie bly egter 'n groot uitdaging as gevolg van die onderskeid tussen Noord en Suid. Ons is almal bewus daarvan dat die nasionale kudde by grootvee sowel as kleinvee maar ongeveer 50% van die land kapasiteit is. Dit beteken dat daar ’n groot tekort is, wat gevolglik die vraag opwaarts dryf. Nie net is hierdie behoefte plaaslik nie, maar ook internasionaal. Dit het tot gevolg gehad dat ons teen einde 2020 gesien het dat kleinveepryse tot N$100 per kilogram en hoër behaal het. So beleef ons tans dat slagbeeste tot N$60 per kilogram behaal. Dit is 36% hoër as verlede jaar dieselfde tyd. Ons moet dus aanvaar dat die vraag hoog sal bly, maar ons moet ook aanvaar dat die verbruiker se vermoë om vleis te koop, onder geweldige druk is as gevolg van Covid-19 en ander ekonomiese faktore. Ons as landbouer sit met enorme uitdagings. As dit nie die mens-dierkonflik is nie, is dit ons dieregesondheidstatus wat onder beleg kan kom, of die toenemende vlaag van wetteloosheid wat ons voortbestaan bedreig.

Ten spyte van al hierdie probleme kan ons uitsien na môre en is daar hoop. Danksy die reën kan ons weer boer. Solank kopers kla oor hoë pryse is daar ’n ontvanger van hierdie hoë prys wat met sorg toegesien het dat hy/sy iets het om te verkoop.

Ons almal se finansiële vermoëns word getoets, maar ons sal dit oorbrug danksy goeie pryse. Ons moet egter erkenning gee aan die produsente wat daagliks hulle tyd en infrastruktuur opoffer om dit vir die land moontlik te maak om te handel. Of dit nou die regmaak van die kordonheining is, of om in die nag op ’n koppie te sit en sy en ons almal se eiendom teen wetteloosheid te beskerm.

Baie dankie aan hulle. Die wat nie betrokke is nie, raak betrokke, want saam kan ons dit maak werk en kan ons uitsien na 'n ongelooflike tyd wat wag.

André Mouton, hoof van bemarking en verkope by Meatco:

Die beesgetalle is ’n groot probleem, want ons kudde is meer as 50% kleiner. Amper almal besef dit.

Die bemarkbare bees bestaan tans hoofsaaklik uit jong diere en vroulike diere.

Verder het die slagbedryf se aandeel van die totale veebemarking meer geval as wat die lewendehawe-deel geval het. En dan veral Meatco se uitvoerabattoir se aandeel gemeet aan dié van abattoirs wat vir die plaaslike mark slag.

Ons sit op ’n mespunt-situasie. Die hoeveelheid beeste wat die plaaslike mark opraap, is kritiek hoog en baie min bly oor vir die uitvoermark.

Die plaaslike bedryf het verlede jaar net so veel beeste geslag as Meatco.

Waar Meatco in 2019 die hero was toe boere noodbemarking moet toepas en 116 000 beeste geslag het, kon ons in 2020 maar

36 500 beeste slag. Dít terwyl ons kapasiteit van so aard is dat ons130 000 beeste oor die bestek van 12 maande kan absorbeer.

Die beeskudde is tans rondom 800 000 – 400 000 in die noordelike kommunale gebiede en 400 000 suid daarvan. As Meatco 10 persent daarvan in ’n jaar slag, is dit 80 000 en dus ver onder ons kapasiteit. Dit wys die pot het net soveel kleiner geword.

As Beefcor se syfers van 2020 bygetel word, is daar maar 52 000 beeste vir uitvoerdoeleindes geslag.

Dit gaan ons baie jare neem om weer by ’n kudde van 1,2 miljoen beeste uit te kom.

Om te verseker dat produsente regverdige pryse kry, is goeie kompetisie nodig. Die mark moet gebalanseer word. Lewende uitvoere moet met plaaslike en uitvoerverslagting in balans gebring word.

Om dit te balanseer en ons beeskudde te herstel is ’n groot uitdaging en die vleisbedryf sal moet kyk na grensbeheer op lewende uitvoere.

Dit is ’n baie omstrede kwessie, maar as ons nie die lewende uitvoere bestuur nie, gaan ons beesbedryf nie oorleef nie.

Ons het laasjaar ons Noorweegse kwota sonder probleme volgemaak. Interessant is dat ons omtrent net soveel vleis na China as na Norweë uitgevoer het, en min of meer net soveel na die Europese Unie.

Na die VSA het ons net omtrent 500 ton uitgevoer.

Die groot rede daarvoor is dat die Amerikaanse boere baie sensitief is vir kompetisie en kla klaar ons neem hulle mark oor. Hulle inspekteer elkeen van ons vraghouers wat daar aanland.

Hoewel ons in 2020 met Covid-19 met skeepsvervoer gesukkel het en dit soms 120 dae geduur het om ’n vraghouer met vleis in die buitelandse mark te kry, is markte nie ons probleem nie. Daarvan het ons genoeg. Die probleem is deurset by Meatco. As daar nie deurset is nie, beteken dit nie die bedryfskoste neem dienooreenkomstig af nie. Allermins. Dit is ’n “monster” wat baie noukeurige bestuur moet word om steeds mededigende pryse vir produsente te kan betaal.

Hoewel ons verlede jaar danksy die wisselkoers baie goed gedoen het met prysrealisasie en goeie winsmarges gehad het, was dit moeilik om dié “monster” in toom te hou.

Ek verwag dat Meatco vanjaar met dieselfde probleem sal worstel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!